Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Miller-bier kry (weer) nuwe verspreider in SA

Heineken SA gaan voortaan nie meer Miller Genuine Draft in Suid-Afrika verkoop nie, maar gelukkig vir Miller-drinkers sal dié Amerikaanse bier nie van die rakke verdwyn nie.

Die Amerikaanse bier Miller Genuine Draft word al vanaf 2002 in Suid-Afrika verkoop, hoewel deur verskillende plaaslike drankmaatskappye. Foto: Unsplash

Vir ’n derde keer in Miller Genuine Draft se Suid-Afrikaanse geskiedenis word die reg om dit verkoop weer aan ’n ander drankmaatskappy oorgedra.

Vanaf 6 Augustus gaan Brands 2 Consumer Premium Drinks Company (B2C) die alleenreg hê om dié bier in Suid-Afrika te versprei.

Molson Coors en B2C het hierdie week dié nuus aangekondig en gesê daar is nou ’n langtermynooreenkoms tussen die twee maatskappye, wat aan B2C die eksklusiewe reg gee om Miller plaaslik te verkoop.

Die Amerikaanse Molson Coors besit die handelsmerk wat in meer as 50 lande wêreldwyd gedrink word.

Peter Hart, stigter en direkteur van B2C Premium Drinks Company, sê die langtermyn- strategiese vennootskap met ’n wêreldleier soos Molson Coors verhoog sy maatskappy se vermoë om ’n groter verskeidenheid van internasionale handelsmerke aan klante beskikbaar te stel.

B2C verkoop reeds onder meer Peroni en Grolsch in Suid-Afrika.

“Ons uiteindelike doelwit is om ons bedrywighede uit te brei en onsself as nog ’n groot speler in die Suid-Afrikaanse drankbedryf te vestig.”

Heineken SA het in reaksie op die nuus gesê dit is inderdaad so dat Miller Genuine Draft binnekort nie meer deel van sy handelsmerk-aanbieding aan die Suid-Afrikaanse mark gaan wees nie en daarom sal Heineken SA dit nie verder verkoop of versprei nie.

Miller word sedert April 2017 deur Heineken in Suid-Afrika verkoop, maar is voorheen deur die destydse SABMiller plaaslik verkoop.

Toe Anheuser-Busch InBev (AB InBev) in 2016 SABMiller oorgekoop het, moes AB InBev die Amerikaanse belange van Miller weens regulatoriese en mededingingsvereistes prysgee.

Heineken SA het hierna in ooreenkoms met Molson Coors die verkope van Miller oorgeneem.

So het dit dan ook gebeur dat SABMiller toe sonder Molson Coors se Miller sy naam na die bestaande Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) verander het.

SAB is steeds deel van AB InBev.

Volgens Molson Coors en B2C sal die fokus vir eers daarop wees om die bier se aandeel plaaslik te laat groei en weer op dieselfde skaal te begin verkoop as waarop dit voorheen was.

Molson Coors het in sy verklaring sy dankbaarheid teenoor Heineken SA vir die afgelope jare se verkope van Miller Genuine Draft uitgespreek.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sab  |  Sabmiller  |  Heineken  |  Bierbedryf  |  Bier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.