Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moenie ophou papier herwin, vra bedryf
Hoewel die vraag na herwonne koerantpapier nie meer so groot is nie, kan dit steeds gebruik word om byvoorbeeld eierhouers mee te vervaardig, sê RecyclePaperZA.

Hoewel daar internasionaal ’n ooraanbod aan herwonne papier is, moet mense nie ophou om papier en karton te herwin nie, het die papierherwinningsvereniging RecyclePaperZA gesê.

Die vraag na herwonne koerant- en tydskrifpapier is tans laag weens ’n ooraanbod en die laer pryse wat herwinningsfirmas daarvoor kan kry, maar daar is alternatiewe waarvoor dit benut kan word, sê RecyclePaperZA in ’n verklaring.

Dit sluit skenkings aan dierewelsynsorganisasies in wat ou koerante gebruik om honde- en katskuilings mee uit te lê.

Nat en opgeskeurde koerantpapier is ideaal vir komposhope en wurmplase.

Koerantpapier is nuttig om vrugte- en groenterakke mee uit te lê, en kan as geskenkpapier of as ’n beskermende laag onder ’n tafeldoek dien.

Mpact Recycling, ’n lid van RecyclePaperZA, het in November verlede jaar aangekondig dat hy sy program gaan staak om huishoudings se herwinbare papier op sypaadjies op te laai. Mense word egter aangemoedig om steeds ander herwinningsondernemings te steun of om ’n skool en gemeenskapsentrum te ondersteun wat steeds deel van Mpact Recycling se Paper Bank-program is.

Anele Sololo, hoofbestuurder van RecyclePaperZA, verduidelik die ooraanbod van afvalpapier spruit onder meer uit China se strenger vereistes sedert 2017 vir ingevoerde afval. In Suid-Afrika het die droogte in vrugteproduserende gebiede beteken dat die vraag na verpakkingskarton vir vrugte laer is. Gevolglik is die vraag na herwonne papier ook minder aangesien dit gebruik word om die karton te maak.

Hoewel koerant- en tydskrifpapier nie meer in aanvraag is by insamelaars nie, is wit papier wel steeds in groter aanvraag omdat dit minder ink bevat en minder skoonmaak in die verwerkingsproses as koerant- en tydskrifpapier verg.

Wit papier bevat ook beter gehalte vesel, het Sololo verduidelik.

Koerantpapier was in die verlede nodig as roumateriaal vir die maak van nuwe koerantpapier, maar die afname in koerantsirkulasie het ’n kringloop aan die gang gesit wat die vraag na herwonne koerantpapier laat afneem het.

Volgens Sololo word herwonne koerantpapier wel nog gebruik om gevormde veselprodukte soos eierhouers, houers vir wegneemkoppies en vrugtebokse te maak.

Só word verskillende papiersoorte herwin:

  • Wit kantoorpapier: Dit word van nuwe houtvesel gemaak en bevat vesel van ’n goeie gehalte en word herwin tot sneesdoekprodukte soos toiletpapier en sneesdoekies, en word ook by ander “papierresepte” gevoeg.
  • Bruin kartondose: Dit word weer tot pulp verwerk om nuwe kartondose en bruinpapier te maak.
  • Papierkoppies, melkbokse en karton van ander vloeistofhouers: Dit bevat lang en sterk vesels van volhoubaar bestuurde plantasies, en is dus ’n belangrike bestanddeel vir papierprodukte wat sterk moet wees. Die plastiek- en foelielae in die vloeistofhouers word in die herwinningsproses van die paper geskei en kan vir onder meer die maak van plastiektuinmeubels gebruik word.
  • Gemengde of algemene papier en kartonverpakking (soos ontbytgraanbokse, tydskrifte, toiletrolle, gekleurde papier) word as algemene gemengde afval geklassifiseer. Dit beland in resepte vir verskeie papierprodukte wat selfs sneesdoekies insluit mits die papiermeule ’n ink-onttrekkingsaanleg het.
Meer oor:  Omgewing  |  Papier  |  Herwinning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.