Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
MMI: ’n Skip wat net nie omdraai nie
06 September 2018

Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is Hillie Meyer, uitvoerende hoof, se van verkeerdelik as Kruger aangedui. 

Momentum se logo.

Die groot finansiële skip MMI, wat onder meer die Momentum en Metropolitan besit, sukkel steeds, ondanks enorme herstrukturering by die finansiëledienstemaatskappy die afgelope jaar.

In die boekjaar tot einde Junie het MMI se verwaterde kernwesensverdienste met 12% tot R2,809 miljard gedaal.

MMI het ’n hele vier boekjare gelede laas, in 2015, ’n styging in sy kernwesensverdienste aangekondig. In 2016 het dit met 16% geval en in 2017 was dit onveranderd.

Die maatskappy se bedryfswins het met 10% tot R2,345 miljard gedaal.

Die aandeel het Woensdag teen 15:30 2,08% laer op R16,92 verhandel.

Hoewel die maatskappy sê die swak makro-ekonomiese omgewing het sy syfers negatief geraak, gee hy toe die groep se gebreke op bedryfsvlak “het ook ’n rol in die teleurstellende stel resultate gespeel”.

Sy resultatevoorlegging het die opskrif “Reset and grow” en lê klem op beter kliëntediens, leierskap en kostebeheer.

Hillie Meyer, uitvoerende hoof, sê in die resultateverklaring dis moeilik om ’n groot skip soos MMI om te keer. Die maatskappy werk aan ’n omkeerplan tot 2021.

Vooruitsigte

“Dis nie maklik om ’n omvattende finansiëledienstemaatskappy soos MMI om te keer nie,” sê Meyer in sy verklaring. “Die volwassenheid van die Suid-Afrikaanse versekeringsmarkte en gedempte vooruitsigte vir makro-ekonomiese groei op kort termyn plaas steeds druk op ons verwagtinge vir inkomstegroei.

“Gegewe dié faktore, gekombineer met groter verliese wat in die 2019-boekjaar verwag word vanweë nuwe inisiatiewe, verwag ons slegs ’n matige toename in verdienste in 2019.

“In aanloop tot 2021 sal ons hard werk om die fondament vir langertermyn-vooruitgang te lê, wat op ’n sterk kultuur van verspreiding en diens sal steun, en van relevante digitale verbeteringe.”

MMI is onder meer die derde grootste lewensversekeraar in die land (ná Old Mutual en Sanlam), ding met Discovery Health mee as ’n administrateur van mediese fondse en is een van die groter batebestuurders in die land.

Vroeër vanjaar het Nicolaas Kruger ná nege jaar aan die stuur van MMI op die betreklik jong ouderdom van 50 jaar “afgetree”.

Verlede jaar het Danie Botes, bedryfshoof, en Etienne de Waal, hoof van Momentum Retail, ook die maatskappy verlaat.

Reeds in verlede jaar se resultate het die groep aangekondig hy gaan sy bedrywighede in Brittanje en die res van Afrika afskaal. Dié proses duur voort.

Vanjaar sê MMI hy het “goeie vordering” gemaak met “herprioritisering” ten einde die maatskappy se prestasie en toekomstige groei te verbeter.

Die groep het sy bedryfsmodel vereenvoudig en gedesentraliseer.

Die maatskappy ondersoek onder meer of hy sy hoofkantoor uit Sandton moet verskuif.

Die verskillende segmente waarin MMI verslag doen, is:

  • Momentum Retail

Dié afdeling, wat onder meer Momentum-effektetrustfondse en die lojaliteitsprogram Multiply insluit, het besonder swaar getrek.

Sy kernwesensverdienste het met 28% tot R920 miljoen gedaal.

Die maatskappy sê wel sy nuwe Guaranteed Return Option-produk het goed verkoop.

  • Metropolitan Retail

Dié afdeling se kernwesensverdienste het met 14% tot R570 miljoen gedaal. Dit word grootliks daaraan toegeskryf dat meer mense begrafnispolisse laat verval.

  • Momentum Corporate

Dié afdeling, wat onder meer pensioenfondse bedryf, kon sy kernwesensverdienste met 8% tot R903 miljoen laat styg. Die FundsAtWork-sambreelfonds het goeie verkoopsgroei behaal.

  • Guardrisk

Dié versekeraar kon sy kernwesensverdienste met 29% tot R258 miljoen verhoog. Soos Santam verlede week, sê MMI daar was minder groot eise in die afgelope jaar.

  • Internasionaal

Dié afdeling kon sy kernwesensverlies byna halveer tot R48 miljoen danksy die feit dat MMI hom aan sekere Afrika-lande onttrek het.

  • Aandeelhouerskapitaal

Dé afdeling weerspieël die beleggingsopbrengs op bedryfskapitaal en ander inkomste wat nog nie aan bedryfsegmente toegewys is nie, minus die koste van die beheermaatskappy. Sy kernwesensverdienste het met 24% tot R464 miljoen gedaal, grootliks omdat ’n eiendom met ’n goeie huurinkomste in 2017 verkoop is en dié inkomste nie meer tot die beleggingsopbrengs bydra nie.

Meer oor:  Mmi  |  Metropolitan  |  Momentum  |  Wins  |  Lewensversekering  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Mediese Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.