Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mr. Tekkie: ‘Ons is ook Steinhoff-slagoffers’
Van die voormalige bestuur van Tekkie Town stig nou saam Mr. Tekkie. Foto: Getty Images

Mr. Tekkie is van die min goeie nuus wat uit die Steinhoff-debakel voortvloei en die stigters van dié klere- en skoenwinkel gaan met alle mag baklei vir “sy bestaansreg” en “ons wetlike reg om ’n nuwe sakeonderneming te begin”.

Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof van Tekkie Town en een van die stigters van Mr. Tekkie, het Dinsdag in ’n strydlustige verklaring gesê hulle gaan Pepkor se hofaansoek om Mr. Tekkie te probeer stuit, beslis teenstaan.

Pepkor is die eienaar van Tekkie Town.

Mostert sê die hofaansoek het hulle nie verras nie.

“Ons sal dit teenstaan en nougeset die ooglopend valse bewerings, halwe waarhede en spekulatiewe aard van die Pepkor-aansoek uitwys.”

Dit kom nadat Pepkor Maandagmiddag laat ’n dringende hofaansoek gebring het.

Pepkor wil handelsbeperkings opdwing teen Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, Mostert en nog drie individue wat tot onlangs by Pepkor gewerk het. Volgens Pepkor bepaal die indiensnemingskontrakte dat hulle vir drie jaar ná hul bedanking nie vir ’n regstreekse mededinger mag werk nie.

Die vyf het tot Vrydag om 16:00 om die hof in kennis te stel dat hulle die dringende hofaansoek gaan teenstaan. Hulle moet hul teenargumente teen 21 September indien.

Volgens Mr. Tekkie se verklaring open die eerste winkel in dié groep einde Oktober, waarna “verskeie ander winkels” in November landwyd sal open.

“Mr. Tekkie is gestig deur ’n groep voormalige Tekkie Town-werknemers wat in Junie by Pepkor bedank het weens ’n konflik oor waardes, etiek en benaderings tot sake doen.”

Mr. Tekkie se stigters sê hulle het regsadvies ingewin oor die beweerde handelsbeperkings en ander regsprobleme voordat hulle meer as R500 miljoen in die nuwe onderneming belê het.

“Soos baie ander Suid-Afrikaners kan ons as ‘Steinhoff-slagoffers’ geklassifiseer word, en ons kon gekies het om niks meer te doen as fokus op ons regstryde om ons eienaarskap van Tekkie Town te laat herstel nie.

Soos baie ander Suid-Afrikaners kan ons as ‘Steinhoff-slagoffers’ geklassifiseer word, en ons kon gekies het om niks meer te doen as fokus op ons regstryde om ons eienaarskap van Tekkie Town te laat herstel nie.
Bernard Mostert

“Pleks daarvan het ons gekies om ’n innoverende storie met ware Suid-Afrikaanse veerkragtigheid mark toe te bring. Ons is trots daarop en is verras dat ’n reus so groot soos Pepkor ontsteld is oor ons idee.”

Volgens Mostert gaan hulle wel voort met hul onderskeie hofsake omdat hulle glo hulle is in die Steinhoff-sage bedrieg. Hulle begin Mr. Tekkie egter om ’n “positiewe bydrae tot Suid-Afrika te lewer”.

Mostert sê hulle kry ontsaglik baie steun van lede van die publiek.

“Ons kry boodskappe van steun, mense wat ons sterkte toewens en mense wat belowe om ons te ondersteun of met ons saam te werk – elke dag. Uit wat ons sien, hoor en beleef, wil Suid-Afrika hê Mr. Tekkie moet slaag.

“Ons sal baklei vir sy bestaansreg en die geleentheid om ’n unieke kleinhandelservaring na Suid-Afrikaners te bring, sowel as vir ons wetlike reg om ’n nuwe sakeonderneming te begin.”

In sy hofstukke beskryf Pepkor die Mr. Tekkie-bemarking onder meer as “vermetel”.

Pepkor se hofaansoek is gebring nadat die maatskappy daarin kon slaag om e-posse te herwin wat Van Huyssteen betrek by ’n beweerde komplot om Pepkor se aandeelprys af te druk. Die e-posse is uitgewis, maar met die hulp van IT-spesialiste herwin, sê Pepkor in hofstukke.

Tekkie Town is in September 2016 deur Steinhoff gekoop en toe weer deur Steinhoff Africa Retail (Star), wat verlede maand sy naam na Pepkor, een van sy filiale, verander het.

Van Huyssteen het sy aandele in Tekkie Town vir Steinhoff-aandele verruil en het dus miljoene verloor toe Steinhoff se aandeelprys in Desember verlede jaar in duie gestort het weens beweerde boekhou-ongerymdhede, wat steeds ondersoek word.

Van Huyssteen is bevriend met Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Albei besit ook resiesperde.

Luidens Pepkor se hofstukke het Van Huyssteen en Mostert in Mei e-posse gestuur wat verband hou met ’n beweerde komplot om Pepkor se aandeelprys af te dwing sodat die stigters Tekkie Town kon terugkoop. Pepkor voer aan hulle het art. 76(2) en (3) en art. 77 van die Maatskappywet oortree.

Pepkor se hofstukke verwys ook weer na die beweerde komplot om Tekkie Town se verkoopstelsel te verlam deur met die rekenaarstelsels te peuter. Dié beweerde komplot, wat glo op 1 Julie uitgevoer sou word, is gestuit toe Werner de Bruin, ’n IT-spesialis van die groep, daaroor gebieg het.?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.