Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mtentu-brug nou eers in 2024 klaar
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die Mtentu-brug in die Oos-Kaap gaan lyk wanneer dit voltooi is.

Die Mtentu-brug in die Oos-Kaap sal waarskynlik nou eers in 2024 voltooi word. Dit is twee jaar later as wat oorspronklik beplan is.

Dié tydsberekening sluit ook nie enige ander invloed in soos swak weer of enigiets anders wat vertragings op die projek tot gevolg kan hê nie.

Die grootste rede vir die huidige vertraging is omdat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) verwag om eers teen die einde van die jaar ’n nuwe kontrakteur vir dié projek aan te stel. Dit volg nadat die gesamentlike onderneming van Aveng en Strabag International (ASJV) in Februarie 2019 ’n oormag (force majeure) op die projek verklaar het en alle werk daar gestaak het.

Die vennootskap van ASJV het aangevoer dat geweld en dreigemente van geweld deur lede van die gemeenskap, hom genoop het om dié besluit te neem.

Die brug van 1 132 m lank is deel van die N2-Wildekuspad-projek. Dis al Suid-Afrika se “Golden Gate-brug” gedoop weens die ooreenkomste met dié bekende brug in San Francisco.

Die ASJV sou R1,6 miljard vir die projek verdien, maar nie eens ’n hof kon ASJV oortuig om werk aan die brug te hervat nie. Sanral kan ook boetes van soveel as R267,5 miljoen opeis waarvan Aveng en Strabag elk 50% sal moet betaal, sou dit suksesvol wees.

Sanral het in ’n e-pos-antwoord op vrae deur Netwerk24 gesê dat hy in Maart tenderdokumente sal uitreik om ’n nuwe kontrakteur vir die projek te kry. Hy sê weens die omvang van die projek, verwag hy dat dié proses minstens vier maande sal duur. Sy verwagting is dus dat hy teen einde 2020 ’n nuwe kontrakteur sal aanstel en dat werk weer teen 2021 hervat sal word.

Sanral sê hy het intussen kleinsakeondernemings aangestel om die twee persele in stand te hou en te beveilig.

Wat die probleem van geweld op boupersele betref wat moontlik weer werk op Sanral-projekte soos die Mtentu-brug kan vertraag, wys Kelly Meijers, ’n senior vennoot van MDA, daarop dat Sanral onlangs sy kontrakvoorwaardes verander het. Volgens haar sal dit nou bykans onmoontlik wees vir ’n kontrakteur om force majeure as rede aan te voer om van ’n projek te onttrek.

LEES OOK: Sanral nou streng oor ‘konstruksie-mafia’

Kontrakte waar Sanral rééds dié verandering gemaak het, is juis vir werk op die N2- en N3-hoofweë in KwaZulu-Natal. Die “boubedryfmafia” is veral berug vir hul optrede in dié provinsie.

Meer oor:  Aveng  |  Strabag  |  Sanral  |  Mtentu-Brug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.