Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo gee OM ‘kans om tronkstraf te vermy’

Peter Moyo, afgedankte uitvoerende hoof van Old Mutual, gaan dit Woensdag opnuut waag om ingevolge twee hofbevele sy pos by dié versekeraar in te neem.

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual (middel), en Eric Mabuza, sy regsverteenwoordiger (links), in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: William Horne

Moyo sal hom Woensdag om 08:00 by Old Mutual se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg aanmeld.

Dit sal die derde keer wees dat Moyo sal probeer om sy heraanstelling deur die hooggeregshof in Johannesburg te bewerkstellig nadat Old Mutual hom al twee keer geweier het.

Volgens Moyo is dié blokkering nie soos Old Mutual aanvoer “regstegnies regverdigbaar” nie, maar eerder blote minagting van die hof.

“Sy jongste poging tot terugkeer is nog ’n poging om die regstryd te beëindig deur Old Mutual, sy voorsitter en direkteure ’n verdere geleentheid te bied om hul minagting van die hof te versag deur te voldoen aan die bevele van die hof wat op 30 Julie en 6 September onderskeidelik gemaak is,” sê Eric Mabuza, Moyo se prokureur.

Moyo het Maandag in die hof die reg gekry om nuwe getuienis aan te bied in sy hofaansoek dat die maatskappy se direkteure skuldig bevind moet word aan verskeie gevalle van minagting van die hof.

Minagting van die hof is ’n oortreding wat tot tronkstraf kan lei.
Eric Mabuza

Tot dusver was sy pogings nie suksesvol nie en het regter Brian Mashile herhaaldelik sy uitspraak oor dié kwessie uitgestel.

Maar in Mashile se jongste uitspraak, wat Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg deur regter Moosa voorgelees is, het Moyo daarin geslaag om ’n kernpunt vir sy aansoek te bevorder; hy het die individuele direkteure van Old Mutual suksesvol tot die aansoek gevoeg.

Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, het twee weke gelede op ’n nuuskonferensie gesê die direksie is eensgesind oor hoe die Moyo-saak hanteer moet word. Vrydag het Pinky Moholi egter ná sewe jaar as direkteur bedank, nie lank nadat sy Moyo in ’n onderhoud lof toe geswaai het nie.

LEES OOK: Moyo-sage: 1ste direkteur bedank by Old Mutual

Mabuza bevestig dat Moyo dus nie verdere regsaksie teen Moholi sal neem nie, en dat sy dus nie meer vir minagting van die hof aangekla word nie.

Maar Moyo het glo nooit geglo dat die direksie werklik eensgesind teen hom optree nie, en het al herhaaldelik gesê dat dit eerder deur Manuel self gedryf word.

Fin24 het verneem dat sekere direkteure en Moyo se gesprekke om die hoftwis te beëindig, gevorder het. Moholi, Paul Baloyi en Itumeleng Kgaboesele het glo die gesprekke gehad.

Die onderhandelinge is egter ’n knou toegedien toe Manuel na Mashile verwys het as ’n “enkele individu wat toevallig ’n mantel dra” met verwysing na Mashile se beslissing oor Moyo se afdanking. Hy het later vir die “onbedagte opmerking” oor die regter om verskoning gevra.

Volgens Mabuza is Moyo se terugkeer na Old Mutual se kantore Woensdag dus ’n verdere geleentheid vir ander direkteure om hom goedgesind te wees.

“Dit is ’n geleentheid om hulself te reinig van hul minagting van die hof, of ten minste hul minagting te versag.

“Minagting van die hof is ’n oortreding wat tot tronkstraf kan lei,” sê Mabuza.

Meer oor:  Old Mutual  |  Brian Mashile  |  Trevor Manuel  |  Peter Moyo  |  Heraanstelling  |  Tronkstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.