Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
MMI-kliënte onttrek steeds meer as wat belê word
Hillie Meyer is begin verlede jaar as uitvoerende hoof van MMI aangestel om die onderneming om te keer.

Die versekeringsgroep MMI se kliënte het in die halfjaar tot einde Desember R3,8 miljard meer geld onttrek as wat belê is.

Risto Ketola, groep- finansiële direkteur van MMI, sê dit bekommer hom nie aangesien dit ’n betreklik klein bedrag is vergeleke met die totale bates onder bestuur.

Baie van die netto uitvloei vind by Momentum Investments plaas, waar onttrekkings uit lewende annuïteite gedoen word vir inkomstedoeleindes.

Ketola sê ook die uitvloei in dié halfjaar was laer as in die ooreenstemmende halfjaar tot einde Desember 2017, toe R98,3 miljard uitgevloei het. Dít was R20 miljard meer as wat ingevloei het. Dié groot verskil tussen in- en uitvloei in die 2017-halfjaar was omdat hy toe opgehou het om fondse onder sy lisensie vir derde partye te administreer.

MMI sê in sy resultate MET Collective Investments word deur die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) ondersoek.

Jeanette Cilliers, adjunk- uitvoerende hoof van die MMI-groep, sê dié kwessie sleep al lank voort. Omdat dit nog nie afgehandel is nie, “is dit verstandig” om dit in die resultate te openbaar. Dit hou verband met die fondse wat namens derde partye geadministreer is en wat MMI uit sy samesmelting met Metropolitan geërf het.

Gegewe die vertoning van aandelemarkte en die moeilike ekonomiese omgewing, verwag ons nie hierdie resultate gaan in die lopende halfjaar herhaal word nie.
Hillie Meyer

Die besluit om die fondse te sluit is voor haar aanstelling in Maart verlede jaar geneem. Sy sou egter dieselfde besluit het omdat MMI eerder fokus op beleggingsbestuur as om beleggings vir ander te administreer. “Ek glo fundamenteel nie daarin as ’n onderneming nie.”

Hoewel die uitvloei in die halfjaar onder oorsig ’n impak gehad het op die daling in sy totale bates onder bestuur, sê Ketola die swak prestasie van die aandelemark het die grootste bydrae hiertoe gelewer. Totale bates onder bestuur het met 4% of R22 miljard gedaal.

Hillie Meyer is begin verlede jaar as uitvoerende hoof aangestel om MMI om te keer. Hy het in September ’n omkeerstrategie aangekondig om MMI se bedrywighede doeltreffender te maak en wins te verhoog.

In die halfjaar het MMI se genormaliseerde wesensverdienste met 2% tot R1,6 miljard toegeneem.

Meyer sê die groep is op koers met die strategie om die verdienste tot tussen R3,6 miljard en R4 miljard in die boekjaar tot einde Junie 2021 te verhoog.

Die maatskappy het ook verlede jaar aangekondig sy bedryfsmodel word vereenvoudig ná jare van kompleksiteit en verwarring.

Sy sakesegmente is nou:

  • Momentum Life, wat lewensversekering en spaarprodukte aan die middel- en hoërinkomstegroepe verkoop. Sy genormaliseerde wesensverdienste het met 35% tot R462 miljoen gestyg danksy die beter as verwagte deelname van polishouers aan vrywillige premieverhogings, asook minder eise.
  • Momentum Investments, wat Momentum Wealth insluit, wat batebestuur doen en aftreeprodukte verkoop. Sy verdienste het met 3% tot R261 miljoen gedaal.
  • Metropolitan Retail fokus op die laer- tot middelinkomstemark en verkoop spaarprodukte en versekering. Sy verdienste het met 8% tot R333 miljoen gedaal. Meyer sê dit is te verwagte omdat gefokus word op die stabilisering van die verkoopspan en om die gehalte van nuwe sake wat geskryf word te verbeter.
  • Momentum Corporate verkoop versekering en pensioenfondsprodukte aan maatskappye en sluit ook MMI Health in wat mediese fondse se administrasie doen. Sy genormaliseerde wesensverdienste het met 9% tot R319 miljoen gestyg.
  • ’n Afdeling vir gewone versekering, asook Guardrisk. Sy genormaliseerde wesensverdienste het met 29% tot R135 miljoen gestyg. Guardrisk het sy verdienste met 13% verhoog.
  • Nuwe inisiatiewe soos aYo en lenings, asook sy bedrywighede in Indië. Dié afdeling ly ’n verlies.

“Gegewe die vertoning van aandelemarkte en die moeilike ekonomiese omgewing, verwag ons nie hierdie resultate gaan in die lopende halfjaar herhaal word nie.

“Om die waarheid te sê, ’n matiger resultaat word vir die volle boekjaar verwag,” sê Meyer.

MMI begin nou weer dividende betaal.

Die dividend vir die halfjaar is 35c per aandeel. Dit is byna die helfte van die halfjaar tot einde Desember 2016, toe daar laas ’n dividend betaal is.

Dit is laer nadat die dividenddekking gewysig is. Die vorige dividenddekking was nie geskik vir ’n versekeringsmaatskappy ná die groot beleggings in Indië nie, sê Ketola.

Versekeraars moet ook meer kapitaal hou kragtens nuwe kapitaalvereistes wat Suid-Afrikaanse reguleerders gestel het.

Meer oor:  Mmi  |  Momentum  |  Beleggings  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.