Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo vs. Old Mutual: Regter se enorme besluit wink

Met tronkstraf op die spel, wag die sage tussen Old Mutual en Peter Moyo steeds op ’n hofdatum waarop die voorsittende regter sal moet besluit of hy homself sal verskoon of nie.

peter moyo
Peter Moyo tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: William Horne

Regter Brian Mashile het ’n aansoek vanaf Old Mutual ontvang om homself te verskoon van die saak, waarin hy al drie keer in Moyo se guns beslis het.

Moyo se jongste aansoek om Old Mutual vir minagting van die hof aanspreeklik te hou, sou Dinsdag geskied het, maar is weer uitgeskuif.

Eric Mabuza, Moyo se prokureur, het Maandag aan Netwerk24 bevestig dat Mashile nie tans beskikbaar is nie, en dat hulle steeds wag op ’n bevestiging van ’n finale hofdatum.

Moyo wil hê Mashile moet Old Mutual aan minagting van die hof skuldig bevind nadat die versekeraar drie keer geweier het om Moyo ingevolge Mashile se uitsprake weer aan te stel.

Die versekeraar se aparte appèlaansoek is wel goedgekeur en sal nou op 4 Desember aangehoor word. Dié appèl is omdat Old Mutual al herhaaldelik gesê het hy glo ’n ander hof en regter sal tot ’n ander gevolgtrekking sal kom oor of Moyo heraangestel moet word.

Intussen moet Moyo se hofaansoek om Old Mutual vir minagting van die hof aan te kla, eers in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

Old Mutual voer egter aan dat daar ’n belangebotsing is wat van Mashile vereis dat hy homself verskoon van dié jongste hoofstuk in die regstryd tussen die versekeraar en sy afgedankte hoof.

Moyo het op 15 Oktober ’n verdere beëdigde verklaring by die hof ingedien as deel van dié aansoek, waarin hy nou beweer dat die maatskappy se direkteure ’n veldtog begin het om Mashile persoonlik te beledig.

Dit is op dié deel van die hofaansoek wat Old Mutual fokus as gronde vir sy aansoek dat Mashile homself verskoon om ’n belangebotsing te vermy.

Moyo het egter dié aantyging ingesluit veral op gronde van hoe Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, op 13 September vir die eerste keer op ’n mediakonferensie in die openbaar oor die regstryd gepraat het.

In sy toespraak by Old Mutual Insure se kantore in Johannesburg het Manuel regter Mashile se uitspraak dat Moyo in daardie stadium al vir die tweede keer heraangestel moes word, “bisar” genoem.

Manuel het toe gal gebraak oor die sage en bevraagteken hoe ’n “enkele persoon wat toevallig ’n toga dra” besluite teen Old Mutual kan neem wat oënskynlik strydig is met die Maatskappywet.

Die opmerking is gemaak in die konteks van Manuel se siening dat Mashile se uitspraak die direksie stroop van sy wetlike verantwoordelikhede, onder meer om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te wys.

Manuel het wel op 17 September “onvoorwaardelik” om verskoning gevra vir sy kommentaar.

In ’n verklaring op 29 Oktober sê Old Mutual dat Moyo vir Mashile die onderwerp van die dreigende minagtingsverrigtinge gemaak het.

“Die direkteure sê met nadruk dat hulle geen disrespek vir regter Mashile het nie.

“Deur regter Mashile egter die onderwerp van die minagtingsverrigtinge te maak, het mnr. Moyo se regspan ’n situasie geskep waar die regter sal moet beslis oor eise wat hom nou persoonlik betrek,” verduidelik Old Mutual sy besluit.

Moyo se minagtingsaansoek hou die 13 oorblywende direkteure van Old Mutual persoonlik aanspreeklik, en indien dit sou slaag, sou tot ses maande tronkstraf hulle in die gesig staar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.