Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ná 7 maande ‘ontgrendel’ Table Bay sy deure
The Table Bay in Kaapstad heropen op 30 Oktober sy deure.

Dis ’n vyfster-ervaring sonder die tierlantyntjies.

Nico Myburgh, bestuurder van die vyfsterhotel The Table Bay in die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad, lyk effens weemoedig wanneer hy verduidelik dat die tafels in die hotel se restaurante nie meer in prag en praal gedek staan nie.

Nico Myburgh, bestuurder van The Table Bay, een van die laaste hotelle van Sun International wat sy deure heropen. Gaste kan vanaf 30 Oktober kom oorslaap. Foto: Jaco Marais

Dieselfde wrang uitdrukking glip oor die gesig van Melissa Hugo, die uitvoerende huishoudster, wanneer Myburgh verduidelik waarom daar nie meer dekoratiewe kussings of bedspreie in die kamers is nie.

Alle veranderinge is aangebring om die plekke van aanraking te verminder – iemand kan nie in die verbygaan ’n glas, servet of kussingsloop besmet nie. Daarmee saam word die waargenome risiko van die oordrag van die koronavirus verminder.

Honderde nuwe protokolle en prosedures is hier, soos in die meeste ander hotelle in die land, ingestel om die gaste gemoedsrus tydens die Covid-19-pandemie te gee.

Maar die hartseer oor mooi gerangskikte servette of kleurryke dekens is net oppervlakkig. Myburgh raak regtig emosioneel wanneer hy vertel hoe gretig die hotel se personeel is om terug te keer werk toe. Baie van hulle beskou die 23-jarige hotel as hul tweede tuiste en hul kollegas, van wie hulle byna reeds sewe maande lank verwyder is, as familie.

Messegoed word in verseëlde koeverte op die restaurant se tafels geplaas en nie uitgepak sodat iemand per ongeluk in die verbygaan daaraan kan raak nie. Foto: Jaco Marais

Sun International se vyfsterhotel van agt verdiepings met sy uitsig op Tafelbaai aan die een kant en Tafelberg aan die ander kant, na gelang van jou kamer, gaan sy deure op 30 Oktober vir gaste heropen om oor te slaap. Dit sal die eerste keer sedert die staat van inperking op 27 Maart vanjaar wees.

Die hotel het wel verlede week ’n toetslopie gehad toe die Mej. SA-finaliste en hul entourage daar oorgebly het. Die kroningsgeleentheid – met ’n uiters beperkte gehoor – is ook Saterdag in die hotel gehou toe Shudufhadzo Musida van Limpopo as die wenner aangewys is.

Shudufhadzo Musida van Limpopo is verlede week in The Table Bay as Mej. Suid-Afrika 2020 gekroon. Foto: Jaco Marais

The Table Bay is een van die laaste hotelle van die Sun International-groep wat sy deure gaan heropen en dit gebeur ook geleidelik soos die vraag toeneem. Die personeel keer egter nie almal tegelyktydig terug werk toe nie.

As deel van die herstrukturering in die Sun-groep het die hotel ook egter heelparty werknemers in ’n kombinasie van vrywillige skeidingspakkette, vroeë aftrede en afleggings laat gaan. Die groep het nagenoeg 2 300 poste besnoei wat veral Sun City, The Maslow Sandton, Boardwalk, The Table Bay en The Wild Coast Sun geraak het.

In die sewe maande wat hy toe was, het die hotel darem nie net stof vergaar nie – baie van die gereelde instandhoudingswerk kon vroeër as gewoonlik afgehandel word.

Normaalweg is 80% van The Table Bay se gaste van die buiteland af. Die meeste besoekers kom van die VSA, gevolg deur Brittanje en ander Europese lande.

Die probleem is dat die VSA, Brittanje, Duitsland, Frankryk, Nederland en talle ander Europese lande tans op die “rooi lys” is van besoekers wat weens die hoë Covid-19-infeksiekoerse in hul lande nie in Suid-Afrika toegelaat word nie. Die lys word elke twee weke hersien, maar gegewe die tweede vlaag in Europa en dit wat as ’n derde vlaag in die VSA beskryf word, lyk dit onwaarskynlik dat The Table Bay binnekort baie oorsese gaste gaan verwelkom.

Wanneer dié teken op ’n deur aangebring is, beteken dit die kamer is ten volle skoongemaak en gesteriliseer. Geen werknemer mag die kamer binnegaan nie, anders moet dit weer skoongemaak en gesteriliseer word. Die eerste persoon wat die kamer dus betree, is die gas. Foto: Jaco Marais

Die Sun-groep is wel besig om al sy hotelle taamlik aggressief onder Suid-Afrikaners te bemark, met spesiale aanbiedinge om dit binne meer mense se begroting te probeer plaas.

