Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Minder Lewis-klante betaal skuld weens inperking

Die inperking oor maandeinde in Maart het R80 miljoen se verlies aan verkope vir die Lewis-meubelgroep beteken, en boonop R180 miljoen verlore laat gaan omdat verbruikers nie hul rekeninge kon betaal nie.

Best Home and Electric
Best Home and Electric is deel van Lewis-groep. Foto: Verskaf

Lewis het in ’n handelsverklaring vir die boekjaar tot einde Maart gesê sy winsgewendheid is onder meer geraak deur die verhoging in debiteurekoste van R277 miljoen, die finansiële uitwerking van die handelsdae wat verloor is en afskrywingskoste.

Debiteurekoste sluit afskrywings en voorsiening vir slegte skuld in. Die meubelgroep sê die voorsiening vir slegte skuld is tot R210,8 miljoen verhoog, hoofsaaklik weens die potensiële probleme wat Covid-19 op die verwagte betalingsgedrag van klante skep.

Die groep se kernwins per aandeel gaan na verwagting tussen 25% en 37% laer wees.

Die groep het in Mei aangekondig hy gaan die uitsteltyd gebruik wat die Finansiële Gedragsowerheid (FSCA) aan ondernemings ten opsigte van hul finansiële verslagdoening en ouditproses gegee het.

Sy resultate vir die jaar word op 25 Augustus uitgereik.

Invloed op verkope

Die groep se verkope het met 4,7% tot R3,7 miljard in die boekjaar gestyg.

Ná ’n stewige styging in verkope van byna 7% in die eerste elf maande het die begin van die inperking op 27 Maart ’n wesenlike invloed op verkope in dié maand gehad.

Verkope het met 24% gedaal vergeleke met dieselfde maand ’n jaar gelede.

In Maart is net 44% van die verbruikerskuld betaal wat betaal moes word.

Die groep sê sy sterk balansstaat het verseker dat die bestuur dit nie nodig gehad het om lenings te gebruik tydens die inperking nie, ten spyte van die wesenlike daling in kontantvloei omdat winkels gesluit moes word of onder handelsbeperkinge was.

Die bestuur het op die bewaring van kontant gefokus, koste streng beheer en afslag met verskaffers en diensverskaffers beding vir die tyd wat die winkels gesluit was.

Al sy winkels was gesluit van die begin van die inperking af en die eerste verkope het weer op 18 Mei begin onder die vlak 4-inperking en met aanlyn verkope.

Nieteenstaande was verkope in Mei 24% laer as die ooreenstemmende tydperk in 2019.

Die meeste van Lewis se klante betaal hul rekeninge binne die winkels met kontant.

Die bestuur het voor die inperking gebeurlikheidsplanne ingestel om seker te maak rekeninge kan by verskeie groot kleinhandelwinkels wat oop was, betaal word.

Desondanks is net 30% van rekeninge in April betaal vergeleke met 71% dieselde maand ’n jaar gelede.

Die eerste winkels is op 1 Junie geopen toe die hele land na vlak 3 van die inperking beweeg het. Sterk vraag is ervaar en in Junie het verkope met 22% op ’n jaargrondslag gestyg.

In Mei en Junie is 74% van die rekeninge betaal vergeleke met 83% die vorige jaar.

Verkope vir die eerste kwartaal tot einde Junie was egter steeds 30% laer.

Meer oor:  Lewis  |  Inperking  |  Covid-19  |  Verkope  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.