Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moody's keur PepsiCo se verkryging van Pioneer goed
Moody’s Investors Service is een van die drie groot internasionale kredietgradeerders. Foto: Getty Images

Die beoogde verkryging van Pioneer Foods deur die Amerikaanse maatskappy PepsiCo blyk almal gelukkig te maak, en vir PepsiCo is dit boonop kredietpositief, sê Moody’s Investors Service.

Die kredietgradeerder het Maandag in ’n navorsingsverslag uiteengesit hoe PepsiCo se toetrede tot die Suid-Afrikaanse kosmark sy groeipotensiaal wesenlik sal verbeter, sonder om sy skuldposisie in gedrang te bring.

PepsiCo het op Vrydag 19 Julie aangekondig dat hy beoog om Pioneer Foods, die Suid-Afrikaanse vervaardiger van onder meer Marmite, Weetbix en Heinz, vir sowat R23 miljard te verkry.

Pioneer self sê die aanbod verteenwoordig ’n premie van 56,5% op die volumegeweegde aandeelprys van 30 dae van R70,31, soos op 12 Julie gemeet. Die aandeelprys het ná Maandag 15 Julie se omsigtheidsaankondiging begin klim.

Sover het aandeelhouers van Pioneer wat saam 52,85% van die voedselgroep besit, hul ondersteuning aan die transaksie toegesê. Dit sluit in Zeder, met ’n belang van 28,23%, Coronation, wat namens sy kliënte 7,29% besit, asook Allan Gray, Sanlam en PSG Batebestuur.

Volgens Moody’s sal PepsiCo se verkryging hom nie net blootstel aan ’n hoëgroeimark nie, maar ook as platform dien na die res van die vasteland, waarin Pioneer reeds ’n groot teenwoordigheid het.

Pioneer se netto verkope vir 2018 het ’n goeie R20,2 miljard beloop, sê Moody’s, grootliks te danke aan sy toegang tot sowat 80 uitvoermarkte.

PepsiCo, wat internasionaal met Coca-Cola, die reus van die voedselsektor, meeding, veg hard om in ontluikende markte ’n voorsprong te probeer vestig bo sy grootste mededinger.

In lande soos Suid-Korea is die geveg goed op dreef, waar Pepsi voordelige kontrakte op groot skaal met gewilde kitskos-handelsname kon sluit. In Suid-Afrika is Coca-Cola se voorsprong nog groot.

PepsiCo het hom tydens die apartheidsjare aan Suid-Afrika onttrek terwyl Coca-Cola gebly het.

PepsiCo beskou Afrika as ’n “sleutelmark vir toekomstige groei” en die “betreklike bekostigbaarheid en waardeproposisie van baie van PepsiCo se produkte”.

Luidens Moody’s se verslag sal die verkryging lei tot ’n “wesenlike vergroting van PepsiCo se bestaande besigheid”.

Meer oor:  Moody's Investor Service  |  Pepsico  |  Moody's  |  Pioneer Foods  |  Verkryging  |  Oorname  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.