Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Motorongeluk: Truworths, ander groet ‘dr. Thandi’

Truworths het Dinsdag “groot hartseer” uitgespreek oor die dood van dr. Thandi Ndlovu (65), wat die afgelope 19 jaar op die klerewinkelgroep se direksie gedien het.

Dr. Thandi Ndlovu
Dr. Thandi Ndlovu. Foto: City Press

Ndlovu is een van vier mense wat Saterdag naby Rustenburg in ’n botsing reg van voor dood is. Arend Keulder (66) van Groot-Marico en sy broer, Joubert (62) van Zeerust, en Ndlovu se motorbestuurder, Motsiri Mokoane (49), is die ander slagoffers.

Ooggetuies beweer dat Mokoane gejaag en sperstrepe geïgnoreer het. Die drie mans is op slag dood en Ndlovu is later in die hospitaal dood.

LEES OOK: Broers, sakevrou dood nadat ‘maniak oor sperstrepe jaag’

Michael Mark, uitvoerende hoof van Truworths, sê Ndlovu – of dr. Thandi, soos sy bekend gestaan het – was ’n “vertroueling, raadgewer en mentor” vir die hele direksie en het “uiters waardevolle leiding en onwrikbare steun vir en begrip van die groep se DNS verskaf”.

Ndlovu was in die apartheidsjare ’n bevelvoerder van die ANC se militêre vleuel, uMkhonto weSizwe. Sy was ook ’n mediese dokter wat ’n kliniek in Orange Farm buite Johannesburg gevestig het.

Haar verhaal en reis is vol wonderlike lewenslesse oor moed, veerkragtigheid, deursettingsvermoë, innovasie en die gebruik van mense se potensiaal.
Michael Mark

Daarna was sy in 1999 die stigter en uitvoerende hoof van Motheo Construction, een van net enkele vroueleiers in die konstruksiebedryf.

“Sy het ’n skerp intellek, ’n warm hart, ’n lewenslustige gees gehad, en het altyd tyd gemaak om haar kennis en wysheid te deel. Sy was werklik ’n onselfsugtige leier wat ’n impak gemaak het, ’n inspirasie vir almal wat die voorreg gehad het om haar te ken.

“Haar verhaal en reis is vol wonderlike lewenslesse oor moed, veerkragtigheid, deursettingsvermoë, innovasie en die gebruik van mense se potensiaal,” skryf Mark.

Sy het die Dr Thandi Ndlovu Children’s Foundation, gestig om wees- en kwesbare kinders in hul skoolloopbaan by te staan.

Ndlovu het al die pieke van Kilimandjaro en Kenia uitgeklim en het al die basiskamp van Everest en Annapurna in Nepal bereik om geld vir haar stigting en ander instellings in te samel.

Ndlovu was in Augustus, ter viering van Vrouemaand, op die voorblad van Forbes Africa. Jill de Villiers, wat die onderhoud met haar gevoer het, skryf op die publikasie se webwerf Ndlovu was ten tyde van die onderhoud besig om voor te berei om na die Machu Pichu-ruïne in Peru te gaan.

“Op daardie sonnige middag het ek haar gevra of sy, op die ouderdom van 65, aftrede oorweeg het, en sy het gelag. ’n Lewendige, vriendelik lag. Sy het aan my gesê sy is gesond en sterk en werk maklik 12 tot 13 uur per dag.”

Rali Mampeule, uitvoerende hoof van die South African Housing and Infrastructure Fund (Sahif), sê Ndlovu se dood is ’n hartseer dag vir die konstruksiebedryf.

“Die bedryf het ’n heldin, ’n toegewyde sakevrou en ’n onselfsugtige leier verloor.”

“Dr. Thandi het die weg gebaan vir baie vroue in die bedryf en was op ’n missie om nog geleenthede vir ander te ontsluit. Sy was een van die skitterende sterre in die konstruksiebedryf danksy haar ervaring van 20 jaar.”

Mark en Mampeule het hul meegevoel met Ndlovu se familie betuig.

Meer oor:  Truworths  |  Thandi Ndlovu  |  Michael Mark  |  Rustenburg  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.