Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Myeni se nalatigheid kos SAL, SA miljarde’

’n Broodnodige en voordelige ooreenkoms met Airbus is ontspoor onder Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), se leierskap, maar sy het blykbaar nie die “gesag” gehad om dit reg te stel nie.

’n Airbus A330-300 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Dit het Vrydag geblyk uit kruisondervraging van Myeni deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) se regsverteenwoordiger, adv. Caroline Steynberg, in die hooggeregshof in Pretoria.

Myeni is vasbeslote dat sy onregverdig geteiken word vir besluite wat die SAL se direksie as ’n eenheid geneem het.

Steynberg voer aan as voorsitter was Myeni verantwoordelik vir die besluite van die direksie, al was daar ander moontlik skuldige direkteure betrokke.

“Outa en Saapa kan nie bekostig om elke SAL-direkteur as misdadig te laat verklaar nie, so ons is agter jou [Myeni] aan want jy was verantwoordelik vir hul optrede.”

Een van die ses kernbewerings teen Myeni gaan oor ’n multimiljardrand-ooreenkoms met die Europese vliegtuigvervaardiger Airbus waar ’n bestelling van 20 nuwe A320-vliegtuie van 2002 opgedateer sou word om die lugdiens geld te spaar en meer moderne vliegtuie as die aanvanklike bestelling s’n te bekom.

In September 2015 het Nhlanhla Nene, destyds minister van finansies, as skakel van die regering met die SAL sy goedkeuring gegee vir die lugdiens om voort te gaan met ’n ruilooreenkoms waardeur die SAL die bestelling kon wysig van 20 A320’s tot 10 meer moderne A330-300-vliegtuie sonder dat dit die lugdiens iets ekstra sou kos.

Myeni se direksie het in Maart 2015 dié gunstige nuwe ooreenkoms goedgekeur in afwagting van die regering se groenlig.

Maar toe dit kom vir bekragtiging van die ooreenkoms deur Myeni en die direksie het Nico Bezuidenhout, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, en Wolf Meyer, finansiële hoof, met leë hande die sperdatum sien verbyvlieg.

Die sperdatum was 18 September 2015, het Steynberg Vrydag gesê, en ’n paniekbevange Meyer het verniet keer op keer vir Myeni en die direksie probeer aanspoor om die ooreenkoms te bekragtig voordat Airbus gesê het dit is te laat om vervaardigingsdatums te wysig.

Meyer was ook duidelik in sy waarskuwing op 17 September, ’n dag voor Airbus se sperdatum, dat versuim om die ooreenkoms te bekragtig sou lei tot “rampspoedige gevolge” vir sowel die SAL as die regering en die land as geheel.

In daardie stadium het die SAL al vir meer as drie jaar verliese gely.

Maar die sperdatum van Airbus is toe wel misgeloop.

Gevra hoekom Myeni nie net ’n direksievergadering byeengeroep het om die ooreenkoms betyds te bekragtig nie, het sy bloot gesê enige ander direkteur kon dit gedoen het. “Moes ek die direksie dwing om byeen te kom?” vra Myeni.

“Jy is dan die voorsitter?!” het regter Ronel Tolmay geantwoord.

Steynberg het bygevoeg as voorsitter is dit juis Myeni se plig om die direksie te laat vergader.

Meyer het op 27 September nadat die sperdatum misgeloop is aan Myeni, die direksie en die bestuur geskryf dat die ooreenkoms nou teruggeval het op die voorwaardes van 2002 se ondertekening. Dit het beteken daar sou ouer vliegtuie verskaf word en dat die SAL onmiddellik sowat R240 miljoen moes betaal. Aflewerings sou geskied op die skedule wat in 2002 ooreengekom is, wat baie versnel is teenoor wat die SAL al vir jare probeer wysig het in die nuwe ooreenkoms.

Meyer het geskryf die ou ooreenkoms het dus nou geverg dat betalings van R1,2 miljard gemaak moet word in die daaropvolgende 18 maande – iets wat die SAL oor die drempel van wanbetaling op sy enorme skuldlas sou stuur.

Volgens Meyer sou dit nie net die SAL tot sy knieë bring nie maar ook ander staatsondernemings se kredietwaardigheid beïnvloed en dus baie erg wees vir die land.

Meer oor:  Airbus  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dudu Myeni  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.