Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Myeni is ’n misdadige direkteur, beslis hof

Dudu Myeni, die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), is lewenslank tot ’n misdadige direkteur ingevolge die maatskappyewet verklaar.

Dudu Myeni
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Foto Deaan VivierFoto:

Die uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria spruit uit ’n hofaansoek wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Loodse (SAAPA) teen Myeni gebring is ten opsigte van die rol wat sy die afgelope jare gespeel het in die ondergang van die SAL.

Sy mag wel binne drie jaar aansoek doen vir opskorting van die bevel, maar sal moet kan bewys dat sy voldoende gerehabiliteer is van haar wangedrag.

Sy is September 2009 as nie-uitvoerende direkteur van die SAL aangestel en het waarnemende voorsitter geword in Desember 2012 en voorsitter in September 2016.

LEES OOK: Outa kan voortgaan met saak teen Myeni

Die hof het bevind sy was ’n swak getuie en kon nie antwoorde verskaf op belangrike aspekte van die bewyse teen haar nie. Sy het selfs sekere hofverrigtinge nie bygewoon nie en onoortuigende verskonings aangebied, lui die uitspraak.

Netwerk24 het voorheen berig Outa beweer sy het haar in 2013 onwettig ingemeng by die toekenning van ’n kontrak met Airbus om 20 nuwe A320-200-vliegtuie aan die SAL te verskaf.

Regter Ronel Tolmay het gesê dat Myeni se verweer dat sy arm is, “onsmaaklik” is vir ’n beroepsvrou wat in die direksie van talle maatskappye dien, en dat sy in werklikheid onder die min bevoorregtes in die land is.

Tolmay het bevind Myeni het veroorsaak dat ’n winsgewende transaksie wat SAL met Emirates beding het, in duie gestort het. Dié transanksie sou die SAL gered en sy finansiële posisie versterk het.

Die transaksie met Emirates sou R1,5 miljard per jaar vir SAL ingebring het en dit sou die lugdiens gehelp het om sy verliesmakende roete na Aboe Dhabi te kanselleer.

Getuienis is in die hof gelewer oor hoe Myeni, as nie-uitvoerende voorsitter, aangedring het om bedryfsvergaderings by te woon.

Topbestuurslede van die SAL het getuig hoe sy in ’n stadium aan hulle gesê het dat oudpres. Jacob Zuma haar opdrag gegee het om ’n transaksie nie te teken nie.

Ten opsigte van die Airbus-transaksie, wat deur die tesourie goedgekeur is, het sy haar direk ingemeng, het die hof gehoor.

Sy wou ’n transaksie-adviseur aanstel en wou spesifieke finansieringsmaatskappye in die transaksie gebruik.

Sy kon nie in die hof verduidelik hoekom haar gedrag nie op growwe nalatigheid neerkom nie.

“Sy het willens en wetens die SAL en die land tot op die rand van rampspoed gebring deur die finalisering van die Airbus-transaksie te vertraag.

“Sy het ’n totale minagting vir staatsgeld gehad. Om in die direksie van ’n staatslugdiens te dien moet nie ’n voorreg wees vir mense met politieke bande” nie. Die regering het as bewaarder van die openbare belang die plig om seker te maak ’n geskikte gekwalifiseerde persoon met integriteit word in die posisies aangestel,” het Tolmay gesê.

“Die SAL het miljarde rand se regeringswaarborge ontvang. Nie net die hof nie, maar die regering moet direksielede van staatsondernemings aanspreeklik hou as hulle nie hul pligte nakom nie.” – Fin24

* Die DA het die hofuitspraak Woensdagaand verwelkom.

In 'n verklaring wat Alf Lees, lid van die staande komitee oor openbare rekeninge, uitgereik het, het Myeni by die Suid-Afrikaanse Lugdiens bewys dat sy duidelik ongeskik en onbevoeg is en nie die vermoë het om in enige direksie te dien nie. 

Sy het bygedra om die lugdiens op sy knieë en uiteindelik in bankrotskap te dwing.

Sy is weg by die SAL sonder om enige gevolge te dra weens die ampsmisdrywe wat daar plaasgevind het.

Die DA is tevrede dat die hofbevel insluit dat sy nooit weer by enige staatsentiteit of openbare onderneming deur die ANC in diens geneem mag word as direkteur nie en die DA hoop dat die hofuitspraak voorts sal verseker dat sy tot verantwoording geroep word, lui die verklaring. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.