Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo vs. Manuel: ‘Toe breek alle hel los’
 peter moyo, old mutual
Peter Moyo, onlangs geskors as uitvoerende hoof van Old Mutual.

Peter Moyo sê die “ware rede” vir sy afdanking by Old Mutual is omdat hy sy stem dik gemaak het oor ’n belangebotsing waarby Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, betrokke was.

Moyo voer in ’n beëdigde verklaring aan dat Manuel, ’n direkteur van Old Mutual plc, ten tyde van die groep se ontknoping in 2018 ook die voorsitter was van die firma Rothschild, wat een van die raadgewers van die ontknoping was.

Moyo voer aan Rothschild het “honderde miljoene rande” vir die advies verdien.

Moyo sê hy het openlik sy teenkanting uitgespreek oor Manuel se posisies op albei direksies, maar Manuel het geweier om hom daaraan te steur.

“Mnr. Manuel se houding teenoor my het hierna agteruitgegaan,” sê hy.

Moyo sê sy klagte by die direksie oor die nie-openbaarmaking van miljoene rande wat Old Mutual glo betaal het vir Manuel se “regskoste vir sy wyd gepubliseerde regstryd wat betref die Guptas en hul vennote” was die laaste strooi.

Moyo voer aan dat aangesien Old Mutual niks met dié sake te doen gehad het nie, was dit ’n voordeel wat aan Manuel betaal is en wat dus verklaar moes word.

Hy sê Old Mutual se aandeelhouers het geen kennis van dié betaling gehad nie.

Moyo sê die direksie het ná ’n vergadering in Maart besluit om dit steeds nie bekend te maak nie.

Hy sê dit is “sagkens gestel” om te sê dat “die hel daarna losgebreek het” en dat Manuel hom met “openlike vyandigheid” behandel het.

Moyo se bewerings is deel van sy dringende aansoek wat op 27 Junie voor die hooggeregshof in Johannesburg gedien het en waarin hy eis dat hy dadelik in sy pos heraangestel word en Old Mutual verbied word om enigiemand anders in sy pos aan te stel.

Moyo sê een van Old Mutual se ander direkteure het hom gewaarsku dat Manuel “sy mes vir hom in het”.

Hy sê tussen 23 Mei, toe hy geskors is, en 17 Junie, toe hy afgedank is, was daar geen kommunikasie met hom oor “die besluit” nie.

Hy het Old Mutual glo dringend versoek om nié sy afdanking bekend te maak totdat hy genoeg tyd gehad het om die inhoud van die afdankingsbrief te bestudeer nie.

Trevor Manuel

Old Mutual het hom glo nie eens geantwoord nie en die media ’n dag later (op 18 Junie) van sy afdanking in kennis gestel.

Old Mutual het tot 4 Julie om ’n antwoord op Moyo se verklaring by die hof in te dien.

Eric Mabuza – wat ook die omstrede voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Tom Moyane, verteenwoordig het – is Moyo se regsverteenwoordiger.

Old Mutual voer aan dat Moyo geskors en later afgedank is weens ’n “wesentlike ineenstorting van vertroue” by die direksie omdat Moyo die betaling van twee stelle gewone dividende van altesame R115 miljoen deur die beleggingsbeheerfirma NMT, waarvan hy ’n stigter is, goedgekeur het.

Moyo was voorsitter van die direksie toe die dividende goedgekeur is; dit lyk nie of hy homself verskoon het van die besluit nie.

Moyo het regstreeks R30,6 miljoen se voordeel uit dié transaksies verdien.

Dis gedoen voordat dié maatskappy agterstallige voorkeurdividende aan Old Mutual, ’n voorkeuraandeelhouer, betaal het of die kapitaal wat Old Mutual voorgeskiet het, terugbetaal het.

Moyo sê in sy verklaring Old Mutual het geensins skade gely weens die laat betaling van die voorkeurdividende nie én dat Old Mutual se verteenwoordiger op die NMT direksie, Mobasheer Patel, óók die voorgestelde betalings goedgekeur het.

Meer oor:  Old Mutual  |  Trevor Manuel  |  Peter Moyo  |  Maatskappye  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.