Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Moyo vs. Old Mutual: Stryd stééds nie verby
Peter MoyoFoto: Argief

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, is dalk sy werk kwyt, maar hy is nog lank nie klaar met die finansiëledienstefirma nie.

’n Volbank regters in die hooggeregshof in Johannesburg het Woensdag regter Brian Mashile se oorspronklike uitspraak van Julie 2019 – dat Old Mutual vir Moyo weer tydelik moes aanstel – met koste ter syde gestel.

Dit volg op Old Mutual se appèl teen dié uitspraak.

Moyo het ná die uitspraak aan joernaliste buite die hof gesê hy en sy regspan sal die uitspraak van 46 bladsye eers goed bestudeer voordat hulle besluit of hulle gaan appelleer.

Moyo sê hulle oorweeg wel om nou die appèlhof te nader.

Eric Mabuza, Moyo se prokureur, se reaksie was dat “die uitspraak niks verander nie”.

“Daar is nog ’n lang pad wat voorlê. As ons instruksie kry om te appelleer, dan maak ons so,” sê Mabuza.

Moyo sê as hulle besluit om appèl aan te teken, “dan herstel ons die status quo”.

Op die vraag of Old Mutual nou kan voortgaan om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te stel, was Moyo se reaksie: “As ons vanaand appèl aanteken, dan verander dit.”

Moyo en Mabuza sê hulle beplan ook om voort te gaan met ander aansoeke wat reeds teen Old Mutual gebring is.

“Ons gaan nog steeds aan met deel B van die aansoek, asook ons aansoek oor minagting van die hof,” sê Mabuza.

Luidens deel B van sy aansoek eis Moyo R250 miljoen van Old Mutual as skadevergoeding.

LEES OOK: Peter Moyo eis R250 miljoen van Old Mutual

Wat betref die aansoek om minagting van die hof, gaan dit juis daaroor dat Old Mutual geweier het om Moyo weer in sy pos aan te stel, of selfs in sy gebou in Sandton, Johannesburg, toe te laat ná Mashile se oorspronklike uitspraak.

Mabuza sê hulle verwag om binnekort ’n hofdatum te ontvang in dié saak.

Geskil

Die geskil tussen Old Mutual en Moyo het in Mei 2019 die nuus gehaal nadat die versekeraar aanvanklik eers vir Moyo geskors en daarna in Junie afgedank het.

Old Mutual het Moyo later in Augustus vir die tweede keer afgedank.

Old Mutual het Moyo in weerwil van Mashile se uitspraak telkemale in 2019 gekeer om terug te gaan werk toe.

Old Mutual het in sy appèlaansoek, wat in Desember gehoor is, voet by stuk gehou dat hy Moyo ingevolge klousule 24.1.1 van sy indiensnemingskontrak afgedank het.

Klousule 24 bepaal dat die kontrak beëindig kan word deurdat “enige van die partye aan die ander party skriftelik kennis gee”. Die beëindiging van die dienskontrak is dan aan ’n kennistydperk van ses maande onderhewig.

Klousule 24.1.1 stel dit duidelik dat nie een van die partye ’n rede hoef te verskaf hoekom hulle die kontrak wil beëindig nie.

Old Mutual se kantoor in Johannesburg. Foto: Reuters

Moyo het op sy beurt aangevoer dat dit nie die geval was nie en dat hy geregtig was op ’n dissiplinêre verhoor voordat ’n besluit oor sy indiensneming geneem kon word.

Die oorlog in Old Mutual se raadsaal het gekom nadat die maatskappy Moyo afgedank het weens ’n “wesenlike ineenstorting van vertroue” tussen Moyo en die direksie rakende Moyo se belangebotsing met NMT Capital.

Moyo, ’n stigter en direkteur van NMT, het aanvanklik die bestaande belangebotsing goed bestuur totdat hy dividendebetalings van R115 miljoen goedgekeur het by NMT voordat skuld aan Old Mutual, wat voorkeurdividende gehou het, terugbetaal is.

Old Mutual beweer hy het persoonlik R30,6 miljoen se voordeel getrek uit dié besluit.

Moyo het weer beweer die “ware rede” vir sy afdanking by Old Mutual is omdat hy sy stem dik gemaak het oor ’n belangebotsing waarby Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, betrokke was.

Manuel was ’n direkteur van Rothschild, wat adviesdienste aan Old Mutual gelewer het met die Britse moedermaatskappy se ontknoping.

Reaksie

Old Mutual sê Dinsdag in ’n verklaring wat kort ná die uitspraak uitgereik is hy “verwelkom vandag se uitspraak in die hooggeregshof, wat die bevel op 30 Julie 2019 om Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof, weer tydelik aan te stel, met koste ter syde gestel het.

“Dit bevestig dat Old Mutual wettig opgetree het om Moyo se kontrak te beëindig.

“Die belangrikste is dat dit ook wettige duidelikheid bied oor korporatiewe bestuur, insluitend die verhouding tussen ’n raad en uitvoerende leierskap.”

Beleggers was ook duidelik bly oor die uitspraak. Old Mutual se aandeleprys het kort na die uitspraak met meer as 4% tot R19,89 op die JSE gestyg.

opgedateerde tydlyn

Meer oor:  Old Mutual  |  Peter Moyo  |  Maatskappye  |  Hofsaak  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.