Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Motorverkope tuimel weens pandemie
Motorhandelaars word deur nog laer verkope in die gesig gestaar te midde van die Covid-19-pandemie en ’n treurige ekonomie wat sy prestasie reeds laat tuimel het. Foto: Getty Images

Motorhandelaars ervaar tans ’n “ongekende” uitdaging om voertuie te verkoop te midde van die Covid-19-pandemie en plaaslike staat van inperking.

Plaaslike verkope van nuwe voertuie het in Maart met 29,7% op ’n jaargrondslag getuimel tot slegs 33 545. Verlede jaar het dié syfer dikwels nog by sowat 50 000 gedobber.

Die bedryf se uitvoer-lewenslyn is ook nie die bloedbad gespaar nie. Nuwe voertuie wat uitgevoer is, het ook met ’n beduidende 21,5% gedaal tot 28 883.

“Die motorbedryf oor die wêreld heen ondervind tans ongekende uitdagings weens die wêreldwye toepassing van ’n staat van inperking in alle groot bronne van motorvervaardiging, hetsy lande of stede, om die Covid-19-pandemie in bedwang te bring,” sê die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) in ’n verklaring oor sy jongste syfers.

Bykans al die groot motorvervaardigers het in die laaste paar weke aangekondig dat hul aanlegte in onder meer Europa, Asië, Amerika en Suid-Afrika gesluit sal bly weens die pandemie.

Lara Hodes, ekonoom van Investec, sê egter die pandemie is net die oortjies van die seekoei.

“Verbruikers se balansstate was reeds onder druk nog voor die aanvang van die pandemie, te midde van ’n omgewing van treurige groei in verdienste en toenemende werkloosheid,” sê Hodes in ’n verklaring. “Die vinnige verspreiding van die virus, wat die bevolking en die meeste ondernemings tot stilstand gedwing het, het die reeds desperate situasie net vererger.”

Verkope van die grootste kategorie, passasiersvoertuie, het in Maart met 26,8% op ’n jaargrondslag gedaal.

Uit die totale plaaslike verkope van 33 545 nuwe voertuie was 83,6% deur motorhandelaars, 6,2% aan motorverhuurders, 5,8% aan die regering en 4,4% aan ondernemings.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê in ’n verklaring die bedryf ervaar tans die swakste verkope sedert die finansiële krisis van 2009.

Die bedryf se lot is nou regstreeks aan die ontwikkeling van die Covid-19-pandemie gekoppel, sê Naamsa.

“Die ergste is nog op pad.”

Absa se aankoopbestuurdersindeks (PMI) het Woensdag daarop gedui dat fabrieke se vooruitsigte vir die volgende ses maande tot die laagste vlak nóg gedaal het, selfs laer as in 2009.

Meer oor:  Koronavirus  |  Skuld  |  Motorverkope  |  Covid-19  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.