Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moeilike tyd voor vir versekeraars, sê S&P

Suid-Afrikaanse lewensversekeraars gaan in die afsienbare toekoms minder winsgewend wees weens die swak opbrengs wat die plaaslike markte lewer en dreigende nuwe regulasies, het die internasionale kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) in ’n verslag gesê.

Die belangrikste veranderings wat kom, is die nuwe kapitaalvereistes waaraan versekeraars sal moet voldoen wat kortweg as SAM bekend staan en die verandering van kommissie wat met die verkoop van produkte aan gewone beleggers verband hou.

Reëls oor kommissie

S&P bespreek die impak van die sogenaamde Retail Distribution Review (RDR), wat verwys na dreigende nuwe reëls vir adviseurs en makelaars wat onder meer handel oor beperkings op die kommissie wat hulle op beleggings- en versekeringsprodukte verdien.

“Die belangrikste impak van die komende RDR gaan die voorafkommissie wees wat adviseurs verdien het, wat verwyder gaan word,” het die kredietontleders Ali Karakuyu, Lotfi Elbarhdadi, Neil Gosrani en Trevor Barsdorf gesê.

Hulle verwag dat versekeraars se nuwe sake of produkte wat jaarliks verkoop word in die afsienbare toekoms gaan verminder omdat makelaars, wat die grootste deel van verkope doen, gaan sukkel om aan te pas.

Volgens hulle is ’n soortgelyke situasie in Brittanje se lewensversekeringsektor gesien waar die RDR in 2013 aanvaar is.

S&P voorspel dat die sektor se groei in premies meer met algemene inflasie van tussen 6% en 7% gaan tred hou oor die komende twee jaar vergeleke met die dubbelsyfer-premiegroei wat hulle die afgelope jare ervaar het.

S&P glo die RDR gaan op lang termyn positief vir die sektor wees omdat dit die aansporing gaan verwyder vir makelaars om verbruikers gereeld van polis te verander en dit gaan bestendigheid verbeter.

“Hoewel ons glo die RDR gaan druk op lewensversekeraars se groei en wins op kort termyn sit, glo ons dit sal uiteindelik voordele vir die bedryf se winsgewendheid meebring.”

Minder komplekse produkte

S&P glo egter die bedryf is goed voorbereid op die strenger kapitaalvereistes wat volgende jaar onder SAM kom.

Die meerderheid van die produkte wat lewensversekeraars in Suid-Afrika verkoop, is beleggings- en spaarprodukte.

Die sektor verkoop egter ook baie produkte wat beleggingswaarborge verskaf.

Die wisselvallige markte kan meebring dat die sektor meer kapitaal sal moet hou vir dié produkte vir die risiko wat met die waarborge gepaardgaan.

Die ontleders glo die wisselvallige omgewing tesame met die vereistes van SAM en die RDR gaan daartoe lei dat die sektor meer produkte gaan verkoop wat minder kapitaal benodig.

Dit was ook in Brittanje die geval nadat die kapitaalvereistes daar verander het.

Verskeie ondernemings het die annuïteitbedryf daar verlaat – deels omdat dit meer kapitaal vereis onder die nuwe solvensiereëls en deels weens die hervorming wat daartoe gelei het dat verpligte annuïteitprodukte afgeskaf is.

Boonop gaan die skuif na ’n verbruikersvriendeliker omgewing wat met die reëls oor die billike behandeling van verbruikers te doen het, asook die planne om ’n reguleerder vir markgedrag in Suid-Afrika te kry, die omgewing baie moeilik vir ondeursigtige en komplekse produkte maak. “Die sektor sal dit al hoe moeiliker vind om komplekse produkte te verkoop,” lui die verslag.

Dit sluit in die produkte wat beleggingsopbrengste waarborg.

Wisselvallige aandeelmarkte

In die verslag word gesê die toenemende wisselvallige markte te midde van die strenger regulasies wat kom, bring bedryfs- en finansiële uitdagings vir lewensversekeraars mee.

Volgens hulle het die plaaslike aandele- en kredietmarkte die afgelope jaar wesenlike wisselvalligheid getoon.

Die meeste van die sektor se bates word plaaslik gehou en die sektor se groei hang baie af van die finansiële markte omdat amper 60% van die produkte wat verkoop word met beleggings verband hou.

“Die beweging in die finansiële markte is dus ’n goeie barometer van die premie-inkomste wat versekeraars gaan sien.

“Die groei wat in die verlede in die plaaslike finansiële markte gesien is, het ook die dubbelsyfer-premiegroei in die verlede ondersteun.”

S&P verwag egter dat die beleggingsopbrengste van Suid-Afrikaanse markte in die afsienbare toekoms gaan verminder.

“Die wisselvalligheid in Suid-Afrika se aandeel- en kredietmarkte, wat veroorsaak word deur die swak ekonomiese vooruitsig, demp lewensversekeraars se verkope, winsgewendheid en kapitaal en kan uiteindelik druk op hul kredietgraderings plaas,” het die ontleders gesê.

Meer oor:  Sanlam  |  S&P  |  Lewensversekering  |  Liberty  |  Old Mutual
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.