Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mike Brown van Nedbank: SA ekonomie is in krisis

Nedbank het sy verwagting vir ekonomiese groei vanjaar tot slegs 0,5% verlaag, en het ook sy verwagting vir sy eie prestasie drasties gesnoei.

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank.

Mike Brown, uitvoerende hoof van die Nedbank-groep, draai nie doekies om oor die krisis waarin die Suid-Afrikaanse ekonomie verkeer nie.

“Heelwat meer dringendheid is nodig met die inwerkingstelling van strukturele hervormings ten einde die ekonomiese en fiskale agteruitgang te stuit wat die Suid-Afrikaanse ekonomie tans beleef.

“As ons dit nie kan regkry nie, sal al die harde werk wat gedoen is om ons laaste beleggingsgradering, van Moody’s Investors Service, te behou, verniet wees, teen groot koste vir alle Suid-Afrikaners weens hoër inflasie en hoër rentekoerse wat sal volg, sowel as laer groei en laer vlakke van indiensneming as wat andersins die geval sou wees.”

Brown maak dié opmerkings in die Nedbank-groep se Sens-verklaring oor sy resultate vir die eerste helfte van sy boekjaar, tot einde Junie.

Nedbank is die eerste van die groot banke wat sy halfjaarresultate uitreik. Standard Bank s’n word Donderdag verwag en Absa s’n op 13 Augustus. FirstRand (moedermaatskappy van FNB) se boekjaar eindig Junie en hy reik dié resultate op 5 September uit. Capitec se resultate vir die boekjaar tot einde Februarie is reeds in Maart uitgereik.

In syfers

Só vergelyk Nedbank se 2019-halfjaar met die 2018-halfjaar:

  • Wesensverdienste styg met 2,6% tot R6,87 miljard
  • Verwaterde wesensverdienste per aandeel styg met 3,7% tot 1 411c
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 3,5% tot 1 435c
  • Inkomste styg met 5,5% tot R27,7 miljard
  • Bedryfswins styg met 7%
  • Tussentydse dividend styg met 3,6% tot 720c per aandeel
  • Bank se kapitaaltoereikendheidskoers verswak tot 11,3% (vanaf 12,4%)
  • Netto batewaarde per aandeel styg met 4,9% tot 17 794c

Die maatskappy sê in die lig van die traer ekonomiese groei, verwag hy nou dat sy verwaterde wesensverdienste vir die volle 2019-boekjaar, tot einde Desember, slegs ekonomiese groei sal ewenaar.

Vir die halfjaar tot einde Junie het die groep sy verwaterde wesensverdienste met 3,7% verhoog.

Die bank sê in sy resultate niks oor die voorgenome aflegging van tot 100 mense wat pas begin is nie.

Nedbank lê in sy resultate klem op vordering wat gemaak is met die bank se digitale kanale. Vanaf Junie is die proses om kliënte op sy digitale kanale te kry, versnel en mense kan nou digitaal aansoek doen om ’n lopende rekening en ’n persoonlike lening.

Die bank beoog om eersdaags ’n nuwe lojaliteitsprogram bekend te stel.

Nedbank belê nou 1,5% van sy netto nabelaste wins in die Youth Employment Service (Yes) en sê dit het meer as 3 300 nuwe werkgeleenthede vir voorheen werklose jong mense geskep.

    Meer oor:  Nedbank  |  Mike Brown  |  Banke  |  Bankbedryf
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.