Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
MultiChoice: Mthembu vra vir ondersoek

Jackson Mthembu, voorsitter van die subkomitee van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het Dinsdagaand gevra vir ’n ondersoek na die MultiChoice-korrupsiebewerings.

Jackson Mthembu het gevra vir ’n ondersoek na beweerde korrupsie deur MultiChoice. Foto: Felix Dlangamandla

MultiChoice is daarvan beskuldig dat hy twyfelagtige betalings gemaak het aan die nuuskanaal ANN7, wat voorheen aan die omstrede Gupta-familie behoort het.

Mthembu het gister by Luthulihuis, die ANC-hoofkantoor waar hy die media toegespreek het oor die sleutel-beleidsvoorstelle vir die 54ste nasionale konferensie van die ANC wat binnekort by Nasrec in Johannesburg gehou word, gesê dat parlementêre komitees gevra is om die beweringe te ondersoek.

“As daar enige pogings deur enigiemand was om regeringsbeleid nadelig te beïnvloed, moet daardie kwessie deeglik ondersoek word en almal wat dalk iets gedoen het wat nie strook met die verklaarde doelstellings nie, moet verantwoordbaar gehou word,” het hy gesê.

“As jy dít staatskaping wil noem, dan het ek geen probleem daarmee nie,” het Mthembu bygevoeg.

Volgens News24 het MultiChoice ’n twyfelagtige betaling van R25 miljoen aan ANN7 gemaak en het die maatskappy die jaarlikse betaling aan die kanaal van R50 miljoen na R141 miljoen verhoog.

MultiChoice het vroeër verklaar dat daar niks onbehoorlik was in sy verhouding met ANN7 nie.

Die MultiChoice-raad het Vrydag aangekondig dat hy beweringe van korrupsie wat teen die maatskappy gemaak is, gaan ondersoek.

“Miskien noodsaak die bewerings wat teen MultiChoice gemaak is dat daar ’n strenger regulatoriese meganisme rondom die uitsaaiwese geskep moet word, wat by ons uitsaaiklagtekommissie ingesluit moet word,” het Mthembu gesê.

Oor beleidsvoorstelle by die kongres het Mthembu gesê die omskepping van die Poskantoor na ’n voorkeurbank vir gebruik deur alle regeringstrukture bly ’n groot prioriteit.

Mthembu het verskeie struikelblokke genoem op die weg na ’n lisensie vir die posbank maar sê die saak sal “so gou as moontlik” gefinaliseer word.

Meer oor:  Ann7  |  Multichoice  |  Jackson Mthembu  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.