Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
MRP beloof ‘lekker uitverkoping’ kom

Al hoe meer mense koop klere aanlyn, maar die helfte van hulle verkies dan steeds om hul kopie in die winkel self te gaan oppik pleks daarvan om dit te laat aflewer.

mr price
Die Mr Price-groep vaar goed en is bekommerd oor die ekonomie. Foto: Mr Price

Die Mr Price-groep sê in sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart aanlyn verkope by MRP het met 30,2% opgeskiet, by MRP Sport met 43,8% en by MRP Home met 34,8%.

50% van die mense wat aanlyn koop, kom haal hul pakkie self in Mr Price-winkels. En dis goeie nuus vir die groep, want 20% van dié mense koop dan nóg iets wanneer hulle hul pakkie kom haal.

Die meeste mense (62%) wat die groep se webwerwe besoek, doen dit egter steeds net om te kyk eerder as te koop – die “navorsing” wat Suid-Afrikaners eers doen voordat hulle winkel toe gaan met hul geld.

Mr Price het die afgelope jaar 220 miljoen items verkoop. Sy inkomste het met 5,8% tot R22,6 miljard gestyg, met MRP steeds die pêrel in sy kroon. 56,6% van die groep se inkomste kom van dié klerewinkel.

Die 5,8%-styging is relatief goed, maar Pepkor (onder meer Pep, Ackermans en Shoe City) het pas inkomstegroei van 7% aangekondig en TFG (onder meer Foschini, Totalsports en @home) van 19,6%.

Die mark was heel ingenome en Mr Price se aandeelprys het met tot 8,8% opgeskiet voordat dit later effens teruggesak het. Teen 12:30 was dit steeds 7,3% hoër vir die dag op R190,62.

Dis die eerste stel resultate waarvoor Mark Blair pa staan wat op 1 Januarie die groep se uitvoerende hoof geword het ná die aftrede van Stuart Bird. Blair was voorheen finansiële hoof.

Mr Price sê hy het markaandeel gewen en beter gevaar as die algehele kleremark, soos gemeet aan Statistieke Suid-Afrika se kleinhandelverkoopsyfers.

In syfers
  • Inkomste styg met 5,8% tot R22,6 miljard
  • Nabelaste wins styg met 7,2% tot R3 miljard
  • Bedryfswinsgrens onveranderd op 17%
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 6,2% tot 1 168,2c
  • Dividend styg met 6,2% tot 736,2c

Kersverkope 'oorskat'

Die groep sê egter hy het sy Kersverkope oorskat en sit met ’n oorskot voorraad waarvan hy in sy nuwe boekjaar ontslae wil raak – verbruikers kan dus binnekort ’n lekker uitverkoping van somersklere verwag as hulle nie omgee om verlede jaar se modes te dra nie.

Kleinhandelverkope het met 4,4% gestyg, maar by vergelykbare winkels met net 1,6% tot R20,9 miljard.

Die groep sê hy het in die laaste maand van sy boekjaar, Maart, tussen 7% en 10% se winkelure weens beurtkrag verloor. In dié maand was daar tien dae van beurtkrag, ses van hulle fase 4.

Die groep het in die boekjaar 82 nuwe winkels geopen, 11 vergroot, 17 toegemaak en 30 verklein. Sy totale winkelruimte het met 1,4% gegroei en die groep het nou 1 323 winkels. Die groep sê die kleiner formaat winkels wat hy sedert 2018 op die proef stel, het ’n beter handelsdigtheid behaal.

Kontantverkope het met 6,6% gestyg en verteenwoordig 84,2% van Mr Price se verkope.

Verkope in Suid-Afrika, waar die meeste van die groep se winkels is, het met 3,8% gegroei en buitelandse verkope met 12,1%, aangehelp deur die feit dat Mr Price sy 12 franchise-winkels in Kenia teruggekoop het van Deacon East Africa.

Mr Price het sy Australiese winkels, wat net nie die paal kon haal nie, toegemaak.

