Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mense ry minder rond; maak minder ongelukke

Motoriste ry minder kilometers en dit lei tot ’n afname in eise vir motorongelukke, volgens Outsurance.

Dit lyk vir Outsurance asof al hoe meer mense saamryklubs gebruik soos wat die petrolprys gestyg het. Minder motors op die pad beteken minder motorongelukke.

Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Outsurance, sê die versekeraar het in die boekjaar tot einde Junie ’n daling in eise vir motorongelukke in beide Suid-Afrika en Australië ondervind.

“In Suid-Afrika is die tendens duideliker weens die ekonomiese toestand wat veroorsaak dat minder kilometers gery word en saamrygeleenthede, wat ’n tasbare alternatief vir alleen ry bied,” sê Visser.

Volgens hom dra die voortdurende verbetering in tegnologie om motors veiliger te maak ook tot die laer aantal eise by.

Al dié redes veroorsaak die lae premiestygings wat die afgelope jare op dié soort versekering gesien word. Die styging in premies in Suid-Afrika was in die boekjaar onder inflasie.

Die grootste deel van die Outsurance-groep se inkomste is uit die premies vir die motorversekering van individue afkomstig.

“Die verandering in voertuigtegnologie en rygedrag toon hoekom dit belangrik is om ons versekeringsprodukte te diversifiseer om meer kommersiële versekering en lewensversekering, asook ander korttermynversekering buiten motorversekering te verkoop,” sê Visser.

Outsurance Business

Outsurance bestaan uit twee bedryfseenhede in Suid-Afrika, Outsurance Personal en Outsurance Business.

  • Outsurance Personal, wat motor- en eiendomsversekering aan individue behels, dra 84% van die inkomste uit versekeringskontrakte en 90% van die bedryfswins by.
  • Outsurance Business, wat kommersiële versekering verkoop, is ’n groot strategiese groeipunt vir die onderneming, volgens Visser.

’n Wesenlike belegging is op pad om die aantal makelaars uit te brei wat net Outsurance se versekering aan ondernemings verkoop sodat verkope van aangesig tot aangesig van dié versekering kan plaasvind.

Die belegging is nodig om “winsgewende groei in inkomste te bevorder”.

As gevolg van dié belegging het die nuwe versekeringspremies wat aan ondernemings verkoop is, skerp met 27% gestyg.

Dit het bygedra tot die styging in totale inkomste uit premies, wat met 7% tot R16,1 miljard gestyg het, vergeleke met 0,8% in die vorige boekjaar.

Visser sê dié beter groei is ’n hoogtepunt vir die boekjaar.

Nog ’n hoogtepunt vir 2019 is die sukses wat behaal is met die uitbreiding van die alleen-makelaars wat net verkope vir Outsurance Business doen. Gedurende 2019 het die aantal makelaars wat net Outsurance verkoop, meer as verdubbel.

“Die uitbreiding van hierdie verspreidingskanaal is ’n groot belegging in ons strategie vir groei en diversifikasie in Suid-Afrika.”

Vroeë tekens van die strategie is bemoedigend, maar om so ’n span te skep is kapitaalintensief en vereis ’n belegging oor ’n aantal jare.

“Ons gaan met die uitbreiding op mediumtermyn voortgaan en die belegging gaan waarskynlik in die komende twee finansiële jare ’n hoogtepunt bereik.”

Die groep se bedryfswins het met 9,6% tot R3,1 miljard gedaal. Dit word toegeskryf aan die talle eise vir natuurrampe wat Youi Australia gehad het, en die belegging in bemarking en verkoopsvermoë in die algemeen in die hele groep tesame met die spesifieke belegging in die uitbreiding van die alleen-makelaars vir sy kommersiële versekering.

Die sterkste groei in inkomste uit versekeringskontrakte in Suid-Afrika is sedert 2015 behaal danksy die bykomende belegging in bemarking en die uitbreiding van sy alleen-agente. Die inkomste uit versekeringskontrakte in Suid-Afrika het met 7,5% tot R8,3 miljard gestyg.

Die grootste deel daarvan, naamlik R7 miljard, is van Outsurance Personal verkry.

Die inkomste uit versekeringskontrakte van Youi Australia beloop R7 miljard, ’n 7%-styging.

Outsurance Life

Die invloed van die “resessie-agtige ekonomiese toestande” in Suid-Afrika het ook ’n uitwerking op lewensversekering, wat ’n meer diskresionêre tipe besteding is. Die ekonomie het ’n invloed op die onlangse groei van Outsurance Life gehad, volgens Visser.

Outsurance Life het in die afgelope jaar ook begin met begrafnisversekering, wat die grootste deel van die lewensversekeringsmark in Suid-Afrika is.

Omdat die direkte mark vir lewensversekering en spaarprodukte ’n klein deel van die mark het, gaan Outsurance Life en Outvest (wat beleggingsprodukte verkoop) ’n “omni-kanaal-benadering” volg en mettertyd direkte verkope (van aangesig tot aangesig) bekend stel.

Visser meen kliënte aan wie korttermyn- en langtermynversekering verkoop word, sal in die toekoms beter deur dié manier van verkope bedien word. “Dit gee verbruikers die vryheid om te kies tussen ’n oproepsentrum, persoonlike kontak (van aangesig tot aangesig) en digitale interaksie.”

Die strategie is om op mediumtermyn ’n goeie omni-kanaal te skep.

“Ons glo deur ’n groter reeks versekeringsprodukte te verkoop tesame met die omni-kanaal se vermoë, sal lei tot deurlopende winsgewende groei.”

RMI

Outsurance is deel van die beleggingsbeheermaatskappy Rand Merchant Investments (RMI) wat Dinsdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitgereik het.

RMI se beleggings sluit in belange van 25% in Discovery; 89,1% van Outsurance; 29,9% van die Britse korttermynversekeraar Hastings; en 27,3% van Momentum Metropolitan.

Die markwaarde van dié beleggings het einde van die boekjaar R61,6 miljard beloop.

RMI het ’n finale dividend van 65c verklaar wat onveranderd van die vorige jaar is.

Die totale dividend vir die jaar is 110c vergeleke met 2018 se 104c.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.