Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mtentu-brug: Dié gewere stuit bouwerk

Werklose gemeenskapslede het ’n Oos-Kaapse brugbouprojek met onder meer aanvalsgewere ontwrig, maar die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) hou vol die situasie was onder beheer en daar was nie “werklike geweld” nie.

Ongelisensieerde vuurwapens wat die polisie by oproeriges afgeneem het. Foto: Uit hofstukke

Nou beroep die konstruksiegroep Aveng – bewapen met foto’s van intimidasie, vuurwapens en chaos – hom op die hooggeregshof in Pretoria vir sy behoud.

Aveng was deel van ’n konsortium om die Mtentu-brug op die N2 te bou, maar het onttrek omdat dit volgens hulle onmoontlik was om voort te gaan met die konstruksie.

Die brug oor die Mtentu-rivier in die Oos-Kaap sal wanneer dit voltooi is, 1,1 km lank en die hoogste in Afrika wees.

Sanral wil nou kontrakwaarborge van R326 miljoen oproep weens die beweerde kontrakbreuk van Aveng en die ander vennoot in die konsortium, die Duitse groep Strabag International GmbH.

Dit sal elkeen R163 miljoen kos.

Aveng se geldelike probleme is algemeen bekend en dié groep sê so ’n skok sal hulle finaal kelder.

Aveng vra dus die hof om te verklaar dat die inmenging op die konstruksieterrein ’n force majeure was en dat Sanral daarom nie die konstruksiewaarborg mag oproep nie.

Polisielede probeer die skare in toom hou by die hoofingang van die Mtentubrug-bouperseel. Foto: Uit hofstukke

’n Force majeure verwys na ’n onverwagte gebeurtenis wat nie een van die partye se skuld is nie en nie voorsien kon word nie.

Adrian Hopgood, Aveng se regshoof, sê in hofstukke meer as 100 sogenaamde gemeenskapslede het op 22 Oktober op die bouperseel toegesak en geweier dat werkers die perseel betree of verlaat.

Volgens Hopgood het die polisie die skurke begelei eerder as om hulle te verhoed om in te meng op die terrein.

Die polisie het wel later van die betogers se voertuie deursoek en op verskeie ongelisensieërde vuurwapens beslag gelê, lui die hofstukke. Foto’s van die wapens is by die hof ingehandig.

Die mense, glo lede van die organisasie Practical Radical Economic Transformation (Pret), het eise gestel oor verhoogde deelname aan die projek deur indiensneming en die verskaffing van goedere en dienste.

Die onluste het die werk tot stilstand gebring.

Ingevolge die kontrak tussen Sanral en die konsortium is die konsortium daarop geregtig om die kontrak te kanselleer as die force majeur vir 84 agtereenvolgende dae voortduur.

Volgens Aveng is dit presies wat gebeur het en op 31 Januarie vanjaar het hy die kontrak gekanselleer.

Hopgood sê Sanral se toesighoudende ingenieurs het erken dat dit onmoontlik was om werk op die perseel voort te sit.

‘n Oproerige skare blokkeer die toegang tot die Mtentubrug-bouperseel. Foto: Uit hofstukke

Die ingenieurs, ’n gesamentlike onderneming tussen die Halgrow-groep, SMEC South Africa en Aurecon SA, het volgens die konsortium selfs ’n eis weens ekstra kostes wat die vertraging meegebring het, aanvaar.

Die konsortium eis R36 miljoen weens die vertragings, maar die bedrag sou nog nagegaan word.

Sanral se teenantwoord

Sanral het egter aan die hof gesê die vertragings en betogings was geen force majeure nie.

Luidens hul hofstukke het die ingenieurs net saamgestem dat die werk vertraag is weens siviele onrus en nie omdat dit ’n force majeure was nie. Sanral sê die situasie was heeltemal onder beheer.

Al 24 eise van die gemeenskap is vroeg in Januarie opgelos, maar Aveng het geweier om die werk te hervat toe die ingenieurs die werksomstandighede veilig verklaar het.

Sanral sinspeel daarop dat Aveng ’n manier soek om aan die kontrak te onttrek weens sy gelddruk.

Die twee partye verskil oor wie se verantwoordelikheid dit is om probleme met die gemeenskap uit te stryk en Sanral sê hy het selfs vroeg vanjaar die Oos-Kaapse LUR vir vervoer en veiligheid, Weziwe Tikana, na ’n gemeenskapsvergadering geneem om met die gemeenskap te onderhandel.

Die uiteinde van die vergadering was dat die gemeenskap sou toelaat dat die projek voortgaan, sê Sanral. Buitendien was daar geen werklike geweld nie, sê die agentskap.

Aveng sê hy kan nie sy personeel en toerusting aan die risiko van geweld blootstel nie.

Sommige werkers is reeds gedreig.

Ene mnr. Jama, ook bekend as hoofman Khanyayo, het onder meer gesê: “Ek sal my mense beveel om enige vragmotor te keer wat gruis na die brugperseel bring tot tyd en wyl die (konsortium) gruis gebruik wat uit die Madiba-gebied kom.”

In ’n e-pos het ’n verteenwoordiger van Pret gedreig om die konsortium se masjinerie en kantore te beskadig as daar nie aan Pret se eise voldoen word nie.

Hy gaan voort deur te sê die kontrakteur se personeel wat in die nabygeleë gemeenskap en hotel tuisgaan, sal ook “daadwerklik getakel” word.

Aveng sê hoewel gemeenskapseise niks vreemds is in die konstruksiebedryf nie, het dit in hierdie geval ongekende afmetings aangeneem wat hom genoodsaak het om die projek te kanselleer.

Volgens Sanral was die kansellasie egter nie geregverdig nie.

Uitspraak word voorbehou.

Meer oor:  Strabag  |  Aveng  |  Sanral  |  Mtentu-Brug  |  Boubedryf  |  Infrastruktuur  |  Konstruksie  |  Brug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.