Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mr. Tekkie moet glo sekere tekkies van sy rak verwyder

Die skoene wat op die rakke van die drie Mr. Tekkie-winkels te koop is, gaan dalk binnekort verminder word, maar dit is nog lank nie die einde van die tekkie-twis nie. 

Braam van Huyssteen, voorsitter van Mr. Tekkie, en Bernard Mostert, uitvoerende hoof, by die opening van die winkel in Strandstraat, Kaapstad. Foto: Nellie Brand-Jonker

Sowel Pepkor, eienaar van Tekkie Town, as die Mr. Tekkie-eienaars beskou ’n uitspraak in die Kaapse hooggeregshof as ’n oorwinning.

Pepkor sê die uitspraak beteken Mr. Tekkie mag nie dieselfde soort skoene as Tekkie Town verkoop nie en moet dit onmiddellik van sy rakke verwyder.

Bernard Mostert, uitvoerende hoof van Mr. Tekkie, sê egter daar is nog geen lys oor watter skoene hulle nie mag verkoop nie en Pepkor lieg dus daaroor dat skoene van hul rakke verwyder moet word.

Hierop het Pepkor geantwoord die lys sal binnekort aan Mr. Tekkie verskaf word. Dit sal bestaan uit die lys skoene wat op 1 Oktober 2016 in Tekkie Town te koop was.

Die verbod op spesifieke skoene is in dié stadium slegs tydelik.

Dit kom nadat regter Elizabeth Baartman gister ’n gewysigde tussentydse handelsbeperking aan Pepkor toegestaan teen Braam van Huyssteen, Mostert en ander. Die beweerde oortreding van ’n handelsbeperking gaan nou in ’n verhoor bepaal word.

Die verhoor oor of die handelsbeperking wel geskend is, sal nou as ’n kwessie van dringendheid aangehoor word, het Baartman bevind. Pepkor se dagvaarding daaroor is Maandag op die respondente beteken.

Die hofstukke van die dringende aansoek is altesame 1 974 bladsye lank, betooghoofde uitgesluit.

Die spesifieke handelsname of produkte wat Mr. Tekkie intussen nie mag verkoop nie, sal vertroulik gehou word tussen die twee maatskappye, volgens Baartman. Die regter sê wel as dié skoene verwyder word, sal Mr. Tekkie steeds skoene in sy winkel hê.

Van Huyssteen en Mostert het onlangs Mr. Tekkie se deure oopgemaak nadat hulle by Pepkor bedank het.

Van Huyssteen was een van die stigters van Tekkie Town en Mostert die uitvoerende hoof.

Tekkie Town is in 2016 deur Steinhoff gekoop en daarna na Steinhoff Africa Retail (Star) oorgedra. Star het middel vanjaar weens die wolk oor Steinhoff sy naam in Pepkor, sy grootste filiaal, verander.

Volgens Baartman het Pepkor bewys dat hy ’n geldige eis het om die handelsbeperking teen Van Huyssteen en ander op te dwing.

Die handelsbeperking is ’n klousule in hul dienskontrak en verbied hulle om vir tussen een en vyf jaar (verskillende tydperke is op verskillende individue van toepassing) betrokke te wees by kleinhandel.

Baartman het egter in haar uitspraak wel gesê die handelsbeperking is veels te wyd gegewe al Steinhoff se bedrywighede. Die aansoek is later aangepas om net op skoene van toepassing te wees.

Die handelsbeperking is van 1 Oktober 2016 af geldig, het Baartman bepaal. Dis toe Steinhoff Tekkie Town gekoop het.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, sê hy is ingenome met die hof se besluit.

Van Huyssteen, Mostert en die res van Mr. Tekkie het op hul beurt gesê hulle is “ekstaties” oor die uitspraak, wat bepaal dat Mr. Tekkie sy deure mag oop hou.

Mostert sê Pepkor kon nie daarin slaag om hulle te “boelie” om hul deure toe te maak nie en Mr. Tekkie sal aangaan om Suid-Afrikaners te dien. 

Mostert sê hulle sal voortgaan met hul stryd om Tekkie Town terug te kry omdat dié winkel op bedrieglike wyse gekoop is.

Die Mr. Tekkie-span het in hul verweer teen die handelsbeperking aangevoer dis ongeldig omdat die verkryging van Tekkie Town deur Steinhoff op bedrog gegrond is.

Die Tekkie Town-mense is in Steinhoff-aandele vergoed, wat nou byna niks werd is nie. Hulle voer aan hulle is van meet af aan mislei oor die waarde van die Steinhoff-aandele.

Die koste van een van die dae in die hof moet deur Mr. Tekkie se respondente gedra word. Dit sluit in die koste van twee advokate in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.