Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mercedes se wins gaan val oor VSA-China-oorlog

Die Duitse motorvervaardiger Daimler het pas een van die grootste firmas ter wêreld geword wat sê sy wins gaan daal weens die handelsoorlog tussen die VSA en China.

Daimler, wat Mercedes-Benz vervaardig, sê minder Chinese sal sy sportnutsvoertuie koop weens die invoertarief van 25% wat Beijing pas ingestel het op motors wat vanuit die VSA ingevoer word.

Die meeste van die C-klasmotors en GLS- en GLE-modelle wat in die VSA vervaardig en uitgevoer word, word na China uitgevoer. Die uitgevoerde motors se waarde beloop nagenoeg $1 miljard.

'n Mercedes-Benz S=klas wat deur Daimler vervaardig word.

“Minder as verwagte verkope van sportnutsvoertuie en hoër as verwagte koste – wat nie ten volle aan klante deurgegee kan word nie – moet aanvaar word weens die verhoogde invoertariewe op Amerikaanse voertuie na die Chinese mark,” luidens Daimler se verklaring.

Die maatskappy beskryf die handelsoorlog as die “bepalende faktor” in sy aanpassing van sy winsverwagting. Dit kom net twee maande nadat Daimler voorspel het sy wins gaan vanjaar styg; nou voorspel hy dit gaan effens laer as verlede jaar wees.

China het die invoertariewe ingestel nadat pres. Donald Trump van die VSA invoertariewe van 10% op $50 miljard se Chinese goedere ingestel het. Ná die Chinese tariewe het Trump gedreig dat invoertariewe van 25% op $200 miljard se Chinese goedere ingestel gaan word.

Nicholas Smith, ’n strateeg by CLSA Securities in Tokio, sê ’n volskaalse handelsoorlog lyk al hoe waarskynliker en geen groot nywerheid gaan dit vryspring nie.

MillerCoors, wat die biere Miller Lite en Coors Lite vervaardig, het verlede week gewaarsku Amerika se invoertarief op aluminium – waarvan bierblikkies gemaak word – gaan sy wins met $40 miljoen laat krimp.

“Sinies gesien, reken ek baie maatskappye sal hul verwagtinge oor verkope moet afskaal, maar dit kan ook ’n baie gerieflike verskoning wees,” sê Smith. “Die Europese firmas gaan swaar getref word, die Chinese gaan ’n baie stamperige rit hê – dis die aard van ’n handelsoorlog dat almal verloor.”

Die VSA het in 2017 $505 miljard se Chinese produkte ingevoer en as die oorlog voluit gevoer word, sal al dié produkte met invoertariewe belas word.

China se ministerie van handel het vroeër die week gesê hy is “heeltemal bereid” om terug te baklei deur sy eie tariewe in te stel. In 2017 is $130 miljard se goedere uit die VSA na China ingevoer.

Volgens die ontledingsfirma Evercore voer Daimler en BMW nagenoeg 100 000 voertuie per jaar van die VSA na China uit. Dit kom op $7 miljard se motors neer.

Die winswaarskuwing kom op ’n moeilike tydstip vir Daimler.

Dieter Zetsche, uitvoerende hoof, is in die spervuur omdat dit aan die lig gekom het Daimler se dieselmotors het ook “kultoestelle” wat sy dieseluitlaatgasse onder toetsomstandighede verminder. Dis dieselfde skandaal as die een wat die Volkswagen-groep sedert 2015 omvou.

Altesame 774 000 voertuie moet in Europa herroep word. Daimler het boetes vrygespring, maar word deur ’n aandeelhouer gedagvaar omdat hy glo Daimler het mense oor die omvang van die probleem mislei.

Daimler se aandeelprys het vanjaar al met 15% geval. – Bloomberg

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Daimler  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.