Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk SA se sterkste handelsname

MTN is steeds die waardevolste handelsnaam in Suid-Afrika, terwyl Capitec se handelsnaam die vinnigste groei. Daarenteen is die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) die handelsnaam wat die meeste waarde oor die afgelope jaar verloor het, luidens die jongste Brand Finance-verslag oor die 50 waardevolste Suid-Afrikaanse handelsname.

  

Die waarde van MTN se handelsnaam het in 2017 met 10% tot R40,8 miljard gestyg. MTN was ook in 2016 die land se waardevolste handelsnaam.

Vodacom is, soos ook in 2016, die maatskappy met die naasgrootste handelsnaam. Die waarde van sy handelsnaam het met 10% tot R24,26 miljard gestyg.

Vodacom is egter besig om die voorloper in te haal en die gaping word kleiner met MTN se handelsnaamwaarde wat byna 30% laer is as op sy hoogtepunt in 2014, sê Brand Finance.

Die banksektor oorheers die boonste 50 handelsname met nege name met ’n gesamentlike handelsnaamwaarde van R100 miljard in dié sektor. Dit maak sowat 25% van die totale handelsnaamwaarde van al die maatskappye uit.

Die banksektor het ook vier handelsname in die toptien naamlik Standard Bank (3), Absa (6), FNB (7) en Nedbank (10).

Capitec is in die 28ste plek, maar volgens Brand Finance is dit die handelsnaam wat die vinnigste groei. Dié bank se handelsnaamwaarde het die afgelope jaar met 25% gestyg tot R5 miljard.

Telekommunikasiemaatskappye is die naasgrootste bedryf met ’n gesamentlike handelsnaamwaarde van R73 miljard, gevolg deur kleinhandelmaatskappye. Dié sektor se totale handelsnaamwaarde is R49 miljard.

Daar is ook nege handelsname van kleinhandelaars in die top-50. Spar het die vinnigste onder die kleinhandelaars gegroei; sy handelsnaamwaarde het met 15% tot R10,4 miljard gestyg.

Wanneer ’n land egter sukkel om teen 1% te groei, terwyl sy handelsname met 3% groei, sê dit baie oor die potensiaal vir die toekoms as daar nie ingemeng word nie.
Jeremy Sampson, direkteur van Brand Finance

Shoprite, in die 12de plek, is die waardevolste handelsnaam onder die kleinhandelaars en staan op R11,1 miljard.

Brand Finance beoordeel die handelsname met ’n bepaalde metodologie, wat insluit om die handelsnaam se waarde te bepaal. Hy doen ook ’n berekening van ’n tantièmekoers wat betaal sou word vir die gebruik van die handelsnaam en saam met die geskatte inkomste word ’n waarde bereken.

Jeremy Sampson, direkteur van Brand Finance, sê die totale waarde van die handelsname het ondanks ’n resessie, politieke onstabiliteit en hoë werkloosheid die afgelope jaar met 3% gestyg van R384 miljard tot R395 miljard.

“Suid-Afrika is baie tipies van ’n ontluikende mark, met ’n ekonomie wat gebou is op natuurlike hulpbronne en mynbou, en wat ondersteun word deur die bankwese en telekommunikasiemaatskappye,” sê Sampson.

“Wanneer ’n land egter sukkel om teen 1% te groei, terwyl sy handelsname met 3% groei, sê dit baie oor die potensiaal vir die toekoms as daar nie ingemeng word nie.”

Daar is vanjaar vier nuwe handelsname onder die top-50: EOH (37), Sasko (45), HiFi Corp (47) en OUTsurance (50).

Die vier handelsname wat uitgeval het, is SABMiller, Imperial, Nampak en Game.

Naas Capitec is die snelgroeiendste handelsname Foschini en Growthpoint. Foschini (42ste) se handelsnaamwaarde het met 25% tot R2,4 miljard gestyg. Growthpoint (49ste) se handelsnaamwaarde is op R1,7 miljard – 17% hoër as ’n jaar gelede.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is die handelsnaam wat die afgelope jaar die grootste daling in waarde getoon het. Sy handelsnaamwaarde het met 24% tot R1,89 miljard gedaal en hy het van die 42ste na die 46ste posisie op die lys afgesak.

Meer oor:  Mtn  |  Capitec  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.