Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Motsepe se African Rainbow verseker nou lewens
Bongani Madikiza, uitvoerende hoof van African Rainbow Life. Foto: Elvira Wood

Die African Rainbow-groep van Patrice Motsepe, miljardêr-sakeman en swaer van pres. Cyril Ramaphosa, het die versekeringsarena betree.

Die groep het African Rainbow Life (ARL) Donderdagoggend in Hyde Park, Johannesburg, bekend gestel.

Die maatskappy is ’n vennootskap tussen Sanlam Lewensversekering (51%), African Rainbow Capital Finansiële Dienste (26%) en ’n bestuurskonsortium wat uit werknemer-, gemeenskap- en bestuurstrusts (23%) bestaan.

Die maatskappy gaan lewensversekering asook begrafnispolisse en ander beleggingsprodukte aan die lae- tot middelinkomstegroepe bied.

Die maatskappy sê hy hoop om met tegnologie en lae premies kliënte te lok wat nie voorheen lewensversekering kon bekostig nie.

“Ons sien dat baie Suid-Afrikaners selfs ses tot tien begrafnispolisse het, maar nie ’n enkele lewenspolis nie.

“Dit help nie jy gee jou familielid ’n behoorlike begrafnis, maar ses weke later sit jy en jou kinders op straat omdat daar nie geld is nie.

“Versekering begin nie met groot bedrae nie. Dit begin met R20 of R40,” sê Bongani Madikiza, uitvoerende hoof van ARL.

Darryn Padayachee, finansiële direkteur van ARL, sê hul navorsing wys baie Suid-Afrikaners bestee maklik tussen R600 en R700 per maand aan begrafnispolisse, maar hulle het geen lewenspolis nie.

“Ons wil vir kliënte wys dat jy met dieselfde totale bedrag per maand begrafnis- én lewenspolisse kan bekostig,” sê hy.

Dit help nie jy gee jou familielid ’n behoorlike begrafnis, maar ses weke later sit jy en jou kinders op straat omdat daar nie geld is nie.
Bongani Madikiza

Motsepe se invloed

Madikiza sê ARL het sy oorsprong juis te danke aan Motsepe.

“Soos julle kan sien, is Patrice nie hier nie. Hy is ’n aandeelhouer en is nie regstreeks by die bestuur van die maatskappy betrokke nie,” het hy op die bekendstelling gesê.

“Ons is egter baie dankbaar vir sy hulp om die maatskappy te skep. Dit was juis hy wat ons aan Sanlam voorgestel het en wat die skep van die maatskappy moontlik gemaak het.

“Hy is egter nou net ’n aandeelhouer en speel geen regstreekse rol in die bestuur van die maatskappy nie,” sê Madikiza.

Madikiza sê selfs met Motsepe se betrokkenheid was dit ’n uitdaging om die maatskappy op die been te kry.

“Toe ons die sakeplan vir die eerste keer aan Sanlam voorgelê het, was ons oortuig ons het ’n uitstekende plan.

“Maar 14 voorleggings later is die produk eers goedgekeur.”

Madikiza sê dit is “roekeloos” om te dink jy kan ’n onderneming sonder hulp begin.

“Ek is gemaklik daarmee dat Sanlam ’n belegger maar tog ook ’n mededinger is.

“Kyk net na ander voorbeelde. As dit nie vir groot rolspelers soos Rand Merchant Bank was nie, dan was daar nie maatskappye soos byvoorbeeld Outsurance of selfs Discovery nie.

“Ons het groot instansies nodig om ons te help om die sektor te betree.

“Wie weet, oor tien jaar kan AFL en Sanlam besluit dat ons paaie moet skei. Ons sal sien,” sê hy.

Hy meen ook daar is ruimte in die mark vir nog mededingers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.