Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Naspers, Prosus val ná nuwe wette in China

Die tegnologiegroep Prosus en sy moedermaatskappy, Naspers, se aandeelpryse het Dinsdag verder geval weens kommer oor strenger regulasies vir tegnologiemaatskappye in China.

Bob van Dijk
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.

Prosus het ’n groot belang in die Chinese tegnologiereus Tencent.

Sy aandeelprys het Maandag 7,6% laer gesluit en Dinsdagoggend teen 11:00 is die aandeelprys al 8% laer.

Naspers se aandeelprys het ook Maandag 7% laer gesluit en is tot dusver Dinsdag 7,5% laer.

Die twee maatskappye is belangrik vir beleggingsfondse in Suid-Afrika omdat hulle so ’n groot deel van die plaaslike beurs verteenwoordig.

Bloomberg berig die daling in hul aandele kom nadat China stappe gedoen het om die land se tegnologiesektor wat opvoedkundige produkte verkoop, te beheer.

Dit sluit in om ’n verbod te plaas op winsbejag deur maatskappye wat skoolkurrikulums aanbied, of om kapitaal in te samel in die mark of hul aandele aan die publiek te verkoop.

“Die idee dat ’n regering die genoteerde private opvoedingsektor met een handtekening kan uitwis, is baie ontstellend,” sê Gary Booysen, ’n portefeuljebestuurder van Rand Swiss in Johannesburg.

“Baie beleggers wat gelok is na die maatskappye weens hul goedkoop waardasies en die opwindende vooruitsigte van groot wins wat kan kom, voel die pyn. Ek is seker talle mense bevraagteken nou die Chinese aandelemark as ’n lewensvatbare beleggingsbestemming.”

Prosus het swaar belê in tegnologie wat op opvoeding fokus.

Meer as $2 miljard is bestee aan aanlyn platforms wat onderrig en personeelopleiding verskaf.

Prosus hou die belang van 29% van Naspers in Tencent.

Die groep het in 2001 sy aanvanklike belegging in Tencent gedoen en het in 2019 die meeste van sy internetbates in Prosus geplaas wat apart genoteer is.

Reuters berig die strenger regulasies wat China aangekondig het vir tegnologiemaatskappye, het ook die ander tegnologie-aandele getref.

Die South China Morning Post het Maandag die stap beskryf as deel van die “tegnologie-oorlog” tussen Amerika en China.

Volgens Techcrunch.com het die gerugte oor die regulasies om opvoedkundige tegnologie te beheer, verlede week gesirkuleer, maar die naweek ’n werklikheid geword.

Dié webtuiste berig boonop beoog China ook regulasies vir kosafleweringsmaatskappye en vir Tencent Music.

’n Kennisgewing wat deur die Chinese regering uitgereik is, verbied ook oorsese beleggings in maatskappye wat skoolvakke aanbied.

Dit sal dit moeilik maak vir Prosus om van sy ambisies met opvoedkundige produkte in die land te vervul.

Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.



Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  China  |  Regulasies  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.