Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mr Price wen markaandeel; Miladys trek swaar

Klerewinkels wat billike klere verkoop, soos Mr Price, het bes moontlik as die wenners uit die Covid-19-krisis getree, blyk uit ’n handelsverklaring wat die kleinhandelgroep Mr Price Donderdagoggend uitgereik het.

Mr Price se MRP-klerewinkel wen markaandeel, maar Miladys se klante is meer konserwatief en bly uit winkels weg.

Daarby het winkels in klein winkelsentrums naby mense se huise beter gevaar as dié in groot streekwinkelsentrums.

Oefenklere en -toerusting van Mr Price Sport het flink verkoop toe mense in Mei weer buite kon begin oefen, en mense wat van die huis af werk, bestee stadigaan meer by Mr Price Home en Sheet Street om hul huis op te dollie.

Aan die ander kant het Miladys se “meer volwasse en konserwatiewe klant” winkelsentrums vermy, wat verkope by dié klerewinkel geknou het. Dié winkel het ook meer kredietverkope en word dus méér geknou deur die druk op verbruikers, wat nie meer skuld kan aangaan nie.

Markaandeel

Hoewel die groep ’n enorme slag toegedien is weens die sluiting van winkels op vlak 5 van die inperking, het Mr Price die afgelope vier maande markaandeel gewen. Die groep se markaandeel teen einde Junie was die hoogste in 14 maande.

Verkope wisselvallig

Die maatskappy het in die 20 weke tot 15 Augustus R6,2 miljard se klere en huisware verkoop.

Klereverkope het met 22,2% geval en verkope van huisware met 15%. Vir die hele groep het verkope met 19,2% geval. Verkope in winkels wat ook in die vorige jaar oop was (vergelykbare verkope) het met onderskeidelik 23,8% en 16% geval en vir die hele groep met 20,6%, wat beteken nuwe winkels het ’n klein hupstoot vir verkope gegee.

Die aantal klere-artikels wat verkoop is, was 25,4% minder as dieselfde tydperk in 2019, maar Mr Price kon sy pryse met 4,4% verhoog. Vir huisware was die aantal artikels 17,4% minder, en prysstygings 2,6%. Vir die hele groep is 23,3% minder items verkoop teen pryse wat 5,5% hoër was (die groepsyfers sluit ook selfone en bykomstighede in, wat die hoër prysstygings verklaar).

k

Mr Price se winkels was net in April heeltemal gesluit. Vir dié maand was verkope 89,9% laer as in 2019.

Die groep sê toe winkels heropen het, was dit duidelik verbruikers het opgehoopte kooplus gehad. Verkope op vlak 4 was 12% hoër as in dieselfde tydperk van 2019, selfs al was daar perke op watter klere verkoop kon word (aanvanklik kon slegs winters- en kinderklere verkoop word en net winterbeddegoed).

In Junie het verkope egter begin taan, wat Mr Price onder meer aan die skoolvakansie toeskryf. Julie se verkope was ook traag, deels weens voorraadtekorte in sekere klerekategorieë. Dis in Augustus reggestel en het tot dubbelsyfergroei in verkope gelei.

Mr Price sê die meeste mense verkies nou om kontant te betaal vir klere. Kontantverkope het met 8,9% gestyg en verteenwoordig 86,2% van alle verkope. Kredietverkope het met 12,3% geval.

Aanlyn verkope het met 75% gestyg en is gemiddeld selfs hoër as wat op Swart Vrydag in 2019 beleef is. Mr Price sê sy vroeëre beleggings in e-handel het hom in staat gestel om vinnig te reageer toe verbruikers meer aanlyn begin koop het.

Die selfoonafdeling se groei van 49,7% word deels daaraan toegeskryf dat selfone en bykomstighede nou ook aanlyn te koop is.

Verkope in die Wes-Kaap en Gauteng is die ergste geraak, wat ooreenstem met die Covid-19-brandpunte in dié tydperk. Gauteng is waar Mr Price gewoonlik die meeste geld maak.

Die groep sê daar was ’n groot vraag na oefenklere en -toerusting toe mense weer buite kon begin oefen in Mei. Mr Price Sport is egter negatief geraak deur die perk op skole- en spansport en die sluiting van gimnasiums.

Aandele-uitreiking

Mr Price het op sy jaarvergadering einde Junie aandeelhouers se toestemming gekry om nog aandele uit te reik vir ’n kontantinspuiting op sy balansstaat en om die groep in staat te stel om verkrygings te doen.

Die groep stel steeds in verkrygings belang, maar sê daar is nie enige spesifieke teikens wat aan sy kriteria voldoen nie. Daar was in ’n stadium sprake dat Mr Price in Edcon se Jet-winkels belang kon stel, maar die groep het dit ontken; Jet is intussen deur TFG (wat Foschini insluit) gekoop.

Hy sê ook hy is optimisties dat sy balansstaat ná die inperking sterk genoeg staan.

Daarom gaan Mr Price nie nou nuwe aandele uitreik nie.

Vooruitsigte

Mr Price verwag dat verbruikers onder enorme druk gaan wees, nie net in die tweede helfte van sy boekjaar nie, maar ook oor die volgende 12 tot 18 maande.

Toestande gaan vererger soos regeringshulp en banke se betaalvakansies aan mense met skuld ten einde loop, noodspaargeld opraak, werkloosheid toeneem en mense met werk moet klaarkom met lae of geen verhogings.

Die Werkloosheidsversekeringsfonds se tydelike hulpskema (die Covid19Ters) is reeds klaar en die verhoging van staatstoelae en die nuwe toelae van R350 per maand eindig in Oktober. Banke het in die algemeen slegs drie maande se betaalvakansies toegestaan aan mense met skuld wie se inkomste deur die Covid-19-inperkings verminder is; dié tydperk is waarskynlik vir die meeste reeds verby.

Hy gaan versigtig bly om krediet toe te staan ten einde die verwagte “lang tydperk van kredietswakheid” te trotseer – dus om seker te maak hy staan nie krediet toe aan mense wat nie hul klereskuld sal kan betaal nie.

Die maatskappy sê hy gaan die res van sy boekjaar fokus op verwagte wisselvalligheid, insluitende verkoopspatrone wat moeilik gaan wees om te voorspel.

Die maatskappy wil afslag op sy voorraad beperk omdat dit sy winsgrense onder druk plaas. Aan die ander kant gaan hy prysstygings so laag as moontlik hou om sy markaandeel te probeer behou.

Hy is ook oor die wisselkoers bekommerd.

In syfers

Mr Price verwag dat sy basiese en wesensverdienste per aandeel in die halfjaar tot einde September minstens 20% laer gaan wees as in 2019. Ses weke bly nog van die halfjaar oor en die groep sal meer inligting uitreik sodra die tydperk verby is. Sy halfjaarsyfers word op 26 November verwag.

Meer oor:  Mrp  |  Mr Price  |  Covid-19  |  Klerewinkels  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Klere  |  Vlak 2  |  Vlak 3  |  Klerekleinhandel  |  Vlak 4
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.