Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Necsa-geld onwettig geskuif

Onder toesig van die vorige direksie van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) is R115 miljoen van sy filiaal Pelchem se handelskuld onwettig en sonder toestemming in ekwiteit op Necsa se balansstaat omgeskakel.

Necsa het daarna die ekwiteit afgeskryf.

Die Atoomenergiekorporasie waar die NTP-vervaardigingseenheid gevestig is wat radioaktiewe isotope vir mediese gebruik vervaardig. Foto: AEK

Dit is waarom Necsa se jaarstate vertraag is, want die ouditeur-generaal wou nie dié rondskuif van handelskuld goedkeur nie.

Dit het Dinsdag geblyk uit ’n aanbieding deur dr. Rob Adam, nuwe voorsitter van Necsa, aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie.

Necsa is tans ’n lopende saak, maar as sake soos gewoonlik sou voortgaan sal hy nie een bly nie, het Adam gewaarsku.

Onder die vorige direksie was daar ’n siening dat die nuwe kernkragbouprogram binnekort sou realiseer en daar is met sekere nie-winsgewende bedrywighede voortgegaan in die hoop dat die kernkragbouprogram sou realiseer.

Nuwe sakemodel

Maar Adams meen ’n nuwe sakemodel is nodig om op kernnavorsing en tegnologie te fokus.

Hy meen die huidige Necsa is nie volhoubaar nie. Die instelling moet sy basiese vermoë herbou. Die geld wat Necsa van die regering gekry het is nie gebruik vir navorsing en ontwikkeling nie, maar is gebruik om verlieslyende bedrywighede aan die lewe te hou.

“Ons moet bly by waarmee ons goed is,” het Adam gesê.

Die kabinet het Adam en ’n nuwe direksie in Desember aangewys.

Hy het toegegee daar is ’n krisis by Necsa. Necsa se salarisrekening is meer as R800 miljoen per jaar, maar die toekenning van die departement van energie is R530 miljoen.

Dr. Kelvin Kemm, vorige voorsitter van Necsa, is saam met die res van die vorige direksie afgedank en Phumzile Tshelane, uitvoerende hoof, is einde verlede jaar geskors. Hulle bestry dié afdankings en skorsing in die hof, en ’n amptenaar van die departement van energie het Dinsdag aangedui die hofsaak kom in Junie voor.

Adam het self van 2006 tot 2012 as uitvoerende hoof van Necsa gewerk. Don Robertson, wat 35 jaar vir Necsa gewerk en twee jaar gelede afgetree het, is in Desember as waarnemende uitvoerende hoof in Tshelane se plek aangestel.

Radio-isotope

Tina Eboka, besturende direkteur van die Necsa-filiaal NTP, het verduidelik NTP het nie regtig kliënte verloor tydens die sluit van die aanleg verlede jaar weens veiligheidskwessies nie. Dit is omdat kontrakte van drie jaar gesluit word. NTP het wel markaandeel verloor. NTP kon steun op twee ander verskaffers om aan sy kliënte produkte te lewer.

NTP vervaardig radio-isotope vir kankerbehandeling en voer dit wêreldwyd uit. Dit is een van net vier groot verskaffers van dié mediese radio-isotope.

Produksie is in November verlede jaar hervat nadat die nasionale kernreguleerder NTP se stelsels goedgekeur het.

Personeel is opgelei in ’n veiligheidskultuur en in nuwe stelsels wat ingestel is.

Adam het toegegee NTP se inkomste het gedaal weens die sluiting – sy inkomste het van R168,9 miljoen in 2017 tot R108,4 miljoen gedaal.

Verlies

Mbali Feka, finansiële direkteur van Necsa, het gewys op ’n verlies van R62,6 miljoen vir Necsa op maatskappyvlak vir 2018, teenoor ’n verlies van R79,7 miljoen in 2017. Pelchem het ’n verlies van R35,5 miljoen gely in 2018. Pelchem vervaardig gespesialiseerde chemikalieë.

Fikile Majola, voorsitter van die portefeuljekomitee oor energie, het gekla direksies van staatsinstellings kom telkens verslag doen oor sake waaroor hulle nie toesig gehou het nie, en hulle verontskuldig hulself deur bloot skouers op te trek en te sê “dit was nie ons nie, dit was die vorige direksie”.

Risimati Mavunda, ANC-lid van die komitee, was krities oor die nuwe direksie, want ’n “ou kar met ’n nuwe laag verf is steeds ’n ou kar”.

Meer oor:  Necsa  |  Finansies  |  Ouditeur-Generaal  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.