Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mr Price gaan miljarde verloor tydens inperking

Die staat van inperking gaan nie net vir Mr Price miljarde in verlore inkomste kos nie, dit gaan ook berge voorraad laat ophoop wat nou nie afgelewer kan word nie.

Mr Price-winkels by die Centurion Lifestyle Centre. Foto: Verskaf

Die kleregroep sê Donderdag in ’n bitter negatiewe handelsverklaring die sluiting van sy winkels landwyd tydens die staat van inperking vanaf middernag tot 16 April gaan verwoesting saai met sy finansiële resultate nadat verkope reeds in Maart begin stol het.

Mr Price verduidelik voordat pres. Cyril Ramaphosa op 15 Maart ’n ramptoestand verklaar het, was sy verkope vir die eerste twee weke van die maand 8,6% hoër.

Ná Ramaphosa se toespraak het verkope egter begin kwyn omdat verbruikers kos en ander noodsaaklike goedere begin prioritiseer het uit vrees vir die impak van die Covid-19-pandemie.

Tussen 16 Maart en 24 Maart het verkope met 22,1% getuimel.

Volgens die maatskappy is dit ’n tendens wat internasionaal ook beleef is, waar lande die impak van die pandemie begin voel het met die daling van ekonomiese aktiwiteit selfs sonder dat ’n staat van inperking toegepas is.

Vir die volgende drie weke gaan verkope egter tot nul val.

Om te kwantifiseer hoe groot die verlies kan wees, verduidelik Mr Price dat verkope in die eerste drie weke van sy boekjaar R1,2 miljard beloop het.

Maar die einde van die staat van inperking gaan ook nie die einde van Mr Price se probleme wees nie.

Die maatskappy sê hy verwag dat verkope selfs daarna vir “weke, selfs maande” geknou gaan word deur verbruikers wat ook die pyn gevoel het van drie weke sonder dat hulle gewerk het, met baie wat verkleinde of selfs geen salaris sou kon verdien tydens die staat van inperking nie.

Die maatskappy se skuldboek van R2,1 miljard gaan ook swaar getref word deur die gebrek aan inkomste wat baie van sy klante gaan beleef in die volgende paar weke en selfs tot later in die jaar soos die ekonomie waarskynlik in resessie gedomper gaan word.

“Oor die algemeen het skuldbetalings aan verwagtinge voldoen, maar die moeilike situasie van verbruikers sal hul vermoë om skuldbetalings te bestuur, belemmer. As gevolg hiervan, verwag ons dat skuldbetalings sal agteruitgaan,” sê Mr Price.

Onderhandelinge is ook nou aan die gang met die maatskappy se verskaffers om kontrakte vir nuwe voorraad wat tussen 26 Maart en 16 April vervaardig en afgelewer sou word, te heronderhandel.

“Alle fokus word nou geplaas daarop om die bestelboek te bestuur sodat ’n opeenhoping van voorraad nie gebeur nie.”

Mr Price sê sy sterk kontantreserwes behoort hom te kan help die komende onstuimigheid te trotseer, maar nietemin is hy nou besig met grootskaalse kostebesparings.

Om te verseker dat sy werksmag wel betaal word tydens April en Mei, gaan daar onder meer geen verhogings aan sy bestuurslui en hoofkantoorpersoneel toegeken word vanjaar nie.

Uitvoerende beamptes en direkteure sal inderwaarheid vanjaar salarisverlagings aanvaar.

Die maatskappy maak dit wel duidelik dat hy ten volle Ramaphosa se besluit om ’n staat van inperking toe te pas, ondersteun.

Hy sê wel met sy boekjaar wat amper tot ’n einde kom, is hy nie seker of hy sperdatums om sy resultate te publiseer, sal kan haal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.