
Mark Blair, uitvoerende hoof van die Mr Price-groep, tydens die aanbieding Donderdag. Foto: Skermgreep
Die Mr Price-groep gaan die klerewinkelgroep Power Fashion, wat op die laerinkomstemark fokus, aanskaf.
Dit sal sy eerste groot verkryging sedert die 1990’s wees.
Mark Blair, uitvoerende hoof van die Mr Price-groep, het Donderdag aangekondig ’n ooreenkoms is gesluit om die snelgroeiende Durbanse winkelgroep met 170 winkels landwyd, te verkry.
Volgens hom was Mr Price se laaste wesenlike verkryging toe hy Sheet Street in die 1990’s gekoop het.
Power Fashion is volgens hom waarskynlik betreklik onbekend aan die meeste beleggers omdat sy winkels nie in groot winkelsentrums aangetref word nie, maar in gemeenskapswinkelsentrums.
Power Fashion verkoop net op kontant aan lae- tot middelinkomste-huishoudings en fokus meer op pryse as op modes.
Blair sê die verkryging gaan aan die Mr Price-groep toegang tot ’n groter teikengroep gee.
Die groep het die afgelope jaar navorsing gedoen om geleenthede vir groei te identifiseer, binne en buite die onderneming.
Van die geleenthede wat geïdentifiseer is, sluit in skool- en babaklere, wat Mr Price nou ook gaan begin verkoop.
Die feit dat Power Fashion selfs te midde van die pandemie hoë groei getoon het, het volgens Blair ’n groot rol in die besluit gespeel.
“Power Fashion is nie ’n koronavirusslagoffer nie en hoef nie reggeruk te word nie.
“Dit is ’n bestaande onderneming met aantreklike skaalvoordele wat teen ’n taamlik goeie waardasie bekom word. Die onderneming gaan onmiddellik tot ons wins bydra en is nie afhanklik van sinergieë daarvoor nie.”

Die Power Fashion-winkel wat op 24 Oktober 2019 in Welkom geopen het. Dit was die groep se 147ste winkel. Foto: Facebook
Daar is ook geleenthede vir uitbreiding van winkels en produkkategorieë.
Mr Price gaan die transaksie met sy bestaande kontant finansier ná goeie kontantverkope die afgelope maande. Dit het verseker dat die groep nie aandele hoef uit te reik om geld in te samel soos hy vroeër vanjaar van voornemens was om te doen nie.
Die transaksie is nie groot genoeg vir ’n verpligte aankondiging aan beleggers nie. Dit beloop sowat 4% van die Mr Price-groep se markwaarde wat tans R42,3 miljard is.
Die winkelgroep word deur die Otto-familie besit. Noel Otto is die uitvoerende hoof.
Hy gaan aftree wanneer die transaksie in werking tree, maar ’n konsultasie-ooreenkoms gaan met hom gesluit word om kontinuïteit te verseker.
Die bestaande bestuurspan en personeel gaan oorskuif na Mr Price en ’n nuwe besturende direkteur sal aangestel word.
“Dit was ’n ongelooflike reis om die onderneming op te bou tot wat dit vandag is. Op ’n manier het die reis nou eers begin en ek kan nie aan ’n beter pad vorentoe dink as om die aflosstokkie aan Mr Price te oorhandig om die groei voort te sit nie,” sê Otto.
Hy sê albei maatskappye word deur ’n sterk ondernemingsgees aangedryf.
Blair sê die twee ondernemings deel dieselde stel waardes, wat die verkryging gepas maak.
As alles goed verloop met die Mededingingskommissie en ander opskortende voorwaardes, sal die transaksie in April volgende jaar in werking tree.

’n Foto op Power Fashion se Facebook-blad wat in 2016 geneem is, wys hoe die winkels binne lyk. Die winkelgroep fokus op prys eerder as modes. Foto: Facebook