Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Naspers, Prosus styg fluks ná groot aankondiging

Die internetreus Naspers se aandeelprys het Woensdagoggend op die JSE met byna 3% gestyg tot R3 268,19.

Dit kom nadat hy saam met sy internasionale e-handelmaatskappy Prosus ’n aandeelruilaanbod aangekondig het.

Naspers gaan steeds die beherende aandeelhouer van Prosus bly. Foto: Getty Images

Prosus self, wat sy primêre notering op die Euronext-beurs in Amsterdam en ’n sekondêre notering op die JSE het, het ewe fluks met 3,57% tot R1 479,52 geklim nadat die beurs Woensdagoggend geopen het.

Die aandeelpryse het wel later die oggend effens teruggesak, maar is steeds hoër as Dinsdag se sluitingspryse.

Albei aandele het tans ’n koop-aanbeveling in ’n konsensuspeiling onder ontleders van die makelaarsdiens Sharenet.

Die styging in hul aandeelpryse is ’n aanduiding dat beleggers hou van die idee dat Prosus en Naspers ’n herbalansering in hul aandeelhouding en diskonto tot netto batewaarde wil probeer bewerkstellig.

Die voorgestelde transaksie ingevolge waarvan Naspers-aandeelhouers kan kies om 2,27 Prosus-aandele te ontvang in ruil vir elke Naspers-aandeel, sal ook na verwagting Prosus se vrylik verhandelbare aandele meer as verdubbel.

LEES OOK: Prosus wil 45% van Naspers hê in ruil vir aandele

Die twee maatskappye verwag dit sal bykomende belangstelling van internasionale beleggers na Prosus en Naspers op die JSE lok.

Veral Suid-Afrikaanse beleggers, wat sowat 44% van Naspers se aandeleregister beslaan, sal die grootste groep wees wat daaruit voordeel sal trek.

Deurdat hulle voortaan meer van Prosus se aandele sal besit, sal hulle hul portefeuljes geografies diversifiseer en groter blootstelling kry aan die tegnologiesektor en aan van die snels groeiende internetmaatskappye in die wêreld.

Prosus het aangedui hy gaan binnekort ’n buitengewone aandeelhouersvergadering hou waarop aandeelhouers moet besluit oor sekere aspekte van die voorgestelde transaksie.

Hoewel Naspers se belang in Prosus sal verklein wat betref sy besit van genoteerde N-aandele in Prosus, behou hy steeds dieselfde vlak van beheer in Prosus deur die uitreik van nuwe B-aandele in Prosus, het die groepe Woensdag aangedui.

Danksy die aandeelruiling sal Naspers se gewig in die JSE se aandeelhouersgeweegde indeks van die huidige sowat 23% tot om en by 15% verklein, wat die JSE minder blootgestel maak aan net een enkele maatskappy.

Wayne McCurrie, portefeuljebestuurder van FNB, sê op Twitter die idee is dat die transaksie meer regstreekse besit van Prosus-aandele deur buite-aandeelhouers sal bevorder. Prosus verhandel tans teen ’n laer diskonto teen sy netto batewaarde as Naspers, en die invloei van meer aandeelhouers van buite kan help om die oorhoofse diskonto teenoor netto batewaarde te verlaag.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
k
Meer oor:  Naspers  |  Prosus  |  Beleggings  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.