Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo hou vol hy het ‘net sy plig gedoen’
Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: William Horne

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, het Dinsdag buite die hooggeregshof in Johannesburg volgehou dat sy bestuur van sy belangebotsing “nooit verander het nie”. Hy glo daar is dus ’n “verskuilde rede” vir sy afdanking.

Moyo het buite die hof gepraat waar sy dringende hofaansoek teen Old Mutual, wat hom in Junie afgedank het, Dinsdag sou begin het.

“NMT en Old Mutual se verhouding is en was nog altyd dieselfde gehandhaaf vir die afgelope 14 jaar wat hulle saamwerk.”

Moyo se hofsaak teen sy voormalige werkgewer is tot Donderdag uitgestel. Die regter sê hy wil die hele dag oop hê vir die saak, wat nie Dinsdag moontlik was nie.

Moyo is vol vertroue dat die saak in sy guns sal verloop.

In sy dringende hofaansoek het Moyo twee aparte dele uiteengesit.

Die eerste deel is ’n aansoek vir ’n interdik teen Old Mutual wat hulle sal keer om ’n nuwe uitvoerende hoof in sy plek aan te stel. Hy wil ook hê sy afdanking moet as onwettig en ongrondwetlik verklaar word.

Die tweede deel van sy aansoek sal eers geld indien sy aansoek om heraanstelling slaag. Hierin eis Moyo skadevergoeding en dat die direksie van Old Mutual, veral Trevor Manuel, voorsitter van die finansiële reus, as “misdadige direkteure” verklaar word.

Old Mutual meen dat Moyo se skorsing en daaropvolgende afdanking regverdig was weens ’n “wesentlike ineenstorting van vertroue” tussen Moyo en die direksie rakende Moyo se belangebotsing met NMT Capital.

Moyo, ’n stigter en direkteur van NMT, het aanvanklik die bestaande belangebotsing goed bestuur, totdat hy dividende betalings van R115 miljoen goedgekeur het by NMT voordat skuld aan Old Mutual, wie voorkeurdividende gehou het, terugbetaal is.

Hy het self, beweer Old Mutual, R30,6 miljoen voordeel getrek uit dié besluit.

Moyo het Dinsdag buite die hof gesê die laat betaling van die R291 miljoen se skuld van NMT aan Old Mutual kon geensins in sy guns tel nie.

“Daar is strafrente ter sprake wat Old Mutual toe ontvang het. Die rente kos my as aandeelhouer by NMT méér as wat ek sou kon kry as die skuld vroeg betaal is.”

Die skuld is in Oktober 2018 betaal, sê hy.

Moyo het ’n 25%-belang in NMT.

Hy sê ook dat hy nie homself onttrek het aan die besluit van die NMT-direksie om die gewone dividende uit te keer nie, al was dit dalk ’n moontlike “vergroting van die belangebotsing” vir hom tussen die twee maatskappye. Volgens Moyo is daar slegs vier direkteure by NMT en geen onafhanklike direkteure nie. “As almal met ‘belangebotsings’ hulself moes onttrek, sou geen besluit ooit geneem kon word nie.”

Moyo meen dat hy “soos altyd” net sy plig gedoen het op albei maatskappye se direksies en sy belangebotsing konstant dieselfde bestuur het.

“Absoluut niks het verander oor hoe die situasie bestuur was nie,” sê hy.

Moyo het in sy beëdigde verklaring aangevoer dat Manuel ten tyde van Old Mutual se ontknoping in 2018 ook die voorsitter was van die firma Rothschild, een van die raadgewers van die einste ontknoping.

Moyo voer aan Rothschild het “honderdmiljoene rande” vir die advies verdien.

Moyo sê hy het openlik sy teenkanting uitgespreek oor Manuel se posisie op albei direksies, maar Manuel het geweier om hom daaraan te steur.

“Mnr. Manuel se houding teenoor my het hierna versleg,” sê hy.

Dit is dus weens dié redes en sy pogings om die omstredenheid te ontbloot dat Moyo beweer hy eintlik uit sy pos verwyder is.

Moyo se regsverteenwoordiger is Eric Mabuza, wat ook die omstrede voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Tom Moyane, verteenwoordig het.

Meer oor:  Old Mutual  |  Trevor Manuel  |  Peter Moyo  |  Hofsaak  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.