Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moody’s nou negatief oor Transnet se toekoms
Transnet se steenkoolterminus in Richardsbaai.Foto: Argief

Die kredietgradeerder Moody’s Investors Service het die vooruitsig vir Transnet se kredietgradering tot negatief verander.

Hy het egter nie sy gradering van Baa3 – dieselfde as dié van Suid-Afrika se soewereine skuld – verander nie.

Moody’s sê Donderdag in ’n verklaring dat die staatsbeheerde vervoergroep se likiditeit verswak het en dat hy al hoe meer staatmaak op die herfinansiering van sy skuld.

Transnet moet tussen Augustus 2019 en Maart 2023 R52,5 miljard van sy skuld betaal.

Hy sê gegewe Transnet se gekwalifiseerde ouditmening vir die 2018-’19 boekjaar glo hy wel dat méér gedoen moet word om bestuur by die onderneming te verbeter.

Dit was die tweede agtereenvolgende jaar dat Transnet ’n gekwalifiseerde ouditmening gekry het.

Die ouditmening gaan oor die volledigheid en akkuraatheid van die onreëlmatige besteding wat in die state gelys is, en volgens Transnet het dit niks te doen met sy finansiële gesondheid en volhoubaarheid of sy status as ’n lopende saak nie. Transnet sê die gekwalifiseerde ouditmening sal ook nie tot enige negatiewe optrede oor sy skuld lei nie.

Dit is juis hierdie gekwalifiseerde ouditmening wat Moody’s laat vrae vra oor óf Transnet in staat gaan wees om sy skuld te kan betaal.

Die gradeerder sê met dié dat Transnet baie afhanklik is van die staat wat betref sy finansies, en gegewe die stand van Suid-Afrika se ekonomie, is dit nóg ’n rede hoekom hy besluit het om die vooruitsig af te gradeer.

Moody’s sê hy neem wel kennis dat Transnet die afgelope jaar pogings aangewend het om sy bestuur te verbeter.

Moody’s sê dus die “negatiewe vooruitsig weerspieël Transnet se toenemende blootstelling aan die risiko van herfinansiering omdat beduidende bedrae skuld binne die volgende paar jaar betaal moet word terwyl die makro-ekonomiese omgewing swak bly.

Moody’s waarsku dat sou hy besluit om Suid-Afrika se soewereine kredietgradering af te gradeer, dit dan ook daartoe sal lei dat hy dié van Transnet afgradeer.

Hy is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika se staatskuld nog op beleggingsvlak gradeer. Sy gradering is Baa3 – een vlak bo rommelstatus – met ’n stabiele vooruitsig.

Moody’s besluit na verwagting weer op 1 November oor sy kredietgradering vir Suid-Afrika.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.