Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Myeni-saak: Regter mor oor mors van tyd

Die regsverteenwoordiger van Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die direksie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), was Woensdag diep in die sop omdat hy “die hof se tyd mors”.

Die SAL se besluit om nié ’n winsgewende kontrak met Emirates te sluit nie, word in die hooggeregshof in Pretoria bespreek.Foto: Reuters

Regter Ronel Tolmay het adv. Nqabayethu Buthelezi, SC, wat Myeni in die hooggeregshof in Pretoria verteenwoordig, behoorlik vasgevat omdat hy 15 minute laat in die hofsaal was ná ’n kort reses.

Tolmay hoor tans die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) se aansoek aan om Myeni tot misdadige direkteur te laat verklaar.

Adv. Caroline Steynberg, SC, wat Outa en Saapa verteenwoordig, het net voordat Sylvain Bosc, voormalige handelshoof van die SAL, getuienis kon lewer, gekla dat Myeni se span aanhou om die verhoor te vertraag.

Sy het Tolmay daarop gewys dat Bosc net tot Vrydag in Suid-Afrika is. Hy het spesifiek na die land gereis om getuienis in die saak te lewer.

“Ons het reeds twee dae dié week verloor weens die aansoeke wat gebring is, en nou word die proses verder vertraag. Ek wil die hof daarop wys dat ek geen keuse gaan hê as om my ondervraging te versnel nie,” het Steynberg gesê.

Sy het na Myeni se aansoeke om appèl teen vorige uitsprake verwys. Al die aansoeke is van die hand gewys.

LEES OOK: Dudu Myeni se verhoor begin uiteindelik

“Ek kan nie vra dat my kollega sy kruisondervraging vinniger doen nie, en ek doen dit ook nie. Ek wil net die hof bewus maak van die probleem,” het Steynberg gesê.

Tolmay het nie geskroom om almal wat by die saak betrokke is, aan te maan dat hulle betyds moet wees nie.“As ek sê die hof verdaag vir 15 minute, en ek is dan hier, dan verwag ek dat regsverteenwoordigers ook hier moet wees.

“Ons mors nou tyd,” het sy gesê.

Buthelezi se verskoning was dat hy gehoor het die hof het tot 11:30 verdaag, nie dat dit net vir 15 minute verdaag het nie.

Bosc en Nico Bezuidenhout, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, het getuig Myeni het gekeer dat die lugdiens in 2015 ’n winsgewende kontrak met Emirates sluit.

Bezuidenhout het vroeër die oggend getuig hoe Myeni oor ’n verloop van tyd gekeer het dat dié kontrak gesluit is.

Myeni het aangevoer dat dit voormalige pres. Jacob Zuma is wat gesê het die transaksie moenie gesluit word nie omdat hy glo bekommerd was daaroor.

Bosc en Bezuidenhout het getuig dat die SAL verskeie internasionale roetes nie winsgewend kon bedryf as hy nie ’n vennootskap met nóg ’n lugdiens sou sluit nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.