Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moody’s straf Transnet oor sy skuld

Die vertraging met die herfinansiering van R6 miljard van Transnet se skuld wat in Mei betaalbaar geraak het, het tot die verlaging van ’n kredietgradering van die staatsonderneming gelei.

Transnet se kredietgradering is gepak deur Moody's Investors Service, Vrydag. Foto: Getty Images

Die maatstaf van die gehalte van sy krediet op sy eie, voor enige moontlikheid van regeringsondersteuning (BCA), is verlaag tot ba3 van ba2.

Die algemene kredietgradering, wat met die staat s’n verband hou, is onveranderd op Ba2 gehou. Die vooruitsig bly negatief.

Paco Debonnaire, ’n ontleder van finansiële instellings, sê in ’n verklaring oor die kredietgradering die verlaging van die BCA weerspieël Moody’s se siening dat Transnet se likiditeitstatus verswak het as gevolg van die vertraging met die herfinansiering van skuldbriewe wat in Mei hul vervaldatum bereik het.

Die R6 miljard se skuldbriewe wat in Mei betaalbaar geraak het, is met bestaande bronne van likiditeit betaal insluitende kontant en onttrekkings van die maatskappy se korttermynleningsgeriewe, pleks van om nuwe langtermynskuld te verkry.

“Dit verminder die maatskappy se beskikbare bronne van likiditeit en verhoog die herfinansieringsrisiko voor die vervaldatum van ’n internasionale skuldbrief van $1 miljard in Julie volgende jaar.”

Volgens Debonnaire het Transnet in die lopende boekjaar tot einde Maart 2022 ’n totaal van R14,6 miljard se skuldbriewe wat ’n vervaldatum bereik.

Ná die aflossing van R6 miljard in Mei, is daar nog R8 miljard betaalbaar vir die res van die boekjaar.

Daarbenewens verstaan Moody’s ook dat Transnet ’n gedeelte van sy R13,3 miljard se korttermynleningsgeriewe getrek het.

Dit is leningsgeriewe wat Moody’s as betaalbaar op die korttermyn beskou aangesien leners op enige punt, met 360 dae se kennisgewing, die terugbetaling kan versoek. Die leners het egter in die verlede die terugbetaling daarvan uitgestel.

Ingesluit die internasionale skuldbrief wat in Julie 2022 verval, beraam Moody’s dat die maatskappy R25 miljard se skuld het wat in die komende 14 maande tot einde Julie volgende jaar hul vervaldatum bereik.

“Die meerderheid daarvan sal Transnet nie met sy vrye kontantvloei aan kan voldoen nie.

“Transnet maak dus wesenlik staat op die voortgesette toegang tot die effektemark en banklenings om gereeld nuwe uitreikings van skuldbriewe te doen en om sy lenings te heronderhandel.”

’n Klomp skuld van R40 miljard gaan ook van Augustus 2022 tot Maart 2026 hul vervaldatums bereik.

Volgens Debonnaire is Transnet aktief aan die werk aan ’n finansieringsplan.

“Moody’s glo dat die maatskappy die nodige herfinansiering betyds sal kry om alle verpligtinge na te kom tot Julie 2022.

“Die maatskappy het ’n goeie geskiedenis met die herfinansiering van vervaldatums en met gediversifiseerde bronne van finansiering en trek voordeel uit Suid-Afrika se diep finansiële mark en handhaaf ’n goeie verhouding met sy bank wat lenings aan hom verskaf.”

Hy sê die vertraging wat Transnet egter in Mei ervaar het met die herfinansiering van sy skuldbriewe toon hoe kwesbaar sy likiditeit is.

“Vertragings kan veroorsaak word deur gebeure wat buite die maatskappy se beheer is en wat toegang tot nuwe finansiering tydelik kan bemoeilik.”

Moody’s verwag dat Transnet se inkomste, bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering en kontantvloei aansienlik sal verminder vir die boekjaar tot einde Maart 2021, maar dat dit oor die volgende jare sal herstel tot wat dit was voor die pandemie. Die maatskappy trek reeds voordeel uit die hoër hulpbronpryse en algemene vraag sal normaliseer tot wat dit was voor die pandemie namate die ekonomie van die land herstel.

’n Beduidende deel van die maatskappy se banklenings is onderhewig aan ’n ooreenkoms oor die handhawing van rentedekking.

Moody’s verwag dat die maatskappy dié ooreenkoms gaan skend wanneer die toets gedoen word gegrond op die finansiële resultate van die pasafgelope boekjaar. Moody’s voorsien egter dat die banke kwytskeldings sal verskaf indien nodig gegewe die ongekende toestande en inperkings wat die koronavirus-pandemie meegebring het.

Hy sê Transnet se BCA-gradering sal waarskynlik afwaartse druk ondervind as die maatskappy se likiditeitsposisie verder verswak, wat die gevolg kan wees van ’n vertraging met die verkryging van nuwe finansiering lank voor die $1 miljard skuldbrief se vervaldatum of as gevolg van vertragings met die terugbetaling van die korttermyn lenings wat gebruik is om die terugbetaling van die skuldbriewe wat in Mei verval het, te oorbrug.

As die BCA-gradering of die regering se gradering verlaag, kan dit tot ’n afgradering van Transnet se algemene gradering lei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.