Die gemiddelde prysstyging in Mr Price-winkels was 5,1%, hoër as die algemene inflasiekoers in die land van 4,5% vir die jaar tot einde Maart.

mrp

Klere

Aanlyn verkope styg op die oomblik baie skerp by al die groep se klerewinkels – MRP, MRP Sport en Miladys.

Die hele afdeling se verkope het met 3,8% tot R15,6 miljard gestyg en die bedryfswins met 3,4%. Die bedryfswinsgrens het net effens gedaal, van 18,1% tot 18%.

  • MRP: Verkope het met 3,1% tot R12,6 miljard gestyg, maar grootliks danksy die opening van nuwe winkels. Vergelykbare verkope het met net 0,1% gestyg. Aanlyn verkope het met 30,2% gestyg. Die webwerf mrp.com is 25,1 miljoen keer besoek.
  • Miladys: Verkope het met 4% gestyg en vergelykbare verkope het ook goed gegroei teen 3,1%.
  • MRP Sport: Verkope het met 9,7% gegroei en vergelykbare verkope was ook stewig 6,4% hoër. Aanlyn verkope het met 43,8% opgeskiet.

Huisware

Verkope in dié afdeling het met 5,9% tot R5,3 miljard gestyg, wat beduidend is in ’n omgewing waarin mense nie baie geld aan binnenshuise versiering bestee nie. Die afdeling se bedryfswins het met 12,3% gestyg en sy bedryfswinsgrens het van 15,7% tot 16,6% gestyg.

  • MRP Home: Verkope het met 7,2% gestyg, met vergelykbare verkope net meer as die helfte daarvan teen 4,2%. Aanlyn verkope het met 34,8% gestyg.
  • Sheet Street: Dié winkels se verkope het met 4% gestyg en vergelykbare verkope met net 1,6%. Dis selfs swakker verkoopsgroei as verlede jaar.

Sellulêre en finansiële dienste

Dié afdeling se inkomste het met ’n baie sterk 25,9% tot R1,4 miljard gegroei, maar sy bedryfswins het met 1,3% gedaal. Daarvan verteenwoordig die verkope van selfone en data groei van 62,1% tot R677 miljoen.

Selfoonprodukte word nou in 219 winkels verkoop – minder as verlede jaar se 249.

Hoewel Mr Price net ’n klein persentasie klere op skuld verkoop, is hy bekommerd oor stygings in agterstallige rekeninge in die hele kleinhandelbedryf.

Dit het hom genoop om strenger te wees om krediet toe te staan, wat op sy beurt meegebring het dat minder nuwe rekeninge geopen is. 621 000 aansoeke vir winkelrekeninge is ontvang, maar net sowat ’n derde, 210 000, is wel goedgekeur.

Slegte skuld verteenwoordig nou 7,3% van Mr Price se skuldboek.

Enige verbetering gaan na verwagting geleidelik wees en ons verwag daarom ’n baie moeilike eerste helfte van die nuwe boekjaar.
Mark Blair van Mr Price

Vooruitsigte

Blair het twee nuwe poste by die groep geskep: bedryfshoof en kleinhandelhoof. Volgens die Sens-verklaring oor die resultate het hulle reeds “potensiële groeigeleenthede” geïdentifiseer en gaan die groep se strategie binnekort bygewerk word. Mode teen billike pryse en ’n fokus op lae koste gaan egter deel daarvan bly.

Die groep wil vanjaar 70 nuwe winkels open.

Blair sê die kleinhandelomgewing gaan waarskynlik nog ’n rukkie onder druk bly. Lone groei nie in reële waarde nie en mense se besteebare inkomste styg dus ook nie.

“Die nasionale verkiesing het ’n positiewe uitkoms opgelewer, wat ons hoop tot hervormde ekonomiese beleid sal lei wat sakegroei en werkskepping sal aanmoedig.

“Hopelik kan dit die begin wees van ’n opwaartse kurwe in die kleinhandelsiklus, maar enige verbetering gaan na verwagting geleidelik wees en ons verwag daarom ’n baie moeilike eerste helfte van die nuwe boekjaar.”

    Meer oor:  Mr Price  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Klere  |  Klerekleinhandel
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.