Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo vs. Old Mutual: ‘Hy’s g’n fluitjieblaser’

Peter Moyo kan homself nie nou ’n fluitjieblaser noem nie – hy het dan sélf “afgeteken” op die direksiebesluit om Trevor Manuel se regskoste in ’n saak teen die Gupta-firma Sahara Computers te betaal, maar nie openbaar te maak nie.

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual (middel), en Eric Mabuza, sy regsverteenwoordiger (links), Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: William Horne

So het adv. Hamilton Maenetje, namens Old Mutual, Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg geargumenteer in die saak waarin Moyo eis dat hy as uitvoerende hoof heraangestel word. Moyo het homself uitgebeeld as ’n fluitjieblaser wat eintlik deur die maatskappy beskerm moes word, maar afgedank is omdat hy beswaar gemaak het daarteen dat die direksie Manuel, die direksievoorsitter, se regskoste betaal en dit nie openbaar maak nie.

Manuel het Sahara gedagvaar nadat dit deur middel van die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse bekend geword het dat dié maatskappy op die voormalige minister van finansies en verskeie ander prominente figure gespioeneer het.

Maenetje het Vrydag die notule van die einste vergadering van die direksie se benoemingskomitee op 6 Maart as bewysstuk voorgelê.

In dié notule is dit duidelik dat Manuel homself dadelik onttrek het van die gesprek, en die direksie toe besluit het om die ouditeure te vra om ’n mening uit te spreek. Dié direksie, insluitend Moyo, het toe afgeteken op die advies dat die koste nie openbaar gemaak hoef te word nie, omdat dit steeds in die belang van Old Mutual was om dit te dek.

Volgens Maenetje is daar dus nie gronde om Moyo tot fluitjieblaser te verklaar nie, en was hy dus ook nie beskerming verskuldig nie.

Maenetje sê Moyo het ook nie bewys dat dié saak met sy afdanking verband hou nie.

“Die hof word dus gevra om slegs op ’n aanname dié gevolgtrekking sonder bewyse af te lei.”

Moyo het ook beweer hy is eintlik ’n fluitjieblaser omdat hy sy kommer uitgespreek het oor ’n belangebotsing waarby Manuel betrokke is.

Manuel was tydens die groep se ontknoping in 2018 ook op die direksie van Rothschild & Co, wat as raadgewer vir die ontknoping opgetree het. Manuel is sedert 2014 ’n senior adviseur by Rothschild en het in Maart vanjaar weer by die maatskappy aangesluit as nie-uitvoerende voorsitter.

Volgens Moyo wou hy juis dié belangebotsing uitlig, maar Old Mutual se direksie het hom nie daaraan gesteur nie.

Verklarings

Maenetje het die hof daarop gewys dat Moyo se twee beëdigde verklarings met betrekking tot dié saak wesentlik verander het nadat Manuel sy eie verklaring ingedien het.

Daarin voer Manuel aan hy het hom aan alle besluite en onderhandelinge rakende Old Mutual onttrek tydens direksievergaderings van Rothschild, juis om ’n belangebotsing te vermy.

Moyo het aanvanklik aangevoer Manuel het hom nié onttrek nie.

Nadat Manuel egter in sy verklaring bevestig het hy het nie aan enige gesprekvoering rakende Old Mutual deelgeneem nie, het Moyo in ’n tweede verklaring gesê sover hy weet, was Manuel steeds teenwoordig en al het hy niks gesê nie, kan dit nie as ’n “onttrekking” beskou word nie.

Volgens Maenetje is dit vreemd dat Moyo maande ná die feit skielik ’n probleem gehad het met Manuel se betrokkenheid by die ontknopingsproses.

Maenetje het gesê Moyo impliseer dat die hele Old Mutual-direksie van 14 mense almal leuenaars is.

Vrydag was die laaste dag vir argumente van die tweedaagse saak. Regter Brian Mashile het sy uitspraak tot op die laatste op Vrydag 26 Julie voorbehou.

Meer oor:  Old Mutual  |  Trevor Manuel  |  Peter Moyo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.