Volgens Myburgh is daar reeds ’n stewige getal besprekings van die middel van Desember af.

Suid-Afrikaners is maar self uitgehonger vir ’n wegbreek en die Kaap is ’n gewilde bestemming; welvarendes gaan kwalik in die afsienbare toekoms in Provence wyn proe of in St. Moritz ski.

Na verwagting sal van die hotel se ander belangrike inkomstebronne, konferensies en gesellighede, ook nie vanjaar weer ten volle op dreef kom nie. Myburgh sê wel dat navrae al ontvang is van groot maatskappye – onder meer ’n bank en ’n versekeraar – maar dit is nou vir veel kleiner byeenkomste (vir 20 of 30 mense) eerder as groot konferensies (vir 250 gaste).

Covid-19-regulasies op vlak 1, waar Suid-Afrika tans is, laat konferensies van tot 250 mense toe, mits dit nie meer is as 50% van ’n lokaal se gewone besettingsvermoë beslaan nie.

Heelparty navrae vir die aanbied van kleiner troues, verjaardae en herdenkings is ook reeds ontvang.

Linne word verseël nadat dit gewas en gesteriliseer is. Foto: Jaco Marais

Vir eers is net een van die hotel se restaurante, The Lounge, oop. The Atlantic sal eers oopmaak wanneer die getal gaste beduidend toeneem. Normaalweg is nagenoeg 50% van die restaurante se gaste Suid-Afrikaners.

Die voorbereiding en die bediening van kos is ook baie anders, maar baie van die veranderinge is buite die oog van gaste in die kombuisopset. Sjefs se werkwyse is byvoorbeeld aangepas om sosiale distansiëring moontlik te maak. Gaste se messegoed en servette word wel aan hulle in ’n verseëlde koevert gegee.

Die baie gewilde teetyd het ook ’n groot verandering ondergaan. Pleks van ’n buffet waar gaste kan kies en keur tussen die lekkernye, sal die eetgoed individueel voorgesit word.

Met die hotelgaste wat terugverwelkom word, is die groot vraag wanneer die winkels in die Waterfront weer later gaan oopbly. Tans moet alle kleinhandelaars en selfs baie wegneemrestaurante om 19:00 toemaak. Selfs al bly aansitrestaurante later oop – so laat as wat hulle kan sodat hul personeel en gaste nog die middernag-aandklokreël kan nakom – voel die gewoonlik bedrywige toeriste-aantreklikheid steeds saans soos ’n spookdorp, veral gedurende die week.

Gaste wat baie kiembewus is en eerder self wil seker maak dat hul kamer ontsmet is, kan ’n selfdoen-pakket versoek. Foto: Jaco Marais

Myburgh sê hulle praat wel met die Waterfront-bestuur oor openingsure, maar ondernemings kan ook nie die koste dra om later oop te bly as daar nie genoeg besoekers is nie. Hy verwag dat die openingsure mettertyd verleng sal word, veral soos die skoolvakansie en Kersfees nader kom en binnelandse toeriste na die Kaap stroom.

Die Sun-groep se inkomste het in die ses maande tot einde Junie met 56% tot R3,7 miljard gedaal. Anthony Leeming, uitvoerende hoof, het toe gesê hy verwag dat dit twee tot drie jaar gaan duur voordat die invloed van die krisis werklik verby is.

Die sambreelliggaam vir die gasvryheidsbedryf, Fedhasa, het vroeër gepleit dat die regering sy rooi lys afskaf en die land se grense heeltemal vir toeriste oopgooi.

Fedhasa meen die lys is onnodig omdat besoekers in ieder geval moet bewys dat hulle negatief vir Covid-19 getoets is voordat hulle die land mag binnekom.

Die toerismebedryf rugsteun 1,5 miljoen poste en dra 8,6% tot die bruto binnelandse produk by.

  • Hanlie Stadler was ’n gas van The Table Bay as deel van ’n mediavoorlegging oor die hotel se protokolle wat vir die heropening tydens die pandemie ingestel is. Jaco Marais, ook ’n gas vir dié geleentheid en vir die dekking van die Mej. SA-kroning, het die foto’s geneem.
Meer oor:  Sun International  |  V&A Waterfront  |  Kaapstad  |  Covid-19  |  Reis  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Verblyf  |  Toerismebedryf  |  Hotelbedryf  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.