Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
NDZ se verlof tot appèl in twak-saak bekommer BAT nie

Die tabakgroep British American Tobacco (BAT) is nie bekommerd daaroor dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, teen die hooggeregshof in Kaapstad se uitspraak oor die tabakverbod tydens die inperking mag appelleer nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Sy Suid-Afrikaanse filiaal, BAT Suid-Afrika (Batsa), het in Desember saam met nege ander applikante ’n baie gunstige uitspraak gekry waarin dié verbod ongrondwetlik en ongeldig verklaar is.

LEES OOK: Rookverbod: NDZ ‘hét mag misbruik’

“Gegrond op dié uitspraak wat in ons guns gelewer is, is ons vol vertroue dat die appèlhof die Wes-Kaapse uitspraak sal handhaaf en in ons guns beslis,” sê Johnny Moloto, die hoofbestuurder van Batsa, in ’n verklaring.

Hy is nie verbaas omdat Dlamini-Zuma verlof tot appèl toegestaan is nie, maar wel teleurgesteld.

Batsa beskou dit as ’n vrugtelose hofsaak wat beperkte vooruitsigte op sukses het.

Die tabakverbod is al amper ses maande gelede opgehef.

“Dit is belangrik dat die hooggeregshof dit duidelik stel in sy uitspraak waarin die verlof tot appèl toegestaan is dat die minister met betrekking tot die applikante se grondwetlike argumente nie ’n redelike vooruitsig op sukses het nie.”

Volgens hom is die verlof tot appèl toegestaan vir ’n rede wat geen betrekking op die hofbevel oor die verbod het nie, naamlik vir die appèlhof om te bepaal of die woord “noodsaaklik” (’n vereiste vir die regulasies van die Wet op Rampbestuur) streng nodig is (soos die staat aangevoer het) of redelikerwys nodig is (soos die hooggeregshof in Gauteng in die uitspraak van die tabakgroep Fita gesê het).

Miljarde rande kan na die fiskus terugvloei deur die misdadigers in die tabakbedryf vas te vat.
Johnny Moloto

“Maar selfs as die appèlhof met die Fita-hofuitspraak saamstem, sal dit geen uitwerking op die uitslag hê nie, want die baie sterk grondwetlike uitsprake van die Wes-Kaapse hooggeregshof sal steeds staan. Die Wes-Kaapse hof het beslis dat die tabakverbod inbreuk maak op die reg op privaatheid, waardigheid, liggaamlike en sielkundige integriteit, eiendom en vryheid om handel te dryf, en dat hierdie skendings nie redelik of geregverdig was nie.”

Moloto meen die regering moet eerder sy geld bestee aan die bekamping van die smokkelhandel in sigarette wat deur die verbod versterk is, soveel so dat dit nou oor die land heen beskikbaar is.

“Miljarde rande kan na die fiskus terugvloei deur die misdadigers in die tabakbedryf vas te vat.”

Volgens hom het Dlamini-Zuma in haar hofaansoek aangevoer dat die verbod se effek op die belastingbetalende bedryf baie versag is omdat die oorgrote meerderheid rokers steeds in staat was om hul tabak onwettig te koop.

“Dit is ’n buitengewone betoog en dui op hoe deeglik die regering van die werklike uitwerking en gevolge van die verbod bewus is. Die minister erken dat die verbod uiteindelik in baie opsigte die wêreld se grootste smokkelmark in onbelaste sigarette geskep het.”

Moloto sê sindikate het die verbod gebruik om roetes vir die verspreidings en toevoer verder te vestig terwyl Suid-Afrikaanse rokers “in werklikheid geleer is om onwettige en onbelaste sigarette” te koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.