Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Metrorail werk met net 51 uit 88 treinstelle

Metrorail Wes-Kaap is veronderstel om 88 treinstelle te hê maar het net 51 stelle beskikbaar, waarvan 37 boonop onvolledig is.

Metrorail se tekort aan treinstelle lei tot oorlaaide treine en treine wat breek. Dit is benewens die vandalisme wat tot kansellasies van treindienste lei. Foto: Misheck Makora

Richard Walker, streekbestuurder van Metrorail Wes-Kaap, het Woensdag aan die Mededingingskommissie se markondersoek na openbare vervoer ’n oorsig gegee van die stedelike spoorvervoerdiens se probleme.

Die tekort aan treinstelle lei tot oorlaaide treine en treine wat breek. Dit is benewens die vandalisme wat tot kansellasies van treindienste lei.

Die gemiddelde ouderdom van Metrorail se treine is 41 jaar. Dit is die ouderdom waarteen ander treindienste hul treine al lankal sal vervang. Van die treindienste vervang al hul treine as dit net 15 jaar oud raak.

Walker sê Metrorail is van die swakste presteerders vergeleke met internasionale maatstawwe van treindienste en dit het die afgelope jaar verder verswak.

Walker sê die verswakking in dienste is sedert Oktober 2015 al duidelik gesien toe treine aan die brand gesteek is. Sedertdien het Metrorail meer as 120 treinwaens verloor. Jy kan nie ’n treinwa wat deur ’n brand vernietig is gou vervang nie. Hy het ontken dat dit pendelaars is wat die treine aan die brand gesteek het en sê dit was voorvalle waar treine saans ná ure met petrol aan die brand gesteek is.

Walker sê treindienste is die ruggraat van openbare vervoer in die Wes-Kaap. Anders as in ander gebiede gebruik ’n breë deursnit van die gemeenskap die treine, van blouboordjiewerkers tot kantoorwerkers.

Metrorail het in ’n stadium meer as 60% van die markaandeel in openbare vervoer gehad in die Wes-Kaap, maar dit het gekrimp tot 48% en die treindiens vervoer sowat 620 000 mense.

Hoewel ál meer treinpendelaars oorgeskuif het na ander vervoer, wat bydra tot die verkeersknope op paaie, gooi Metrorail nie net sy arms in die lug nie, sê Walker.

Metrorail bou ’n betonmuur langs die sentrale lyn om veiligheid te verbeter. Die projek kos R70 miljoen. Metrorail gebruik sedert die begin van die jaar snags hommeltuie om sekere lyne te monitor vir vandalisme. Meer as 100 oortreders is al gevang. Hulle word vervolg ingevolge ’n wet wat jou tot 30 jaar tronkstraf kan oplê as jy staatsinfrastruktuur vernietig het. Iemand wat onlangs kabels uitgeruk het, is verskeie vonnisse opgelê. Hy wil daarmee sê dat vandalisme nie net meer as ’n geringe misdaad beskou word nie.

Walker sê die mark is baie elasties. Sodra petrolpryse styg of as dienste verbeter, kan gesien word hoe passasiersgetalle toeneem. Hy meen die huidige omstandighede is egter buitengewoon.

Nuwe treine sal hopelik teen einde 2019 en aan die begin van 2020 in gebruik geneem word. Dis dieselfde soort treine wat nou reeds in Gauteng op die Pienaarspoort-korridor gebruik word, sê Walker. Metrorail probeer ook sy bestuur van kontrakteurs wat instandhouding en opknapping van treinwaens doen, verbeter sodat die treinwaens gouer weer in diens gestel kan word.

Meer oor:  Metrorail  |  Prasa  |  Mededingingskommissie  |  Treindienste  |  Openbare Vervoer  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.