Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
MMI los afkorting vir lang, ‘nuwe’ naam

As jy nie regtig weet wie MMI is nie, is jy nie alleen nie.

Nege jaar nadat Metropolitan en Momentum saamgesmelt het en die gesamentlike groep MMI gedoop het, het die finansiëledienstefirma besluit om sy naam te verander na Momentum Metropolitan.

momentum
Metropolitan en Momentum het nege jaar gelede saamgesmelt.

Volgens ’n Sens-verklaring word dit gedoen omdat Momentum en Metropolitan welbekende, gevestigde handelsname “in hul gekose teikenmarkte” is.

“Die groep se bedrywighede onder die Momentum- en Metropolitan-handelsname verteenwoordig die oorgrote meerderheid van die groep se inkomste en bedryfswins en is daarom verteenwoordigend van die groep.”

Aandeelhouers moet die naamsverandering goedkeur. Indien dit goedgekeur word, sal dit na verwagting teen 19 Julie van krag word. MMI se aandeelkode op die JSE sal dan ook van MMI na MTM verander.

Die naamsverandering is een van vele veranderinge wat Hillie Meyer, MMI se nuwe uitvoerende hoof, sedert begin verlede jaar deurgevoer het.

Hy het in September ’n omkeerstrategie aangekondig om MMI se bedrywighede doeltreffender te maak en wins te verhoog. Die groep het ook ’n hele aantal nuwe topbestuurders en direkteure gewerf.

Dit lyk asof die veranderinge meer as kosmeties is. Die groep het vroeër vandeesweek bekend gemaak sy verwaterde genormaliseerde wesensverdienste vir die eerste nege maande van sy boekjaar het met 19% tot R2,4 miljard gestyg. Per aandeel het dit met 26% gestyg, wat die aandeleterugkoop vroeër vanjaar weerspieël.

Die groep het vroeër vandeesweek bekend gemaak sy verwaterde genormaliseerde wesensverdienste vir die eerste nege maande van sy boekjaar het met 19% tot R2,4 miljard gestyg.

“Dié styging moet gesien word in die konteks van swak resultate vir die vergelykbare tydperk, maar sou nie moontlik gewees het sonder verbeteringe in doeltreffendheid en toepaslike beleggings in strategie vir toekomstige groei nie.

“MMI bly versigtig optimisties dat die groep op koers is om die driejaar- finansiële teikens vir 2021 te haal [wat in die omkeerplan gestel is].”

Die groep het 11% méér nuwe premies uitgeskryf as in die vorige jaar se eerste nege maande. Dis deur die afdelings vir werknemervoordele soos pensioenfondse en Momentum Corporate, aangedryf, asook Momentum Life, wat langtermynversekering en annuïteite verkoop, en die mediesefondsadministrateur MMI Health.

Die groep se beleggingsafdelings, Momentum Investments en Metropolitan Retail, trek steeds swaar.

Wil jy stem?

’n Omsendbrief word op Vrydag 24 Mei aan aandeelhouers gestuur wat ook as ’n stembrief dien. Aandeelhouers wat wil stem, maar nie die omsendbrief oor die volgende week ontvang nie, kan die nodige omsendbrief op die groep se webwerf kry. Klik hier. Hulle moet teen 12:00 op 28 Junie oor die naamsverandering stem.

Werk afkortings nie?

Met dié naamsverandering swem MMI eintlik teen die stroom, gegewe dat tientalle maatskappye in Suid-Afrika en wêreldwyd die afgelope dekade besluit het om hul oorspronklike naam met ’n afkorting te vervang.

Dit word gewoonlik gedoen omdat die oorspronklike naam nie meer die maatskappy se uitgebreide sake of eienaarskap weerspieël nie.

In Suid-Afrika probeer The Foschini Group steeds om die naam TFG in die volksmond gevestig te kry. Die genoteerde groep het sy naam in 2010 van Foschini na The Foschini Group verander en dit is steeds die groep se amptelike naam. Dis gedoen om die groep se diverse aanbod van klere, huisware en juweliersware te weerspieël eerder as net die een klerewinkel. Die afgelope jare gebruik die groep self net die afkorting en dis ook die hart van sy aanlyn afdelingswinkel, myTFGworld, wat verlede jaar bekend gestel is.

Ander welbekende afkortings is PricewaterhouseCoopers wat PwC geword het, Ernest & Young wat EY geword het, en selfs FNB, wat deesdae selde as First National Bank uitgeskryf word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.