Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mr Price het nou baba- en skoolklere op sy rakke
Mr Price
Die vertoonvenster van een van Mr Price se winkels waar babaklere nou op die winkelrakke is.

Die Mr Price-groep het vandeesmaand babaklere in sy winkels bekend gestel nadat groeigeleenthede in dié mark geïdentifiseer is. 

Mark Blair, uitvoerende hoof van die Mr Price-groep, het Donderdag op ’n aanbieding van sy resultate vir die halfjaar tot einde September gesê dit is een van die geleenthede wat strategiese navorsing geïdentifiseer het.

Die navorsing is gedoen om vas te stel watter geleenthede daar vir groei en uitbreiding is en hoe sy klerewinkels markaandeel kan terugwen.

“Die babamark het verkope van R3,8 miljard in Suid-Afrika en word oorheers deur een rolspeler. Ons glo ons het ’n goeie geleentheid om markaandeel te wen. Dit is ’n wesenlike potensiële mark.”

Die babaklere is begin November in fisieke winkels en aanlyn bekend gestel. Dit is reeds in 188 winkels. Die aanvanklike aanduidings is dat dit goed verkoop. 

Swaar Swart Vrydag, Kerstyd lê dalk voor

Mr Price vrees Swart Vrydag gaan vanjaar swakker as verlede jaar wees en dat Kersverkope ook in die gedrang kan kom. 

Ná die halfjaar onder oorsig het sy verkope met dubbelsyfers gestyg in die eerste ses weke van die nuwe halfjaar. Dít het egter verlede week begin verander toe verkope nie vergeleke met die ooreenstemmende week verlede jaar gegroei het nie. Vandeesweek het verkope teenoor die ooreenstemmende week gedaal. 

Hy skryf dit toe aan hoe versigtig winkels moet wees om die getal inkopiegangers te beheer (vergeleke met verlede jaar). 

“Ons verwag ’n moeilike Swart Vrydag-week, deels weens die getalle wat beheer moet word en omdat dit gemeet gaan word teen die sterk vertoning verlede jaar.”

Boonop word gevrees dat inkopiepatrone voor Kersfees kan verander omdat die verligting wat die regering en die private sektor aan verbruikers gebied het, tot ’n einde kom en die druk op huishoudings se besteebare inkomste weer toeneem.

Die groep het ook vir die eerste keer skoolklere in sy winkels bekend gestel. Dié mark het totale verkope van R4,5 miljard en die Mr Price-groep glo hy kan hier ’n dubbelsyfer-markaandeel kry.

Sy mededingers in baba- en skoolklere is Jet, Pep, Ackermans en Woolworths.

Die groep is in die proses om die volle reeks skoolklere in sy winkels bekend te stel. Die voorraad sal in die eerste week van Desember volledig in alle winkels wees. 

Blair sê al dié skoolklere word in Suid-Afrika vervaardig. 

Die groep stel ook mrp&co bekend. Dit behels allerlei produkte wat vir geskenke gekoop kan word, soos tegnologie en skryfbehoeftes. 

Die navorsing het ook die potensiaal vir ’n nuwe kleinhandelwinkel geïdentifiseer in ’n kategorie waarin die groep nie betrokke is nie. Blair wou nie hieroor uitwei nie. 

Mr Price

Verkrygings 

Die maatskappy kyk ook na verkrygings en het Donderdag aangekondig dat hy sy eerste wesenlike verkryging gedoen het sedert hy in die laat 1990’s Sheet Street verkry het. Hy is in die proses om die snelgroeiende en winsgewende Power Fashion met sy 170 winkels landwyd te bekom. Power Fashion fokus op die kleremark vir laerinkomstegroepe.

Blair sê nuwe produkte en kategorie-uitbreidings wat voortspruit uit hul navorsing, het die afgelope 12 maande tot R400 miljoen se nuwe verkope bygedra. 

Dit sluit in die skoonheidsproduktereeks wat in November 2019 onder die Scarlet Hill-handelsnaam bekend gestel is, asook groter groottes klere wat die groep begin verkoop het. 

Mr Price

Mr Price se inkomste het in die halfjaar met 14% tot R9,2 miljard gedaal nadat nagenoeg R1,8 miljard se verkope in April verloor is. April uitgesluit, het kleinhandelverkope met 3% gestyg. 

Sy wins het met 34% tot R753 miljoen gedaal weens die impak van die staat van inperking. Sy bruto winsmarge het egter verbeter. 

Blair sê van Mei tot September het die verligting wat deur die regering en private sektor aan verbruikers gegee is, verbruikersbesteding help lig. 

Die groep het die afgelope maande markaandeel gewen. Veral kontantverkope het goed gevaar en het die afgelope maande met 6,4% gestyg. 

Mr Price se aandeelprys het Donderdag met 7% gestyg nadat die resultate uitgereik is en hy aangekondig het dat hy sy dividenduitkering hervat.

Mr Price



Meer oor:  Mr Price  |  Skoolklere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.