Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo-hofsaak: ‘Old Mutual-direksie moet dalk bedank’

As Old Mutual se direksie nie kans sien om ’n “onskuldige man” weer aan te stel nie omdat dit “ongemaklik” sal wees, moet hulle óf “grootword” óf die maatskappy moet ’n nuwe, tussentydse direksie kry.

old mutual
Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: William Horne

Só het adv. Dali Mpofu Donderdag in die hooggeregshof van Johannesburg namens Peter Moyo aangevoer in die voormalige uitvoerende hoof se hofaansoek teen sy afdanking by Old Mutual.

Moyo se regspan het sy saak eerste gestel. Old Mutual sal namiddag hul teenargumente opper.

Moyo se regspan argumenteer dat hy eintlik ’n “fluitjieblaser” is wat volgens wet deur sy werkgewer sowel beskerm as aangemoedig moes word. Hy is egter toe eerder “onregmatig” afgedank vir “valse redes” en sy naam is “beswadder”.

Moyo beweer dat hy eintlik afgedank is vanweë sy besluit om sy kommer uit te spreek oor ’n belangebotsing waarby Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, betrokke was.

Old Mutual voer in hofstukke aan Moyo is die een met die belangebotsing, wat hy nie na wens bestuur het nie. Dit hou verband met die maatskappy NMT, waarvan Moyo ’n direkteur is.

Old Mutual se bewering dat daar ’n ineenstorting van vertroue tussen die direksie en Moyo was, is “geheel en al kunsmatig vervaardig,” voer Mpofu aan.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, nog ’n lid van Moyo se regspan, sê Old Mutual verdoesel doelbewus die aard van Moyo se afdanking: “Dis skelmstreke.”

Ngcukaitobi sê indien Old Mutual gevoel het Moyo het die voorwaardes van sy dienskontrak oortree, sou dit neerkom op wangedrag en bepaal Old Mutual se eie riglyne dat Moyo aan ’n tugverhoor onderwerp moes word. Daarop sou hy sy saak voor ’n onafhanklike en onpartydige voorsitter moes kon stel. Dit het nie gebeur nie.

Dus het die direksie van ’n genoteerde maatskappy “gekies om nie sy eie reëls te volg nie,” sê Ngcukaitobi.

Manuel, as voorsitter, het dus sonder om die behoorlike regsproses te volg, Moyo self beoordeel. “Dit beteken dit gee vir mnr. Manuel meer mag as die direksie of as Old Mutual self,” sê Ngcukaitobi.

In die eerste deel van Moyo se hofaansoek eis hy dat hy heraangestel word, en dat Old Mutual ophou om sy reputasie te beswadder deur middel van hul “valse bewerings”.

Mpofu sê in dié deel van die hofaansoek wil hulle net bepaal dat die direksie van Old Mutual hul fidusiêre pligte versuim het, en dus moontlik gronde is vir ’n nuwe tussentydse direksie.

Volgens hom is die algemeen verwagte verdediging in so ’n situasie dat die maatskappy sal aanvoer dat dit vir die direksie onmoontlik sal wees om weer met hom te kan saamwerk.

“Dis ’n verdoeseling. Dis ’n verskoning wat maatskappye maak om mense nie weer aan te stel nadat hulle self die fout gemaak het nie,” sê Mpofu.

Regter Brian Mashile het op dié punt gevra of ’n direksie nie sal sukkel om weer saam te werk met iemand soos Moyo, gegewe die verwikkelinge wat al geskied het, nie.

Die saak duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.