Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ná groot gesukkel keer lokomotiewe terug na SA
Die lokomotiewe word van die skip gelaai in die Durbanse hawe.Foto: GRINDROD

In wat eers soos ’n onbegonne taak gelyk het, het die vervoergroep Grindrod dit reggekry om 20 van sy lokomotiewe wat sedert 2012 in Wes-Afrika gewerk het, weer terug in Suid-Afrika te kry.

Die ingewikkelde logistieke projek is binne vier maande afgehandel en is werklik merkwaardig, sê Andrew Thomas, uitvoerende hoof van Grindrod Rail.

Dit blyk Grindrod het 34 lokomotiewe gehad waarmee hy van 2012 tot 2017 ystererts vervoer het van die Tonkolili-myn in Sierra Leone na die Pepel-hawe.

Teen 2017 het die mynbedrywighede egter tot stilstand gekom. Die maatskappy wat die treinvervoerkontrak aangegaan het, het ook nie meer sy huur betaal en sy betalings vir instandhouding gedoen nie.

Grindrod het toe besluit om eerder die lokomotiewe terug te bring om dit in nuwe kontrakte te herontplooi.

Die regering van Sierra Leone het wel gevra dat tien van die lokomotiewe in Sierra Leone agterbly in geval die ysterertsmyn weer aan die gang gekry kan word.

Intussen lyk dit nie of Grindrod sukkel om die lokomotiewe weer aan kliënte te verhuur nie. Hy verwag dat die hele vloot lokomotiewe teen die middel van volgende jaar by nuwe kliënte sal wees.

Vier lokomotiewe is reeds by ’n nuwe huurkontrak in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hulle is saam met die 20 wat in Durban aangekom het, in Sierra Leone op die skip gelaai en is langs die kus van Wes-Afrika af by die hawe van Matadi afgelaai.

In Sierra Leone is die lokomotiewe op spesiale vragmotors gelaai vir die ompad-roete van 200 km van Lunsar na die hawe van Freetown.
Die onderstelle van die lokomotiewe moes eers verwyder word voordat dit per pad vervoer kon word na die hawe van Freetown.

Die eerste probleem met die projek was die hawe van Pepel in Sierra Leone wat te vlak is om die groot skip te huisves wat die lokomotiewe moes verskeep. Daar is ook nie ’n spoorlyn tussen Pepel en Freetown waar die groter hawe is nie. Die 24 lokomotiewe is eers 75 km per spoor na die dorp Lunsar vervoer waar die bakwerk van 72 ton elk van die wielstelle afgehaal is.

Die mobiele hyskraan wat dié swaar ligwerk moes doen, moes van die buurland Guinee ingevoer word. Die bakwerk en wielstelle is op spesiale vragmotors gelaai wat met ’n ompad van 200 km na die hawe van Freetown moes ry om swak brûe en ander versperrings mis te loop. Die ompad-roete na Freetown was ’n mengsel van teer- en grondpad.

In Freetown is die lokomotiewe weer gemonteer en op die skip gelaai vir die reis na Durban via Matadi.

Meer oor:  Grindrod  |  Sierra Leone  |  Vervoer  |  Mynbou  |  Trein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.