Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Myeni-uitspraak ‘wys publiek kán stem dik maak’
Outa en Solidariteit is verheug oor die vordering wat gemaak word om korrupsie en wanbestuur by die SAL uit te roei.Foto: Reuters

Regter Ronel Tolmay se uitspraak dat dit in die openbare belang is dat die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) kan voortgaan met sy hofaansoek teen Dudu Myeni, wys die publiek kán sy stem teen korrupsie en wanbestuur dik maak.

Dit was Stephanie Fick, regsverteenwoordiger van Outa, se reaksie kort nadat dié uitspraak Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria gelewer is.

Myeni was voorheen voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se direksie.

Outa doen saam met die SAL-vlieëniersvereniging aansoek dat Myeni tot misdadige direkteur verklaar word. Myeni het egter in ’n hofaansoek gesê Outa het nie locus standi, oftewel die reg, om só ’n aansoek in te dien nie.

Tolmay was egter baie beslis daaroor dat Outa, as ’n organisasie sonder winsbejag wat die publiek verteenwoordig, alle reg het om ’n saak teen Myeni aanhangig te maak. Sy was immers aan die stuur van ’n staatsonderneming wat deur die publiek as belastingbetalers gefinansier word.

“Hierdie uitspraak is regtig ’n oorwinning vir die belastingbetaler. Dit wys direkteure kan vasgevat word,” sê Fick.

Dr. Dirk Hermann, die vakbond Solidariteit se bestuurshoof, sê ook die uitspraak gee baie spierkrag aan belastingbetalers.

“Belastingbetalers kan op ander maniere, buiten by die stembus, die regering tot verantwoordbaarheid dwing,” sê hy.

“Ons moet net selfvertroue begin kry. Ons moet besef ons is burgers van die land en nie onderdane nie,” sê Hermann.

Solidariteit het vroeër aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg gedoen om die SAL in sakeredding te laat plaas, maar nog voordat dié aansoek aangehoor kon word, het die SAL aansoek om vrywillige sakeredding gedoen.

Dudu Myeni. Foto: Argief

Eskom

Op die vraag of dié hofuitspraak en die druk wat Solidariteit op die staat geplaas het oor die SAL hulle nou gaan aanvuur om stappe teen Eskom te doen, sê sowel Fick as Hermann dit is nie nou ’n prioriteit nie.

“Ons het regstappe teen direkteure by Eskom oorweeg,” sê Fick. “Ons het egter ná gesprekke met Eskom se bestuur besluit om nie hiermee voort te gaan nie omdat hulle duidelik self stappe teen werknemers doen,” sê sy.

Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof en voorsitter van Eskom se direksie, het al herhaaldelik gesê dat stappe teen talle huidige en voormalige werknemers gedoen word.

Waar nodig sal dit deur regsoptrede opgevolg word.

Hermann sê hoewel sakeredding ook vir Eskom oorweeg kan word, is dit in dié geval nie so eenvoudig nie.

“Eskom is reusagtig. Dit is baie groter as die SAL. In die geval van die SAL het dit ons ’n jaar en ’n half geneem en honderdduisende rande gekos om die aansoek in te dien.

“Ons het ’n verslag van meer as 400 bladsye opgestel.

“Dit is ’n uiters intensiewe proses om ’n staatsonderneming aan te vat. Boonop moet jy as belastingbetaler 100% seker wees van jou feite. Jy kan nie bekostig om ’n fout te maak nie,” sê Hermann.

Hy sê in die lig daarvan dat Eskom André de Ruyter einde November as uitvoerende hoof aangestel het, moet hy eers die kans gegun word om werk te maak van die probleme voordat enige ander optrede oorweeg kan word.

Outa vs. Myeni

Fick het aan Netwerk24 bevestig dat Outa wel Myeni se hofdokumente oor Outa se beweerde lasterlike twiet ontvang het.

Myeni dagvaar Outa vir R8 miljoen weens dié twiet op 3 Oktober. “Ons het die hof reeds ingelig dat ons die dagvaarding gaan teenstaan. Aangesien die hof binnekort sluit vir 2019, gaan ons ons beëdigde verklaring hieroor eers in Januarie by die hof indien,” sê Fick.

Op die vraag of Outa Myeni sal dwing om hul regskoste te betaal soos wat Tolmay Donderdag beveel het, is Fick se reaksie: “Sonder twyfel.”

As Myeni sê sy kan nie betaal nie, sal Outa nie skroom om die balju te vra om beslag te lê op haar eiendom om die koste te dek nie.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Dudu Myeni  |  Korrupsie  |  Outa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.