Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Myeni: Hof sê tot hiertoe en nie verder
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se direksie. Foto: Deon Raath

Die saak om Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), tot misdadige direkteur te laat verklaar, gaan op 21 Oktober voort – met of sonder haar.

Haar pro bono-regsverteenwoordigers het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria uitstel van drie maande gevra “om te kan voorberei”.

Regter Ronel Tolmay het egter beslis dat die saak net tot 21 Oktober uitgestel word. Dit is dan vir twee weke op die hofrol, waarna nog ’n kort breuk toegestaan word. Die saak is dan weer van 25 November tot 6 Desember op die hofrol.

Tolmay het gesê as die saak met drie maande uitgestel sou word, is daar geen waarborg dat Myeni nie net weer sal aanvoer sy kan nie regsverteenwoordiging bekostig nie, en dan weer om uitstel vra.

Dié beweerde gebrek aan geld is die hoofrede wat Myeni aanvoer oor hoekom sy uitstel wil hê.

Adv. Nqabayethu Buthelezi en adv. Nolwazi Jili het haar Donderdag pro bono verteenwoordig. Myeni was nie self in die hof nie.

Tolmay het dit duidelik gestel dat die kort uitstel die regspan kans gee om voor te berei. Maar hulle is nou haar regsverteenwoordigers, kom wat wil. Myeni moet óf reël dat hulle haar dwarsdeur die saak pro bono sal verteenwoordig, óf sy moet ’n reëling oor hul betaling tref. Maar sy mag hulle nie later vervang en dít dan as motivering gebruik vir verdere uitstel nie.

“Stel u kliënt in kennis dat indien sy u dienste beëindig, hierdie hofsaak dan sonder haar sal voortgaan,” het Tolmay aan Buthelezi gesê.

Stel u kliënt in kennis dat indien sy u dienste beëindig, hierdie hofsaak dan sonder haar sal voortgaan.
Ronel Tolmay

Sy het dit benadruk dat aangesien hierdie ’n siviele saak is, ’n lasbrief nie uitgereik kan word om Myeni te dwing om die saak by te woon nie. Die hof het egter nou daarvoor voorsiening gemaak dat die saak eenvoudig sonder haar kan voortgaan as sy nie opdaag nie.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), wat die saak teen Myeni saam met die SAL-vlieëniersvereniging aanhangig gemaak het, het in reaksie gesê Tolmay was baie beslis in haar uitspraak. Sy het gesê die adjunk-regter-president was baie geduldig met Myeni, maar geen verdere vertragings sal geduld word nie.

Outa het ook getwiet oudpres. Jacob Zuma, van wie Myeni ’n bondgenoot is, kan haar dus nou nie meer teen die gereg beskerm nie. As die aansoek slaag, sal Myeni nie meer as direkteur in enige direksie mag dien nie. Outa sê sy dien tans in 13 direksies.

Dit is die eerste keer dat aansoek gedoen word dat ’n direkteur van ’n staatsonderneming tot misdadig verklaar word.

Onder Myeni se voorsitterskap het die SAL tussen Desember 2012 en Oktober 2017 ’n verlies van R16,84 miljard gely nadat die lugdiens van 2009 tot 2012 winsgewend was. Sedertdien het die SAL verskeie reddingsboeie van die staat gekry net om in die lug te kan bly.

Meer oor:  Zuma  |  Dudu Myeni  |  Jacob Zuma  |  Hofsaak  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.