Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo: ‘Skynheilige Old Mutual hoort beter te weet’

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, het nou ’n vyfde hofaansoek gebring wat hy self reken ’n “mors van tyd is” wat net nodig geword het omdat die versekeraar “skynheilig” optree.

Moyo het opnuut Vrydag ’n dringende hofaansoek by die hooggeregshof in Johannesburg gebring om die versekeraar se soektog na ’n nuwe hoof te staak.

Peter MoyoFoto: Argief

Volgens Eric Mabuza, regsadviseur vir Moyo, is dit belaglik dat hulle dié stappe moet doen wanneer dit regstegnies duidelik is dat Old Mutual nie ’n nuwe hoof mag aanstel totdat die appèlproses afgehandel is nie.

’n Volbank regters het op 14 Januarie in Old Mutual se guns beslis nadat hy appèl aangeteken het teen regter Brian Mashile se vroeëre uitspraak dat Moyo heraangestel moet word.

Mabuza sê egter sy span het binne ’n uur vanaf dié uitspraak reeds kennis gegee dat hy gaan appelleer, en het amptelik sy hofaansoek op 28 Januarie in Bloemfontein ingedien.

Volgens Mabuza is dit doodeenvoudig: As ’n appèlaansoek ingedien is, skort dit die jongste hofbevel op, en Old Mutual het al self “keer op keer” dié argument gedurende die voortslepende regstryd ingespan.

“Old Mutual het slegs ’n paar maande gelede self vir die hele Suid-Afrika hardop gesê dat hofbevele opgeskort word as daar ’n appèlaansoek ingedien word,” sê Mabuza.

“Toe hulle geweier het om regter Mashile se hofbevel om mnr. Moyo weer aan te stel, in Julie te eerbiedig, het hulle dan juis hul besluit geregverdig deur te sê hulle wil daarteen appèl aanteken en hoef dus nie die bevel na te kom nie.

“Hulle weet dit,” sê Mabuza, “Dié interdik is eintlik geheel en al onnodig en ’n mors van tyd.”

Tabby Tsengiwe, woordvoerder vir Old Mutual, sê egter hulle soek nie regsadvies vanaf Mabuza nie.

“Ons gaan die hofaansoek teenstaan en voortgaan met ons soektog na ’n nuwe permanente uitvoerende hoof, soos beplan,” sê sy.

Old Mutual het nog nie amptelik sy antwoordende hofstukke ingedien nie en het tot 20 Februarie om dit te doen.

Die hofsaak sal op 10 Maart in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

Volgens Tsengiwe sal Old Mutual alles in sy mag doen om met “sake soos gewoonweg” voort te gaan.

Mabuza reken egter dis onregverdig teenoor kandidate vir die pos.

Old Mutual se regspan het die maatskappy aangeraai om die volbank regters se uitspraak van 14 Januarie as die “finale uitspraak” in die saak te ag, en enige appèlaansoek van Moyo is dus vir hulle irrelevant.

Moyo wag steeds op ’n hofdatum vir sy aansoek om die direksie van Old Mutual vir minagting van die hof aan te kla toe hulle ná die uitspraak in sy guns van Julie geweier het om hom weer aan te stel en hom toe vir ’n tweede keer in Augustus afgedank het. Mabuza sê hulle het nog nie ’n hofdatum ontvang vanaf die appèlhof in Bloemfontein nie.

Nog twee hangende sake is Moyo se aansoek om die direksie van Old Mutual tot misdadige direkteure te verklaar, asook sy aansoek vir skadevergoeding ter waarde van R250 miljoen.

Meer oor:  Old Mutual  |  Eric Mabuza  |  Peter Moyo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.