Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mtentu-brug: Sanral sal ‘van voor af’ moet begin
’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die Mtentu-brug gaan lyk.Foto: Verskaf

Mtentu-brug in die Oos-Kaap “sal van vooraf aangepak moet word” as die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) dit wil voltooi.

So sê die senior bestuur van die konstruksiemaatskappy Aveng. Eric Diack, voorsitter, Adrian Macartney, finansiële hoof, en Sean Flanagan, uitvoerende hoof van Aveng, het Dinsdag in Rosebank, Johannesburg, ná die voorlegging van die maatskappy se jongste resultate, met die media gepraat oor hul ervaring met dié projek.

Die brug van 1 132 m lank is deel van die N2-Wildekuspad-projek. Dit is al Suid-Afrika se “Golden Gate-brug” gedoop vanweë die ooreenkomste met dié bekende brug in San Francisco.

Die kontrak van R1,6 miljard vir die bou van die brug was aan Aveng en sy Duitse vennoot, Strabag International, toegeken. Dié gesamentlike onderneming (ASJV) het egter in Februarie 2019 force majeure op dié projek verklaar. Dit is wanneer omstandighede buite ’n kontrakteur se beheer verhinder dat aan ’n projek gewerk kan word.

ASJV het aangevoer dat hy weens geweld en dreigemente van geweld deur lede van die plaaslike gemeenskap 83 dae lank nie op die perseel kon werk nie.

Daar heers steeds ’n regstryd tussen ASJV en Sanral nadat die vennootskap appèl aangeteken het teen regter Tintswalo Makhubele se uitspraak dat die ASJV nie voldoende rede gehad het om die kontrak te beëindig nie.

“Ons wag nog vir ’n hofdatum,” sê Diack.

Sanral het intussen aan Netwerk24 bevestig dat hy in Maart tenderdokumente sal uitreik om ’n nuwe kontrakteur vir die projek te kry.

Hy hoop dat die brug wel teen 2024 – twee jaar later as die aanvanklike beplanning – voltooi sal word.

LEES OOK: Mtentu-brug nou eers in 2024 klaar

Diack en Flanagan meen dit gaan ’n uitdaging wees vir Sanral om ’n nuwe kontrakteur te kry.

“Daar is geen kontrakteurs in Suid-Afrika wat die kennis en vaardighede het om ’n projek van dié omvang alleen aan te pak nie,” sê Flanagan.

“Dit is hoekom ons vir Strabag as vennoot moes kry om ons te kom help.

“ ’n Plaaslike kontrakteur sal dus ’n internasionale een moet oortuig hoekom hy op ’n projek moet kom werk waarvoor Strabag nie kans gesien het nie.”

Flanagan sê nog ’n groot uitdaging vir die nuwe kontrakteur is die ontwerp van die projek.

“Ons het die projek ontwerp om by ons metodes en prosesse te pas. ’n Nuwe kontrakteur sal van vooraf met die ontwerpfase moet begin om by hul unieke metodes en prosesse te pas,” sê Flanagan.

Hy sê die brug sal waarskynlik ná voltooiing dieselfde lyk, maar dit sal op ’n ander manier gebou word.

Flanagan sê al werk wat al gedoen is, is die grawe van die fondamente vir die twee hoofpilare.

Hy sê sedert hulle die perseel ontruim het, gaan daar niks aan nie.

Macartney sê die feit dat almal weet hoekom ASJV hom onttrek het, skep ook ’n uitdaging om ’n nuwe kontrakteur te vind. Boonop het Sanral sedertdien nuwe reëls oor wanneer ’n maatskappy force majeure mag verklaar in sy kontrakte bygewerk.

LEES OOK: Sanral nou streng oor ‘konstruksie-mafia’

“Sanral skuif nou basies alle verantwoordelikheid vir geweld op boupersele op die kontrakteur af,” sê Flanagan.

“Die vraag is of kontrakteurs bereid gaan wees om dit te aanvaar en indien wel, hoe hulle dit by hul prys gaan inreken,” sê hy.

“Ons hoop regtig Sanral kry ’n kontrakteur om die projek te voltooi. Die gebied het dit regtig nodig,” sê hy.

Meer oor:  Sanral  |  Mtentu-Brug  |  Padwerke  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.