Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mr Price: Virus-skade gaan meer as jaar duur

Met talle promosies wat oor die volgende maande in klerewinkels verwag word, gaan dit moeilik wees om voorraad teen die beplande winsmarges te verkoop, sê die Mr Price-groep.

Mr Price sê die impak van Covid-19 op klerekleinhandelaars gaan baie lank duur.

Die genoteerde kleinhandelaar het Donderdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart uitgereik. Hy het geen slotdividend verklaar nie ten einde kontant te bewaar in dié onsekere tye.

“Die impak van die koronavirus op die ekonomie en die kleinhandelsektor gaan verreikend wees en minstens 12 maande voortduur,” het Mark Blair, uitvoerende hoof, gesê.

Namate mededingers van voorraad ontslae probeer raak, gaan daar na verwagting baie promosies in die klerekleinhandelsektor wees. Dit gaan ’n negatiewe impak hê op die groep se vermoë om sy voorraad soos beplan en teen die beplande winsmarges te verkoop.

In die lig hiervan is die voorsiening vir voorraad wat onder kosprys verkoop sal moet word, van die vorige jaar se R189 miljoen tot R282 miljoen verhoog.

LEES OOK: Vloed klere van Edgars kan gou winskopies wees

Opgehoopte vraag tydelik

In April, aan die begin van die nuwe boekjaar toe sy deure gesluit was in die eerste fase van die staat van inperking, was sy verkope 89% laer as die verkope van R1,9 miljard wat in April 2019 behaal is.

In die laaste twee weke van Maart het sy verkope met 33% gedaal. 

Van begin Mei af tot 20 Junie het die opgehoopte vraag tot stewige verkope gelei, grootliks van weë die eerste twee weke se skerp styging in verkope.

Mr Price se klereverkope het met 16% gestyg. 

Verskeie faktore het tot die buitengewoon goeie vraag gelei, naamlik die vraag na winter- en kinderklere, hoër welsynstoelaes, die skuldbetalingsvakansies wat banke toestaan, uitbetalings deur die Werkloosheidsversekeringsfonds en die uitgestelde vraag omdat winkels in April gesluit was. 

Dié groei in verkope was egter net tydelik. Volgens Blair het verkope reeds in Junie begin verlangsaam. Oor die hele tydperk van begin April af tot 20 Junie het verkope 31% gedaal. 

Tendense bespeur

Hy het gesê daar is ’n gedwonge verskuiwing na aanlyn-winkels. Aanlyn verkope het oor dieselfde tydperk met 90% opgeskiet.

Daar is ook ’n opvallende verskuiwing ten opsigte van watter winkels klante besoek en verbruikers verkies winkels wat gerieflik geleë is. Kleiner alleenstaande kinderklerewinkels het wesenlike groei getoon. 

Kleiner winkelsentrums het ook beter gedoen as groot winkelsentrums wat minder ure oop is, volgens hom. 

Volgens Blair het verbruikers ook minder winkel toe gegaan, maar die gemiddelde besteding per transaksie het gestyg. 

Die Mr Price-groep het ook soos ander winkelgroepe gesukkel met klante wat nie hul rekeninge tydens die inperking kon betaal nie omdat baie van die betalings in die winkels gedoen word. Betalings was laer in Mei en Junie as in die vorige jaar.

Besteding beperk

Sowat R300 miljoen se uitgawes is geïdentifiseer wat verminder kan word om kontant te bewaar. Dit sluit in om die begrote kapitaalbesteding vir die komende boekjaar met 23% te verminder.

Personeelkoste word ook besnoei deur salarisverhogings in die hoofkantoor op te skort, poste wat gevries is, kontrakteurs wat verminder is en arbeidsure wat gerasionaliseer is. 

Tydens die eerste vyf weke van die inperking het die groep se kontantreserwes met R2 miljard gedaal.

Sedertdien het sterk kontantverkope verseker dat die groep se finansiële posisie sterk bly met kontantbronne en ’n skuldvrye balansstaat.

Mr Price het onlangs aangekondig hy wil kapitaal van beleggers insamel deur nog aandele uit te reik wat tot 10% van sy huidige gewone aandele sal beloop.

Die plan is om die geld vir eie groeigeleenthede aan te wend en moontlik vir verkrygings.

Ommekeer van klerewinkels vorder

Die maatskappy se inkomste uit voortgesette bedrywighede het in die afgelope boekjaar met 2,1% tot R23 miljard gestyg.

Uitgesluit nuwe winkels het verkope met 1,4% gedaal.

In die boekjaar is 71 nuwe winkels geopen en 16 vergroot.

Die ommekeer van die grootste afdeling van die groep – sy klerewinkels – het gevorder.

Klerewinkels se verkope en ander inkomste het met 1,2% tot R15,8 miljard gestyg. Die bedryfswins uit voortgesette bedrywighede het oor die hele boekjaar met 4,6% tot R2,6 miljard gedaal ná ’n daling van 13,6% in die eerste ses maande. In die tweede helfte het die bedryfswins met 2,5% gestyg.

In geheel het die groep se bedryfswins uit voortgesette bedrywighede dieselfde gebly as die vorige jaar, op R4 miljard.


Meer oor:  Mr Price  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Klere  |  Klerekleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.