Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Misdaad, emigrasie bekommer Italtile

Twee TopT-teëlwinkels het die afgelope jaar weens misdaad hul deure gesluit.

italtile
Jan Potgieter, uitvoerende hoof van Italtile.

Jan Potgieter, uitvoerende hoof van die Italtile-groep, sê die winkel in Alexandria, Johannesburg, het binne twee weke drie keer onder rooftogte deurgeloop. Die winkel in Mitchells Plain, Kaapstad, het ook gebuk gegaan onder misdaad.

Die maatskappy het nie eens gewag totdat huurkontrakte tot ’n einde gekom het nie – hy het die kontrakte opbetaal en die winkels toegemaak.

“Daar is geen manier waarop ons ons klante en ons mense in gevaar stel nie. Dit het werklik onveilig geword,” sê Potgieter.

Italtile is nie die eerste groep wat die afgelope ruk sê eskalerende misdaad raak sy sake nie. MTN het onlangs gewaarsku hy gaan dalk gedwing word om honderde van sy selfoontorings af te skakel omdat diefstal en vandalisme herstelwerk onmoontlik maak.

Italtile is ook bekommerd oor tekens dat meer welvarende Suid-Afrikaners die afgelope jaar geëmigreer het en dat dié wat wel bly, finansieel onder druk is. Dis twee faktore wat sy Italtile-winkels beïnvloed, wat duurder produkte verkoop.

Italtile het Donderdag sy resultate vir sy boekjaar tot einde Junie uitgereik. Italtile besit onder meer die teëlwinkels Italtile, CTM en TopT, asook die teëlvervaardigers Ceramic Industries en Ezee Tile.

Die maatskappy, wat vanjaar sy 50ste verjaardag vier, nader vir die eerste keer ’n omset van R10 miljard – teen R9,995 miljard is dit dan ook in voorleggings tot R10 miljard afgerond.

Die maatskappy keer ’n spesiale dividend van 50c per aandeel uit, juis ter viering van sy verjaardag. Dit word uit sy kontantreserwes gedoen, maar die maatskappy verseker dat hy meer as genoeg geld vir sy beplande uitbreidings oor die volgende jaar het.

Potgieter sê hulle sien nog nie tekens dat die druk op verbruikers in die algemeen aan die omkeer is nie, maar Italtile fokus soos altyd op die faktore binne sy eie beheer: die verbetering van sy interne doeltreffendheid, bemarking en om mense wat wel sy winkels besoek, ’n beter koopervaring te gee.

Potgieter sê anders as ander kleinhandelaars, wat kostestygings van hoë enkelsyfers aanmeld die afgelope ruk, het Italtile nou al drie jaar sy koste nagenoeg konstant gehou.

Die groep het ’n aggressiewe bemarkingsveldtog vir CTM bekend gestel en hou aan om die koopervaring in al sy teëlwinkels te verbeter. Potgieter sê hul motto is om die “regte produk pragtig te vertoon op die regte tyd en teen die regte prys”.

Nuwe ondernemings

Italtile het pas ’n nuwe rigting ingeslaan met die opening van drie winkels wat in beligting spesialiseer. U-Light word geopen op dieselfde persele as die groep se teëlwinkels – dus naby Italtile, CTM of TopT.

Potgieter sê die mark vir beligting is R2,5 miljard se verkope per jaar werd. Mense wat huisverbeteringe doen, verander nie net die teëls op die vloer nie, maar dikwels ook die ligte. Dit is dus ’n natuurlike stap om ook beligting te verkoop.

Daarby slaan al hoe meer mense na energievriendelike beligting oor, wat verkope oor die volgende paar jaar sal laat styg.

Italtile resultate in syfers:
  • Omset: Styg met 15,2% tot bykans R10 miljard
  • Kleinhandelverkope: Styg met 6,1% (vergelykbare winkels: 4,2%), prysstygings gemiddeld 2,7%
  • Handelswins: Styg met 18,4% tot R1,8 miljard
  • Basiese verdienste per aandeel: Styg met 8% tot 102,6c
  • Wesensverdienste per aandeel: Styg met 7,2% tot 101,8c
  • Aantal winkels: 189 (13 meer as in 2018)
  • Dividend vir die voljaar: 41c (2018: 38c)
  • Spesiale dividend: 50c

Italtile het die mededingende voordeel dat hy die grond besit waarop die meeste CTM-winkels gebou is. Hy kan dus maklik nog winkels oprig. Die groep het ook reeds die verspreidingstelsels om vinnig op dreef te kom.

Maar Italtile gaan dié nuwe onderneming baie versigtig uitbrei. Vir eers gaan slegs Gautengers dié nuwe ervaring kan beleef. Potgieter sê hoewel daar mededinging is, “verrig niemand ’n fantastiese taak in dié ruimte nie”. “Ons koopervaring is baie anders. Dis funky.”

Nog ’n nuwe onderneming wat Italtile onlangs begin het, PiviCal Panels, vervaardig kleurryke polivinielchloried- (PVC-)plafonpanele, wat baie gewild is in die laerinkomstemark. Hoewel Italtile dié panele reeds veral vir TopT-winkels invoer, het hy nou die kans om met plaaslike vervaardiging sy stylstempel daarop af te druk.

Dis ’n kategorie waarvan verkope vinnig styg en Potgieter sê dit was goedkoop om die aanleg op die been te bring. Hy verwag dat dié panele mettertyd gewild gaan word onder die breër mark – dis beslis ’n neiging en ’n manier waarop mense ’n “modestelling” in hul huis kan maak.

Oor die algemeen beskryf Potgieter Italtile se syfers as “baie geloofwaardige resultate in moeilike tye”. “Ons is baie trots op die kontantskeppende aard van die onderneming.”

Invloed van minimum loon

Potgieter sê Italtile is glad nie geraak deur die inwerkingstelling van die minimum loon in Januarie vanjaar nie. Dis omdat hy ’n baie hoër interne minimum salaris vir werknemers nastreef.

Die kleinhandelaar Shoprite het verlede week in sy jaarsyfers gesê die minimum loon alleen het sy salarisrekening met tot R15 miljoen per maand laat styg.

Italtile is baie trots op sy filosofie om van werknemers vennote te maak en ’n winsdeelbeleid geld by elke winkel. Daarby kry werknemers aandele as hulle ’n sekere tyd by Italtile werk.

Italtile belê ook baie in die ontwikkeling van sy werknemers – soos om hulle op kursusse in binneversiering te stuur. Potgieter sê hulle besef alte goed dat van hul werknemers daarom deur mededingers gewerf word, maar dis die risiko wat hulle bereid is om te neem. Hulle beskou vaardigheidsontwikkeling as ’n manier waarop hulle as ’n rolspeler in die kleinhandel in Suid-Afrika tot die bedryf as geheel bydra.

Meer oor:  Italtile  |  Maatskappyresultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.